Jongste aktiwiteit:

Gwe en Kaggen – Die Stryd om die Tyd (’n Boesman-mite uit die Kalahari, oor lig, trots en die kringloop van tydskadu’s en balans)

In die dae toe die wind nog die Kalahari se geheime gefluister het, het ’n wyse ou Boesman met die naam Gwe, alleen onder ’n reuse ou kameeldoringboom gesit. Die naam Gwe, beteken ‘die een wat terugkeer’. Gwe het die maan verteenwoordig.

Kaggen, die bedrieër-god wat in die gedaantes van ’n verkleurmannetjie, ystervark, mantis, slang of eland kan verskyn, het gesien dat Gwe alleen onder die kameeldoringboom sit. Hy het toe besluit om by Gwe te gaan sit.

Die aandlug was koel en die naghemel met sterre besaai. Gevolglik het Gwe en Kaggen besluit om ’n vuurtjie te maak.

Die geelrooi vlamtonge van die vuur het skadu’s, wat lyk soos dansende geeste op die hoë duine van die uitgestrekte Kalahariwoestyn, gewerp. Elke skadu was die draer van ’n storie wat oor tyd uit ’n spoor in die sand ontstaan het.

Kaggen, het na Gwe gesit en staar en hom verwonder aan die sagte glans van sy se gesig.
Gwe,” sê Kaggen geamuseerd, “Jy kry te veel lof van die mense maan-man. Die mense wag vir jou. Hulle sing elke aand om die vuur van jou en vir jou.
Hulle is vrolik want hulle kan in jou lig sing en dans terwyl hulle hande klap van blydskap.”

Gwe het net stil geglimlag, soos iemand wat nie alles wys nie. Sy gesig was nie volrond nie, want die helfte van sy gesig het in die duisternis van die Kalahari-nag om hulle gelê.
“Ek bring nie net lig nie,” sê Gwe saggies. “Ek bring tyd. Ek bring ritme. Ek bring rus.”

Kaggen het geskater van die lag. “Rus!” sê hy. “Jy speel seker, rus is vir die dooies.
“Ѐk bring lag, verandering, chaos! Sonder my is die wêreld net ’n groot, stadige drif sonder sprankel”, spog Kaggen, maar in sy hart het jaloesie begin knaag.

Kaggen, wat graag die sterre se ordening omgooi en die slang-god tart, het ’n plan bedink. Hy sou Gwe se lig steel, die tyd ontwrig en self die hemel laat draai volgens sy grille.

Een nag, toe die maan vol aan die hemel hang en die mense stories vertel het van liefde, geboorte en jag, het Kaggen ongemerk oor die duine gesluip. Hy het ’n groot swart driepootpot van obsidiaan, (vulkaniese glas), gemaak, en dit onder die lig wat Gwe uitstraal gehou. Die pot het begin om Gwe se lig in te trek. Gevolglik het Gwe begin verbleek. Sy ronde glans het begin kwyn.

“Wat is jy nou besig om te doen?” fluister Gwe benoud vir Kaggen.

“Ek gee die mense iets nuuts. Ek gee hulle tyd sonder verwagting. Tyd sonder herhaling. Ek breek die kring waarin jou spore loop,” sê Kaggen met ’n koggel-lag soos ʼn hiëna terwyl hy soos jakkals die nag in verdwyn.

Die maan het begin om sy glans in geheel te verloor en die Kalahari was in algehele duisternis gedompel. Die nag het skielik stom geraak. Doodse stilte het oor die Kalahari-nag gehang. Daar was geen naggeluide van diere soos uile wat roep en jakkalse wat tjank nie.
Die mense het verdwaas na mekaar in die donker begin soek terwyl hulle uitroep:
“Waar is die maan? Waar is ons tyd? Het die wêreld dan nou sommer so skielik opgehou draai?”

Sonder die maan het die die jagters hul oriëntasie verloor, die kinders hul drome. Die nag het nie meer stories gehad nie, net stilte en verwarring.

Maar in die diep hart van die Kalahariwoestyn, het Gwe gelê. Hy het nie geweeklaag nie. Hy het gelê en luister na die voetstappe van die voorvaders. Na die klop van drome. Na die lied van water onder die grond. Hy het geweet: waar daar ritme was, sal daar weer lewe wees.
Hy het homself begin opbou, nie uit lig nie, maar uit sy geheue. Uit die trane van ou moeders, uit die asem van die gras van die duineveld, uit die stilswye van ’n kalksteenklip, het hy sy vorm teruggevind.

Toe die maan opnuut verskyn, nie as ’n vol lig nie, maar as ’n dun boog, het die mense geweet: “Hy is terug. Hy het die donker oorleef. Hy het ons nie vergeet nie.”

Kaggen het weer probeer – hy het wolke gestuur, mis, selfs ‘n storm van sprinkane. Maar niks kon Gwe keer nie, want sy lig was nou nie net weerkaatsing nie, dit was herinnering. Elke stukkie van hom was gevorm uit mens en dier, sand en ster.

Op ’n nag toe Gwe weer vol geskyn het, het hy vir Kaggen geroep. “Kyk,” sê hy, “ek het jou nie gehaat nie. Ek het verstaan. Jy wou nuwe dinge doen. Maar sonder balans is nuwe dinge net lawaai.”

Kaggen, het met ’n skaam glimlag net sy skouers opgelig en gesê: “Jy het gewen my vriend.”

Maar Gwe het sy kop geskud en gesê: “Niemand wen nie. Niemand verloor nie. Ѐk keer terug, jý ontwrig. Saam vorm ons die lied van die wêreld.”

Sedertdien hou die mense die maan dop, nie net om te weet wanneer om te plant of te jag nie, maar om hulself te herinner dat elke lig ook ’n skadu het en dat elke skadu lig dra, En in die stryd tussen Gwe en Kaggen leef die balans van alle dinge.
——————————————–ooo00ooo————————————————–

©Pieter Mostert

Voetnotas:
Die simboliek en Interpretasie van hierdie storie is die volgende:

Gwe simboliseer herinnering, ritme, sikliese tyd, hy is verteenwoordigend van orde, stilte, verdieping.
Kaggen is die bedrieër, draer van verandering, chaos en vernuwing, maar ook van verwarring en ontwrigting as dit nie begrens is nie.
• Die obsidiaanpot is ’n metafoor vir traumatiese vergete geheue, donker en glad, maar aantreklik vir kragte wat lig wil verswelg.
Die stilte van die nag verteenwoordig ’n verlies aan kosmiese en kulturele oriëntasie.
Die heropbou van Gwe uit geheue is simbolies van hoe gemeenskappe hulself kan herstel ná verlies, nie uit materiële goed nie, maar uit herinnering, storie en spirituele verbondenheid met die aarde.

Ek het hierdie insiggewende storie kon saamstel uit die bestudering van die volgende bronne:-
                                                         Bronne
• Guenther, M. (1999). Tricksters and Trancers: Bushman Religion and Society. Bloomington: Indiana University Press.
• Biesele, M. (1993). Women Like Meat: The Folklore and Foraging Ideology of the Kalahari Ju/’hoan. Johannesburg: Witwatersrand University Press.
• Barnard, A. (2007). Anthropology and the Bushman. Oxford: Berg.
• Mathes, M. (2018). “The Moon in San Cosmology: Cycles of Death and Return.” African Spiritual Traditions, vol. 12(3), pp. 215–229.
——————————————–ooo00ooo—————————————————
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1099]




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed