Te kosbaar om klaar te vertel
“Onthou julle die dag toe Oupa Niklaas moes opstaan om oor sy sny brood te kon sien?”
Nog voordat iemand die storie behoorlik kon vertel, val ’n stem aan die oorkant van die tafel in:
“Dis nog niks. Laat ek jou vertel van Ouma Lilly op Kaiingbulte …”
So het dit altyd met haar stories gegaan. Die een herinnering het die volgende uitgelok, want Ouma Lilly was ’n vrou oor wie niemand net één storie kon vertel nie.
Sy was ’n Spreuke 31-vrou. Nie omdat sy ooit so na haarself sou verwys nie, maar omdat sy haar moue opgerol, die meelblik nadergetrek en eenvoudig aangegaan het met alles wat gedoen moes word. Oor haar eie swaarkry het sy min gepraat.
In haar jong dae het sy saam met Oupa Niklaas deur die Noord-Kaap getrek wanneer hy gaan boor het. Name soos Gordonia, Carnarvon, Grootdrink en die omliggende wêreld was aan haar bekend.
Oupa Niklaas was ’n boorman van beroep, ’n man wat met staal, stof en geduld water uit droë grond kon haal. Waar die boormasjien gestaan het, het hulle vir ’n tyd lank huis gemaak.
Hulle het vir ’n hele paar maande kamp opgeslaan naby Kaiingbulte, oos van die hoofpad deur die Boesmanland. Die naam het glo gekom van die tapyt kwartsklippies wat soos uitgebraaide kaiings oor die aarde lê.
Ouma Lilly het ’n ander verklaring gehad.
Volgens haar het die somerson mens en dier in daardie genadelose wêreld eenvoudig tot kaiings gebraai.
Soms het hulle op ’n plaas gebly waar die wind heeldag deur die kameeldoringbome gehuil het. Ander kere was dit op ’n kaal oop stuk grond waar daar saans net die lig van die vuur en die sterre was.
Oupa Niklaas het van vroeg tot laat by die boor gewerk, terwyl Ouma Lilly gesorg het dat daar kos was, die klere skoon was het en die kinders veilig en versorg gebly het.
Sy was ’n vrou van min woorde en het nooit van haar lewe ’n heldedaad probeer maak nie.
“’n Mens doen maar wat gedoen moet word,” het sy gesê wanneer iemand later wou weet hoe sy dit alles reggekry het.
Uiteindelik het hulle op Die Rant in Upington gaan woon. Oupa Niklaas het vir hulle ’n mooi witgekalkte steenhuis op die bult gekoop.
Daar het Ouma Lilly die huis aan die gang gehou en verder na die kinders omgesien. Daar was nooit tyd vir ledigheid nie. Haar dae was vol dinge van die huishouding. Wasgoed, kosmaak en vloere wat gevee en gewas moes word. Haar hande was gedurig besig om iets reg te maak, af te vee of reg te trek.
Wanneer Oupa Niklaas van ’n boorwerk af huis toe gekom het, het sy hom bederf asof hy maande weg was, selfs al was dit net ’n paar dae.
Dan het die kombuis vroeg reeds na gebraaide vleis, gestoofde groente en vars aartappelsuurdeegbrood geruik.
Ouma Lilly kon daardie soort boerbrood bak wat ’n mens laat vergeet het dat winkelbrood ooit bestaan het. Groot, ronde brode, goudbruin gebak met ’n kors wat kraak wanneer ouma dit sny.
Sy het ook nie suinig gesny nie.
Haar snye was dik genoeg om as bakstene te kwalifiseer.
Een middag het sy weer so ’n brood op die tafel neergesit.
Oupa Niklaas was pas terug uit die distrik. Hy het sy hande gewas, sy hare met die Brylcreem nat agteroor gekam en aan die kop van die tafel gaan sit.
Die kinders het reeds hulle hande onder die tafel uitgesteek, gereed om te begin eet sodra die tafelgebed afgehandel was.
Ouma Lilly het vir elkeen ’n sny brood afgesny. Toe sy by Oupa Niklaas kom, het sy met ’n besonder ruim hand gesny en die sny voor hom neergesit.
Hy het daarna gekyk.
Toe skuif hy sy stoel agteruit en staan op.
Ouma Lilly frons.
“Maar Niklaas, wat is fout?”
Hy het sy hande gevou, oor die groot sny brood probeer loer en ewe droog geantwoord:
“Net dat ek oor die brood kan sien voordat die liewe Heer die kos moet kom seën.”
Vir ’n oomblik was dit doodstil.
Toe bars al die kinders uit van die lag.
Ouma Lilly het hom ’n lang ruk staan en aankyk, die broodmes nog in haar hande. Daarna het sy die sny gevat, dit driftig middeldeur gesny en die een helfte teruggesit.
“Nou kan jy maar weer sit,” het sy gesê. “Die Here hoor jou net so goed van daar af.”
Jare later, toe Ouma Lilly reeds ’n weduwee was en alleen op Die Rant gewoon het, het die storie nog gereeld opgeduik wanneer die familie bymekaargekom het.
Die een het skaars klaar vertel, of iemand anders het reeds ingeval:
“Dis nog niks. Laat ek jou vertel van die dag toe Ouma Lilly …”
En so het die stories aangehou.
Van die keer toe sy ’n buurvrou se raad aangehoor en daarna droogweg gesê het:
“Ja, ’n mens kan dit seker ook só verkeerd doen.”
Van die dag toe iemand haar vra of sy nie bang was om alleen te woon nie.
“Waarvoor?” het sy geantwoord. “Die mense wat my ken, weet mos beter.”
Sy was skerpsinnig, maar nooit sommer net lelik nie. Haar woorde het ’n mens soms eers ’n paar sekondes later getref. Teen daardie tyd het die skewe glimlag om haar mond reeds gewys dat sy presies geweet het wat sy gesê het.
Op Die Rant het sy aangegaan soos sy altyd gedoen het. Sy het haar huis netjies gehou, kos gemaak, na die kinders en later die kleinkinders geluister en elkeen laat voel dat hulle spesiaal was.
Wanneer iemand haar bejammer het omdat Oupa Niklaas nie meer daar was nie, het haar oë net vir ’n oomblik sag geword.
Dan het sy haar skouers regop getrek en geglimlag.
“Hy het darem nou seker ’n boorgat gevind wat nooit sal droogloop nie,” het sy gesê.
Niemand het geweet of hulle moes lag of huil nie.
Gewoonlik het hulle albei gedoen.
Eers baie later het ons verstaan dat die stories nooit regtig daaroor gegaan het wie die snaaksste een kon vertel nie.
Elke “dis nog niks” was maar iemand se manier om nog ’n stukkie van Ouma Lilly te onthou soos sy was.
Soos ’n dik sny warm boerbrood. Te groot om alleen klaar te eet.
En te kosbaar om ooit klaar te vertel.
©MarleneErasmus
(1054 woorde)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.