Jannie Fiskaal
Jannie Fiskaal (1664 woorde)
Kortverhaal
Die son trek al water toe klein Jannie Fiskaal se boeksak met ‘n dowwe plof duskant Wagter op die bed neergevoeter word. Tjank- tjank wip Wagter van die bed af terwyl Jannie vir hom skewebek trek. “Aag vir wat lê jy ook jou dae en ómslaap op my kooi? Jy kan later huil daaroor!” Hy slaan soos ‘n os op sy deurmekaar bed neer dat jy net die stof op sy skoolskoene in die lug sien optrek. Jannie is lank, buitengewoon lank vir sy ouderdom; sy enkels steek ver by die voetenent van sy bed verby!
Klein Jannie Fiskaal is ‘n skrander graad agt seun met groen oë en ‘n weerbarstige blonde kuif. Daar sit ‘n ry sproete dwarsoor sy neus en tussen sy middelste twee voortande is ‘n gaping so groot dat n stewige straal water daardeur gespoeg kan word. Hy loop in ‘n kleindorpie skool, waar daar net ‘n raps oor die honderd leerlinge tans ingeskryf is.
Jannie se pa is die dorp se Geagte Posmeester; Hy is die enigste mens op die dorp wat selfoonopvangs het vanwëe die ligging van hulle huis. Sien, hulle bly heel bo op die punt van ‘n klipperige kop. Sy pa hanteer die hele dorp se foonoproepe, sms’e, whatssapp- groepe en emails.
Die mense van die dorp noem hom “Jan Fiskaal” omdat hy so maer soos ‘n kraai is en so kiertsregop soos ‘n fiskaal loop. Maar hulle hou van hom want hy is hulle enigste kontak met die buitewêreld.
Sy ma doen die Prokureers se boeke en sy is altyd vrééslik besig. Hulle woon ál Klein Jannie Fiskaal se jare op die dorp, en Klein Jannie Fiskaal weet nie eers van ‘n wêreld buite die dorpsgrense nie!
Pa Janstoot Klein Jannie se kamerdeur versigtig oop. Klein Jannie staar boontoe, dakwaarts toe.
Pa Jan leun teen die kosyn van die kamerdeur waar jare se lae verf soos ‘n kaleidoskoop afsplinter.
“So?”
Die groen van Klein Jannie se pupille draai duskant toe terwyl sy kop in dieselfde posisie bly.
“So wat, Pa?”
Pa Jan se duim skilfer nog ‘n paar repe verf van die kosyn af. “Ek meen maar net, ek sien jou en Wagter se bakkies staan ewe skeef vandag….”
Die kop word gordyn se kant toe geruk dat pa nie die storm in die groen moet sien nie. “Dis alweer die boelies in die klas.”
Die sug spreek boekdele. Dan bars die storm in volle geweld los:
“Jannie Fiskaal so maer soos die vlagpaal!”
“Jannie Fiskaal se vel lyk soos Tarentaal!”
“Jannie Fiskaal so lank soos ‘n spoorwegplank!”
Ma het sy uitbarsting ook gehoor. Die laaste sin het bietjie te hard uitgekom. Maar die snot sit te dik in klein Jannie Fiskaal se keel om nou nog te probeer om korrek te artikuleer. Sy kom staan vadoek oor die skouer teen die ander kant van die kosyn. Jannie hoor haar sug. Klein Jannie weet sy maak nou grootoog vir sy pa dat pa Jan sy grootmeneer skoene nou moet aantrek en sy kind moet moed in praat.
Maar pa Jan Fiskaal is nie ‘n man van baie woorde nie, sy praat raak gou op. Sy hart sit in sy dóén, Dit wéét klein Jannie.
Klein Jannie Fiskaal draai sy kop na die kosyn se kant toe.
Pa Jan kug ongemaklik.
“Sien ek is ok maar so lank soos ‘n Sondagmiddag.”
Ma rol haar bruin oë boontoe asof sy vra vir hulp en draai om om te gaan kosmaak.
Klein Jannie sien hoe hy eers die woorde proe voor hy dit sê. “Ek is my lewe lank die spot van die dorp. Fiskaal. Dis onse van boetie, en dis die mense wie ons is. Die lang mense van die dorp.”
Klein Jannie snork vererg deur sy neus. “Ek wil dit nie hoor nie. Ek wens my van was…Poggenpoel of Fredericks soos die dokter aan die bodorp…maar Fiskaal…ek haat die van!!
Ma kom help.
“Wat Pa bedoel is dit: jy moet dit van jou rug laat afrol soos water van ‘n eend se rug af. Moenie op hulle fokus nie, dink aan wie jý is en watter besondere talente en gawes die liewe Here jóú gegee het. Wie weet, hy het jou hoeka lank gemaak vir ‘n spesifieke rede!!
Ek wed jou die Here dink nóú, in hierdie oomblik, aan die werk wat Hy vir jou het! Dink net, jy en jou pa kan alles altyd éérste sien, die kort vettes van die dorp sien alles altyd ná die maal. Ma lag vir haar eie grappie. Klein Jannie fiskaal se mondhoeke trek ook al verby honderd grade, al wìl hy nie smile nie.
Hy staan sleepvoet op. Slaan ‘n halwe arm om pa Jan. “Sorry pa.” Hy kyk sy ma aan. Dis sý wat die rye sproete vir hom gegee het! Kyk hoe lyk háár neus! Praat van tarentaal! Sy kreukel haar neus vir hom. Hy lag. Klein Jannie fiskaal se wêreld lyk weer heel. So op ‘n manier.
