riemvasmaak
riemvasmaak – Retha van Deventer (Goud)
in ‘n bergwoestyn borrel binnewater warm
waar loodregte kranse *karmenaatjies van edelstene koester
soos *ma-goed hulle se kjinnirs beskerm
en die *skroeison karmosyn op die *Kai !Gariep
soos wanneer *pa-goed vet bokke uitbloei
dáár word *rieme op kaalgrond vasgemaak
want daarsonder is die lewe galbitter
soos *traanuintjies en *ghobbas
© Retha van Deventer, Junie 2026.
Voetnota:
*karmenaatjies – in Oranjerivier-Afrikaans word karmenaadjie (spesiale geskenk) met ‘n “t” gespel en platter uitgespreek
*ma-goed – moeders
*skroeison – warm somerson van die Kalahari
*Kai !Gariep – die Oranjerivier
*pa-goed – vaders
*rieme vasgemaak – om op een plek te bly
*traanuintjies – ‘n klein ondergrondse bolplantjie wat effens bitter en skerp proe
*ghobbas – of ook hoodia, ‘n bitter doringagtige vetplant
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.