Geduld
Geduld
Wanneer jy op ’n plaas bly, is reën die ding waaraan jy die meeste dink. Dis die ding waarvoor jy die meeste bid en waaroor almal praat. In elke gesprek sal die onderwerp aangeroer word, selfs al bly mense in die dorp, want die dorp te besigheid hang baie af van die reën wat op die omliggende plase val. As dit goed gaan met die boere, gaan dit goed met die winkel- en koöperasie-eienaars. Daarom wil almal altyd weet of jy al reën gehad het of hoeveel jy gehad het, of hulle deel raad en bemoedigende woorde wanneer die reën wegbly. Dit bind ’n gemeenskap saam soos min ander dinge, want sonder reën kan niemand nie. Dis nou een ding wat ons almal in gemeen het, maak nie saak watter kerk jy bywoon, vir watter party jy stem of wat jou velkleur is nie.
Elke nuwe somerseisoen wag ons angstig op reën. Party wag vir ’n eerste bui, ander wag vir ’n opvolg bui om die ontkiemde saad aan die lewe te hou. Ons wag. Dis daardie wag wat die woorde van jou lippe af wegvee sodat jy kliphard met jou hart bid terwyl jy dooie diere wegry en aanhou probeer om geduldig te wag, al sien jou oë dat die bloedige son die moedige grassies wegbrand. Selfs al sluit jy jou oë, sien jy dit.
Die suide van Namibië is ’n dankbare stukkie aarde. Dit vra nie baie om ’n totale gedaanteverwisseling te ondergaan nie. Dit vra net bietjie reën en opvolg wat betyds is. Dan skiet die agdaggras tussen die klippe op tot dit soos ’n sagte tapyt lyk wat jou hart in jou borskas laat bons en jou oë nat maak. Die ghabbabosse blaas op hulle wit trompette, heldergeel botterblomme weerkaats die middagson totdat daar ’n goue gloed oor die veld hang en jy hoor weer die roep van kolganse met sonsopkoms. Jy sien vreugde oral waar jy kyk. Die diere loop sommer al die dag na die eerste reën verby die lekbakke, kompleet asof dit gras gereën het. By hulle het ek baie van geduld en durf geleer. En van aanvaarding.
En so is boere ook. By hulle het ek die meeste geleer. Ek weet geduld is ’n vrug van die gees, maar by boere het ek dit met my eie oë gesíén. Ek het gesien dat geduld aangeleer moet word, want dit kom nie natuurlik vir ’n mens nie. Ek het gesien dat opstandigheid jou niks in die sak bring nie en dat jy moet aanhou doen wat jy moet doen, al is dit nie lekker of maklik nie. Ek het ook gesien dat moeg nie moedeloos beteken nie. Ook dat jy vir die natuur moet luister en fyn moet kyk om die tekens raak te sien. Boere lees die natuur soos ’n boek en kyk uit vir hierdie tekens: Bloukopkoggelmanders wat gate grou, miershope wat hoër gebou word, vinke wat luidrugtig nessies weef en watervoëls wat verward rondtrap op droë grond. Dan wag hulle nog ’n rukkie. Nog net ’n rukkie, dan is alles weer mooi …
Ek bid dat elke boer se geduld beloon sal word met groen veld, want daar is geen verlange wat blywend onvervuld bly nie. Ek bid dat daar genoeg reën vir elkeen sal kom wat so noukeurig notisie neem van elke leidraad wat die veld gee, dat hulle verwagtinge oortref sal word en dat daar kalmte in hulle binneste sal nesskop wat alle verstand te bowe gaan.
© Hester Steenkamp, 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Oktober 2025 – OOP projek