Jongste aktiwiteit:

Nee, vertel jy maar… (702 Woorde)

My oom Albert was ‘n storieverteller van formaat. Hy kon enige gebeurtenis binne én buite die familie, met gesag in enigiets van ‘n staaltjie tot ‘n kleurryke vertelling omtower.

Sinsnedes soos “dáárvan kan jy my niks vertel nie!”, “wag tot jy hiérdie storie hoor!” en “dis nog niks, laat ék jou vertel!” het altyd luidkeels opgeklink as grootste aanduiding dat daar ‘n sappige storie oppad is.

My kindertyd was gevul met familie samekomste waar ons gekuier, geëet en nogmaals gekuier het. Na die hoofmaal het ons kinders ons gewoonlik skaars gemaak en buite gaan besig hou. Wanneer die son agter die horison verdwyn en die langarm skadu’s ons weer huis-in gejaag het, was dit net mooi die tyd dat oom Albert gereed was vir groot gesels. Amper sonder uitsondering het iemand net voor ons ingekom het, probeer om te vertel van iets wat by die huis, die werk of die bank gebeur het.

Wanneer ons dan vir oom Albert hoor sê: “Dis nog niks, laat ék jou vertel…”, het ons stil-stil ingesluip en uiteindelik opgewonde en blink-oog op die mat gaan sit, gereed vir die groot vertel.

Die ongeskrewe reël was egter dat hierdie ook die aankondiging  was vir  namiddag koffietyd. My ma het gaan koffie maak en sy vrou, tannie Eileen, het die soetkoekies aangedra. Wanneer hulle in die deur verskyn het, het oom Albert afgeglip van sy sitplek tot op die mat, sy regterskoen uitgetrek en langs hom neergesit. Dan het hy sy koffie ontvang en ná ‘n lang toe-oog sluk en ‘n behaaglike “lekker!”, het die vertelling begin.

Almal, van groot tot klein, het aan sy lippe gehang. Daar het dan en wan ‘n proes opgeklink van lekkerte en ander kere is die lagtrane sommer met hele hande van gesigte af gevee. Die einde van die storie het altyd te vinnig gekom en almal was openlik teleurgesteld  wanneer hy klaar was. Die heel kleintjies was  gewoonlik vroeg al aan die slaap gesus deur oom Albert se diep, ryk stem. Ons ouer kinders het nog lank by hom gesit terwyl hy sy koffie klaar gedrink het en dan traag opgestaan wanneer ons ouers ons kom roep het om huiswaarts te keer.

Ek het eenkeer vir my ma gevra: “Hoe kry oom Albert dit reg om stories so mooi te  vertel?”

Haar antwoord was: “Hy het die talent om gewone goed wat met gewone mense gebeur, op ‘n kreatiewe manier oor te vertel.”

En: “Waarom is tannie Eileen altyd so stil?”

My pa se droë antwoord was: “Jou oom wil altyd alles self vertel en hy is een van min mans wat altyd die laaste woord inkry!”

Een van die laaste kuiers waar oom Albert en tannie Eileen teenwoordig was, voor sy dood, is een waaroor ons nou nog gesels. Ons stilstaan en onthou van hierdie kuier geskied gewoonlik met ‘n traan in die oog en ‘n hartseer glimlag.

By hierdie spesifieke kuier het iemand ‘n opmerking gemaak oor een van die niggies in die familie se opkomende huwelik. Die aanstaande man van die niggie was maar vreemd vir almal, aangesien hulle ver gewoon het en nooit by familiekuiers was nie.

Toe die volgende persoon opmerk: “Die aanstaande is glo van Duitse afkoms, ek wonder hoe hulle by mekaar uitgekom het?”, het oom Albert dadelik gesê: “Nee, ek weet nie, maar laat ek julle eerder vertel hoe dit gekom het dat ek en Eileen afgehaak het.”

Die woord is gespreek. Ma het opgestaan vir die koffie en tannie Eileen vir koekies aandra. Ons kinders het versigtig en tjoepstil, amper soos wanneer jy ‘n baba aan die slaap gesus het en só moet neerlê dat hy nie wakker word nie, nader gestaan. Toe die koffie en koekies kom en oom Albert en sy skoen hul plek op die mat kry, het ons opgewonde en blink-oog voor oom Albert gaan sit. Nou nog net die toe-oog sluk en die “lekker!”

Op hierdie noot het die storie toe nié begin nie…

Oom Albert het, teen die aard van die gewone verloop van gebeure, begin rondskuif en nog ‘n sluk van sy koffie geneem.

Toe het hy ons almal so skrefies-oog bekyk en gesê:

“Nee wag, Vrou, vertel jy maar vir hulle. Jy vertel hiérdie storie baie beter as ek.”

Nodeloos om te sê, tannie Eileen het die kans met albei hande aangegryp en vir ten minste hierdie keer, die laaste sê ingekry.

© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2026




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed