Eiland van orde
Toe haar siel-mens sterf, het chaos haar verswelg. Dit was asof die hele huis, elke vertrek, elke hoek, sy afwesigheid geskree het. Hy was die orde-mens, die boksie-man; alles het ’n plek gehad, ’n ritme, ’n roetine. Sy was die sirkel-mens; sy het beweeg sonder vaste lyne, haar lewe was dikwels ’n warrelwind van begin sonder einde. Hy het haar gebalanseer. Sy boksies het haar sirkels in toom gehou.
Toe sy stem stil word, het haar wêreld onherroeplik gekantel. Sy het haar in die stilte van die huis bevind, ’n stilte wat harder gedreun het as enige geraas. Die pos het ongeopend op die tafel gelê, die skottelgoed het opgestapel en klere het in hope gelê. Sy het ure lank net op ’n stoel gesit, nie geweet hoe om aan te beweeg nie. Dit was asof die lewe haar sirkel drade uitmekaar getrek het en sy net nie die krag gehad het om selfs een draad reg te weef nie.
Die chaos was nie net in die huis nie, dit was ook binne haar, in elke weefsel, elke spier, elke sel van haar liggaam en in elke streep van haar denke. Elke dag het sy wakker geword met die gevoel dat sy reeds verloor het nog voor sy opgestaan het. Sy het koffie gemaak wat koud geword het, gewonder wat die punt was van enigiets. Hoe leef ’n mens verder as die een wat jou roetine was, jou anker, jou ordening, skielik net weg is?
Een oggend het sy weer half uit gewoonte, half uit moedeloosheid, na die bed gekyk. Sy kant was leeg, koud. Sy het onthou hoe hy elke dag sonder uitsondering die bed opgemaak het. Sy het altyd gelag en gesê: “Waarom die moeite? Jy gaan vanaand weer daarin klim.” Hy het haar net stil aangekyk en gesê: “Dis die eerste orde van die dag. Dit gee rigting.”
Sy het met swaar hande en ’n keel dik van trane die lakens reggetrek. Sy het die komberse glad gemaak, die kussings reggesit, presies soos hy dit sou doen. Dit het vir haar gevoel soos ’n onmoontlike taak, maar toe sy klaar was, het sy iets onverwags beleef; vir ’n oomblik het dit gevoel asof sy nie heeltemal sonder ‘n anker dryf nie. Sy het ‘n asemteug diep in haar longe ingetrek en daar het ‘n goddelike kalmte oor haar gespoel.
Dit het haar elke oggend roetine geword, al was sy nog half verlore in pyn, het sy die bed opgemaak. Daar was dae wat sy gesnik het terwyl sy dit doen, dae wat sy selfs sy lag in haar ore gehoor het. Maar elke keer as sy die kamer verlaat het, het sy teruggekyk na ’n klein eiland van orde in ’n see van chaos. Dis was asof sy, sy energie daar gevoel het, want dit was een van sy boksies, sy roetine en sy stem wat sê: “Dis hoe jy begin.”
Sy dink dikwels terug aan hoe hulle altyd gespot het oor hul verskille: hy, die boksie-man; sy, die sirkel-mens. Sy het altyd geglo dit beteken hulle is teenpole, maar nou besef sy: dit was nooit teenpole nie, dit was balans. Haar sirkels het sy boksies nodig gehad om nie weg te waai nie, en sy boksies het haar sirkels nodig gehad om nie te versmoor nie. Hy het gelag as sy deurmekaar was, en sy het haar oë gerol wanneer hy alles in dieselfde posisie in die laai gerangskik het. Hy het haar geleer dat orde nie die dood van vryheid is nie, en sy het hom geleer dat chaos nie altyd bedreiging is nie. Hulle het saam ’n ritme gevind.
Nou, selfs jare later, maak sy nog steeds eerste haar bed op. Nie omdat dit ’n plig is nie, maar omdat dit ’n gebed sonder woorde geword het. Dit is haar gesprek met hom, haar stille huldeblyk. Elke keer hoor sy, sy stem: “Dis die eerste orde van die dag.”
Chaos het haar lewe nie verlaat nie. Dit kom in golwe, soms onverwags, soms onverbiddelik. Maar sy het geleer om binne die chaos eilande van orde te bou. En dalk is dit die diepste les wat hy vir haar nagelaat het; jy wag nie dat die chaos verdwyn voordat jy weer leef nie. Jy begin leef binne die chaos met een netjiese bed, een bladsy in ’n boek, een klein handeling op ’n slag. En selfs sonder hom dans sy steeds in daardie patroon wat hulle saam geskep het; struikelend, rou, maar met genoeg ritme om weer asem te haal.
4 Kommentare
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir September 2025 – Orde uit chaos projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
Baie interessante stukkie prosa. Dit geniet.