die see was dik
die see was dik – Retha van Deventer (Goud)
misvlae sweef swaar oor’ie seekant
soos moeë velskoene wat slof in’ie dik sand
die *bakkies is in
die see was *dik
fluister’ie weskuswind
dit maak’ie hawe se hart wakker
en’ie *huiskapteine se voete ligter
*skille spat oor diepsee-stories
en krimpende aalmoes-kwotas
t’wyl snoek gevlek word
vir’ie dag se loon
die son lê laag
die skuit is skoon
v’naand gaan’ie *kole kraak
v’naand soen my voete vaste grond
© Retha van Deventer, Junie 2026.
Voetnota:
Die gedig spruit vanuit die Weskus, daarom sal die gedig se egte klank verkry word deur dit gutturaal (met “brei-R”) te lees.
*bakkies – skuite
*dik – vol vis
*huiskapteine – vrouens
*skille spat – sonder ophou praat
*kole kraak – kort-kort vuur gestook word
Klankverkorting word deurgaans gebruik (oor’ie, in’ie, fluister’ie, maak’ie, t’wyl, vir’ie, v’naand en gaan’ie)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.