Ma en pa kyk by die venster uit toe hy en Wagter later die veld in vaar. Hulle kyk vir mekaar en lag in mekaar se oë op. Toe ons nog kinders was…
Klein Jannie Fiskaal stap ‘n ent langs die grootpad – die dubbelpad wat sý dorpie met die groter dorpe verbind. Dis taamlik besig, daar is baie vragmotors wat groot vragte hout vanaf hulle dorpie vervoer. Wie weet waarheen! Klein jannie fiskaal raak al bekommerd. Die bome rondom hulle dorp raak ál hoe minder.
Al geselsend loop klein Jannie Fiskaal saam met Wagter, terwyl hy met hom redeneer oor die wysheid van die mensdom, oor aardverwarming, oor die koolstofvoetspoor wat hy los, en nog talle ander baie belangrike sake.
Jannie sien probleme raak, hy wonder daaroor, en hy los dit op. Hy weet net nie wat hy gaan doen om sy koolstofvoetspoor so klein moontlik the hou nie, want hy sukkel met die hele herwinningsidee. Daarom loop Jannie ver paaie om al die rommel wat vragmoters en motors langs die pad gooi op te tel om iets bruikbaars daarvan te maak. Dié verkoop hy in die straat voor hulle deur om sakgeld vir data te kry. Dis die enigste manier wat hy het om in voeling met die wêreldsake te bly. Die internet is sy BFF.
Klein Jannie weet net nie wat om met al die gemórs te doen nie!Jy weet, die goed wat nie herwinbaar is nie… Hy gooi dit altyd op die dorp se dumpingsite, maar voel so sleg daaroor dat hy soms in die nag opstaan en dit gaan terughaal en in die pakkamer bêre. Pa slag hom af as hy sien wat alreeds daar opgegaar is!
Jannie dink oor die boelies in die skool. Niemand kan nét sleg wees nie. Iéwers moet daar tog iets bruikbaars en van nut in hulle samestelling wees. Klein Jannie is seker mense is herwinbaar. As hulle tog net nie so erg met hulle geraasbesoedeling was nie!!
Soos wat klein Jannie Fiskaal weer aan die slegte ervaring in die klas terugdink, skop hy ‘n stuk gerolde koerantpapier met sy skoenpunt op. Wag… Daar is iets in. Wagter raak ook nou opgewonde en begin met sy pote krap-krap aan die koerantpapier. Klein Jannie gaan sit op ‘n klip en vou die pakkie oop.
Klein Jannie Fiskaal haal sowaar‘n weggegooide kunswerk uit die ou vervrommelde stuk koerantpapier! Dit is ‘n halssnoer vanuit hout gemaak, in die vorm van ‘n kruis, met ‘n diamant in die middel. Hy fluit ‘n lang verbaasde fluit. Hy hou die halssnoer teen die son. ”Hete ou Wagter, hier slaat ons sowaar ‘n jackpot!!” Wagter se stert swaai met mening en hy kwyl bolle slym van pure opgewondenheid. Klein Jannie fiskaal sit op sy hurke en vryf Wagter tussen die ore. “So voel Krismis my Honne, so voel Krismis!!”
Nou bestudeer hy sy fonds se detail. Daar is iets op die agterkant van die kruis in die hout uitgekerf. Klein Jannie Fiskaal draai die kruisie om om in die son te kyk.” L…I…E…F…D…E” Hy kyk verwonderd na Wagter. Wagter sit sy poot op Klein Jannie se knieg so al asof hy nét so verwonderd oor die ontdekking is.
“Dit spel dan Liefde, Wagter!”
Dan raak klein Jannie Fiskaal se hande om die halsnoer stil. “Ek weet wat dié is, wagter. Dis die Here wat my laat weet – Hy het my life, en hy het vir my ‘n werk. Hý het die skat op ons pad gesit ou Wagter, dat ek moet weet hy sien my. En hy wéét van die gemors wat ek nie weg kry nie. En hy weet hoe sukkel ek met die boelies. Ek is sy diamond. So lank soos ‘n paal en al.”
Nou is sy voete vlugtig. Hy en Wagter jaag soos die wind. Klein Jannie se hemp bol en die slym waai in slierte by Wagter se bek verby. Hulle stop in ‘n stofstreep by die agterdeur se stoep. Hulle asems jaag, maar daar is ‘n blos op Klein Jannie Fiskaal se wange en vuur in die groen oë.
Ma staan in die kombuis en eiers klits. Sy gooi ‘n kop vir pa Fiskaal wat by die kombuistafel sit en sms’se stuur.
“Kyk, die kind het weer kleur in sy wange, die buitelug het hom goed gedoen!”
Klein Jannie Fiskaal trippel by hulle verby en neurie ‘n verspotte liedjie in die gang af. Hy buk by sy bed en skuif sy geheime kissie onder sy bed uit. Hy haal die sleuteltjie wat aan ‘n kettingkie om sy nek hang af en sluit die kissie oop. Hy plaas die kruisie versigtig daarin. Dan, met ‘n honderd en tagtig grade smile sluit hy die kissie weer toe.
Klein Jannie Fiskaal plof op sy bed neer. Sy skoene hang ver verby sy voetenent. Wagter spring baldadig langs hom op die bed.
“Klein Jannie fiskaal, jy is bedoel vir GROOT dinge. Moenie dat die gemors in die lewe jou laat struikel nie. Herwin. Alles is op die ou end bruikbaar.”
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2025 - OOP projek