Jongste aktiwiteit:

Om te wag vir tyd

Deur soek-soek te ry, het jy daarop afgekom. Weggesteek in ‘n half industriële gebied, tussen ‘n paar ou huise, het die onverwagse helder kersfees-liggies jou in die donker verwelkom. By die klein restaurantjie het ‘n Italiaanse gesin jou hartlik binnegenooi en ‘n bordjie met ‘n paar snye brood voor jou neergesit. Komende uit ‘n familie wat graag brood bak, het ek dus ‘n maatstok gehad om die Italianers se brood mee te meet. Die einste brood, vol yslike gate en ‘n kors wat taai weerstand gebied het met elke hap, het twintig jaar gelede bygedra tot die verruiming van my eie verwysingsraamwerk, wat brood betref; en my jare later bewus gemaak van ‘n ewige onnodige gejaag na nêrens.

“Ek gaan eendag súlke geurige brood bak, waarvan die aroma jou mond laat water,” het ek dit daardie aand by my emmerlysie gevoeg en gewonder hoe hulle die yslike gate in die sagte brood gekry het. Hoe bak jy só ‘n taai kors wat met elke hap jou tande opdraand gee?

“Chah-báht-ta,” het die Italiaanse vrou my vriendelik probeer help. “Ai bake-a eet weet maach mor wah-tehr … maach mor way-tin forr theh ray-eet tah-eem.”

Eers tien jaar later vind ek uit dat meel en water die leek se alchemie vir hemelse brood kan wees en Brolloks word gebore. Ons gesin ontwikkel ‘n verhouding met die lewendige, gefermenteerde suurdeegplantjie wat na baie pogings en die samewerking van mens en mikrobes, geduld en tyd, die spilpunt geword het waarom ons daaglikse brood begin draai het.

Ciabatta was egter ‘n perd van ‘n ander kleur en die brood met die groot gate het vir my bly ore aansit. Die resep vereis 75% hidrasie en 25% meel wat deeglik saam met Brolloks gemeng moet word. Keer op keer stoei ek met die nat, taai mengsel wat genadiglik nie geknie mag word nie. Op Youtube lyk dit so maklik om die elastiese nat deeg op ‘n tafelblad uit te dop en dan met ‘n paar goedgeoefende handbewegings perfekte ciabattas te vorm. ‘n Rukkie later verskyn goudgeel brode met krakerige korse, plek-plek donkerbruin gebrand uit die warm oond.

Die dag toe ek begin verstaan dat Ciabatta-brood ‘n lewenswyse moet wees, het ek die lig gesien. Ek moes geloof in Brolloks hê en glo dat hy nié in die nat mengsel versmoor of verdrink het nie. Die dae toe ek elke drie ure onder die klam vadoek ingeloer het, net om te sien dat daar nog niks gebeur het nie, was verby. Geen resep vertel jou van die vierde bestanddeel nie. Jy moet leer om te wag vir die tyd. Dit is tyd wat die aroma en smaak van ‘n Ciabatta-brood só geurig maak dat elke happie na ingebakte geduld proe.

Sodra die eerste skadu’s soggens deur die ooste-venster filter en op die meelbestrooide kombuistafel val, moet die nat mengsel reeds onder die klam vadoek in die erdebak sy lê gekry het. Jy moet wag vir ‘n dag waarin tyd stadiger in die ruimte van die dag kan beweeg en jou gees, net soos fermentasie, hom nie laat aanjaag nie. Ons brullende Brolloks hou hom doof vir die gejaagde wêreld buite my venster. Hy voel ‘n veer vir my skedule. Hy slaap in ‘n skyndood saam met die deeg in die erdebak.

Wanneer die son in die weste se lang skadu’s oor die lang kombuis se vloer dans, loer ek weer onder die nat vadoek in. Die klam deeg het begin ontspan en effens beweeg. Klein borreltjies, net onder die deeg se oppervlak, lyk soos pokke. Die deeg het genoeg tyd gehad om suurstof in te asem en koolsuurgas te vorm; borrels wat die groot gate in die brood gaan vorm en ‘n besonderse kors gaan bak. Die lewendige deeg is nou elasties en so sag soos ‘n kussing. Jy leer om te luister wanneer die deeg vir jou sê dat hy gereed is om beweeg te word. Versigtig word die randjie van die deeg na bo getrek totdat jy weerstand voel; hom weer terugvou bo-oor homself. Dit is die begin van die proses van rek, vou en wag; rek, vou en wag; totdat die ritme van jou asemhaling stadiger word soos die musiek van geduld en rustigheid waarmee jy saam met die gluten werk.

In die nag wanneer ons rustig slaap, doen die deeg sy belangrikste werk. Dan vind die onsigbare, maar belangrike alchemie van ensiemes, wat fermentasie en smaak saam met tyd moet ontwikkel plaas.

Die  volgende oggend terwyl vroeë skadu’s reeds patrone op die meelbestrooide tafel gooi, is dit die regte tyd om die deeg te versteur en die erdebak op die tafel om te dop. Die nat deeg word met jou hande in brode gevorm, sonder dat die borrels binne die deeg verlore gaan. Daar waar jy nie kan sien nie, het die ciabatta reeds sy werk gedoen. Terwyl hulle in ‘n warm oond bak tot ‘n goudgeel kors met oopgebarste blasies en bruin kolle, ruik die kombuis soos die stories van jare se broodherinneringe.

Die gaterige, deurskynende tekstuur van die binne-landskap van ‘n brood, is soos die lewe. Die kuns om te wag vir die regte tyd, terwyl die belangrikste werk soms gebeur in die spasies tussen die aksie … vra vir geloof en vertroue.

“… maach mor way-ting for deh rah-eet tah-eem.”

 

© Rika Gerryts

(888 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed