Jongste aktiwiteit:

Die een wat saamloop

In die stille misterie van die Kalahari-nag waar die duine soos reuse heuwels afgeëts lê teen die horison, sit ’n ou Boesman alleen by sy vuurtjie. Die geelrooi vlamtonge van sy vuurtjie knetter soos ’n stem uit ’n ander wêreld en die rook hang soos spierwit wolkies spookasem in die koel aandlug.

Die ou Boesman se naam is Uri, wat beteken ‘Die Een wat Onthou.’ Die mense noem hom, ‘Oupa Uri, draer van stories en bewaarder van tyd.’

In die donker naby Oupa Uri se vuurtjie sit ’n jong seun. Hy is skaars elf jaar oud. Sy naam is Gwa, wat ‘jongeling’ beteken. Daar wag nog ’n lang lewenspad op hom tussen die duine van die Kalahari wat uitgestrek voor hom lê.

Gwa se gemoed is vol vrae wat voortdurend in sy denke opdoem. Die antwoorde op daardie vrae, glo hy, lê in die oë van die ou mense. Hy stap na Oupa Uri toe en gaan staan skaam-verleë net binne die ligkring van sy vuurtjie.

“Oupa Uri,” vra hy, “hoe weet ek wie ek is as die tyd wegraak en die donker sy skaduwee oor ons gooi, soos nou hier vannag?”

“Die tyd,” sê Oupa Uri, terwyl hy die gloeiende kole van sy vuurtjie met ‘n stok rondkrap, “het ’n lang skaduwee. Skaduwees val oor geslagte.” Oupa Uri glimlag geheimsinnig terwyl hy lank oor die duineveld tuur. Daar is heimwee in sy oë, verweef in die lig en skadulyne van die tyd.

“Kom nader, Seun,” sê Oupa Uri. “Ek gaan vir jou ’n storie van tyd en skaduwees vertel.”

“Baie lank gelede, nog voordat die sterre name gehad, het daar ’n man in die gemeenskap van die Sandlopers anderkant daardie hoë duine gewoon. Sy naam was Gaob, die een wat saamloop. Gaoba het nooit baie gepraat nie, maar hy het met sy oë vêr in die toekoms gekyk.

Gaob het nooit getrou nie. Hy het alleen in ’n hut gebly wat hy self met takke en gras gebou het, naby ’n groot Kameeldoringboom. Die ander inwoners van die gemeenskap het daardie Kameeldoringboom vermy. Hulle het gesê dit is die boom van tyd en dat sy wortels in die verlede groei, en dat sy skaduwee altyd op die toekoms val.

Elke dag het Gaob voor die boom gesit en klippe rondgeskuif. Hy het sirkel op sirkel van klippe om hom gevorm, elkeen groter as die laaste. Die mense het gelag en met hom gespot. “Hy soek iets wat nie daar is nie,” het hulle gesê.

Maar toe, op ’n nag toe die wind skielik gaan lê het en die sterre begin bewe het in die hemel, het ’n helder lig uit die doringboom gekom – nie vuur nie, nie weerlig nie – maar iets stil, iets wat asemhaal soos ’n mens.

’n Vrou het daaruit gekom. Sy was gemaak van rook en lig, met hare so swart soos die nag en oë soos blinkende stil waterpoele. Sy het na Gaob gekyk en gesê: “Jy het my lank geroep. Hier is ek nou, my naam is Tyd. Ek het gekom.”

Oupa Uri kyk op. Die vlamme van die vuurtjie dans in sy oë. “Gwa,” sê hy, “hiér begin die skaduwee.”
Tyd het vir Gaob gesê dat hy een wens mag wens. Sonder huiwering het Gaob gesê: “Ek wil my verlede sien. Ek wil weet hoekom ek so is. Hoekom ek alleen is.”

Tyd het geknik, en haar hand oor Gaob se oë gehou. In ’n oogwink het Gaob homself gesien as kind, verlate by ’n droë pan, waar sy ouers hom agtergelaat het tydens ’n trek. Hy het gesien hoe sy ma eenkeer omdraai en terugkyk, en dan verder stap.

Gaob het hartverskeurend gehuil terwyl hy na sy ma roep. Toe sê Tyd vir hom: “Nou het jy dit gesien, maar jy mag dit nie verander nie. Dít is die wet van skaduwees.”

Maar Gaob wou dit nie aanvaar nie. Hy het gesoebat: “Gee my net nog een kans. Ek wil nie hê die kind moet daar lê nie.”

Tyd het haar kop geskud. “Die verlede is ’n klip. Jy kan dit vashou, maar nie herrangskik nie.”
Met daardie woorde het sy verdwyn in die Kameeldoringboom. Gaob het agtergebly met ’n hart vol pyn.

Die mense in die dorp het opgemerk dat Gaob verander het. Hy het begin om stadig maar temerig te praat, met baie lang stiltes tussenin. Wanneer Gaob gepraat het, het almal in die dorp wat hom hoor stilgestaan en met geduld gestaan en luister na wat hy sê. En wat hy gesê het, was nooit sommer net betekenlose klanke in die wind nie, maar altyd heimwee van onthou. Die kinders het gereeld om Oupa Uri kom sit om na sy stories en wyshede te luister. En hy het begin om hulle te vertel van hoe tyd jou soos ’n skaduwee volg, of jy nou lê, sit, staan of hardloop.

Gwa wat met aandag na Oupa Uri gesit en luister het, vra toe: “Maar Oupa, wat het van Gaob geword?”

Oupa staar lank in die vuur. Dan sê hy: “Toe sy tyd kom om te sterf, het hy onder die Kameeldoringboom gaan lê. En toe die die eerste strale van die son se lig die volgende môre oor die duine gly, het die mense gesien dat sy liggaam weg is. Op die plek waar sy liggaam gelê het, was daar net ’n sirkel klippe. In die middel van die sirkel het daar ’n sandsteenklip gelê, met merke soos woorde daarop. Niemand kon dit lees nie, behalwe die kinders.”

“Wat het hulle gelees?” fluister Gwa.

Oupa Uri glimlag met heimwee in sy oë. “Net een woord: ‘Onthou’.”

Die wind suis deur die gras van die duineveld. Die maan verrys oor die hoë duine. Oupa Uri se vuurtjie is byna uitgebrand.

“Oupa,” vra Gwa weer, “was jy een van daardie kinders?”

Oupa Uri, kyk lank na hom. Dan sê hy: “Ek was die een wat die klippe later weer kom skuif het. Ek het hulle in ’n nuwe sirkel gepak, vir jou en jou kinders, want ons het almal ’n skaduwee wat saam met ons loop. Maar as jy na daardie skadu kyk, weet jy, die son is iewers agter jou.”

Gwa raak stil … baie stil. Dan voel hy hoe die stilte tussen hom en Oupa Uri gevul word met die klank van tyd, soos wind deur ’n doringboom. Hy voel dit in die sand onder sy voete, hy hoor dit soos iemand wat asemhaal in die vlamtonge van Oupa Uri se vuurtjie, wat nou weer helder opgevlam het.
Oupa Uri trek sy karos stywer om sy skouers. Sy asemhaling is vlak, maar sy gemoed is vreedsaam. Dan sê hy: “Wanneer ek eendag nie meer hier is nie, moet jy steeds hierdie storie wat ek vir jou vertel het as die waarheid oor tyd en skaduwees onthou, want dít is hoe tyd lewe. Tyd lewe in die skaduwees van onthou.”

“Wanneer die môre aanbreek, is die vuur koud. Die kole is grys. Maar in die sand lê daar ’n kringring van sandsteenklippe en ’n enkele sandsteenklip in die middel. Met net een woord daarop gekrap: “Onthou.”
———————————————ooo000ooo————————————————
© Pieter Mostert
(Woordtelling = 1208)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed