Jongste aktiwiteit:

Masai en bokbloed

Masai en bokbloed
Die Masai is ‘n baie interessante nasie. So het ons dan vir Thomas en Johanna gehad as nagwagte by ons huis in Dar es Salaam. Die Masai kom meestal uit die Noorde van Tanzanië en die suide van Kenia, uit ‘n area bekend as die Masai Mara. Hulle is bekend vir hul lengte, want meeste van die mans is hier om en by twee meter lank, behalwe Thomas, hy is die uitsondering op die reël. Thomas was net so ‘n rapsie korter as meeste Masai-mans, in werklikheid as meeste mans, maar wat hy aan lengte ingeboet het, het hy met durf en daad vergoed.
Eendag vertel hy ons hoe ‘n slang hom gepik het. Soos die manne maar is, word elke storievertellery amper ‘n mini-toneelopvoering. Ons moet sit en die verteller staan, en met lyftaal en handgebare en skreeusnaakse gesigsuitdrukkings word die eenvoudigste storie tot ‘n populêre sepie-vlak verhef. So kom dit toe dat die vyf van ons sit, elkeen met drinkgoed, en met groot oë en die regte byklanke op die regte plekke na die slangpik-storie luister.
Thomas vertel hy was iewers heen op pad, op ‘n fiets wat blykbaar ‘n gebuigde agterwiel gehad het. Onthou asseblief dat die storie in die Masai-taal, Ma, vertel word en dan deur Johanna en James die huisman, in Engels getolk word, met tussenwerpsels in Swahili deur almal, en finale uitleg deur my oudste seun, die beste Swahili-prater in ons gesin. Die vertelling op sigself was nie die beste deel van die storie nie, maar die bewegings en die toneelspel was beslis “Oscar”- gehalte.
Op sy fiets het hy gery, die een met die gebuigde agterwiel, en hiermee gee hy sulke wikkelstappies om die beweging aan te dui, wat ons almal aan die lag het. So ry hy toe nou in die bospaadjie, en hier word hy in die rede geval met vrae oor die doel van die rit en hoe ver dit was, want soos jong seuns nou maar is, hulle wil al die besonderhede weet. Thomas besef natuurlik vanwaar die vrae kom en gee toe eers ‘n lang verduideliking met gepaardgaande groot oë en glimlag sowel as handaanduidings, van die pragtige jong dame by wie hy sou gaan kuier. Dit bring opnuut weer ‘n geskerts en gelag van almal wat daar sit en Thomas moet eers vir stilte wag voordat hy met die werklike storie kan voortgaan.
Toe almal bedaar het, is ons terug op die fiets met die gebuigde agterwiel wat so wikkel-wikkel in die bospaadjie af toer. In die pad gewaar hy toe ‘n ding wat daar lê, maar omdat die gewikkel moeilik is om reguit te hou, ry hy toe oor die ding, net om te sien dat dit ‘n slang is. Die woord vir slang in Swahili is “njoka”, en net die noem van die woord is genoeg om menige mense van dié deel van die wêreld te laat spaander. Uitroepe van verbasing en vrees word hard geskree en koppe word geskud, maar Thomas beur deur die onderbrekings voort om sy storie te vertel.
Njoka gryp toe die fietswiel vas, want daar is mos nou pyn, en met dié haak die ding nou vas hier by die bokant van die vurk, reg tussen sy trappende bene. Met die pyn en die gewikkel en die geskud en Thomas se bewegings doen die slang toe wat enige dier sou doen, hy beskerm homself teen sy aanvaller en pik vir Thomas in die binneboud. In dié stadium is ons almal in vervoering en elkeen het ‘n beeld in sy gedagtes van die situasie, maar Thomas vertel gou verder.
Met ‘n boogsprong deur die lug verduidelik hy dat hy van die fiets afgespring het, en soos hy land het hy sy mes uitgeruk, gryp die njoka agter sy kop en sny sy keel af het. Hy verduidelik hoe die bloeiende slang nog om sy arm gekrul het en die warm bloed oor sy hand geloop het, sowel as hoe sy been gepyn het en dié ook vol van sy eie bloed was. Teen hierdie klap ons al hande vir sy heldedade en is dit almal eens dat hy die regte ding gedoen het om die verskriklike gevaar dood te maak.
Hy vertel toe hoe hy wat Thomas is, hom nie sommer so deur ‘n njoka laat onderkry nie en net daar spring hy toe terug op sy fiets, slang in die hand, en ry al wikkelend na die kliniek, wat blykbaar so vyf kilometer weg was. Daar het hy die slang aan die dokter gewys en ook verduidelik waar die ding hom gepik het, en hulle het hom daar teengif ingespuit, en dit is hoekom hy vandag hier kan staan en vir ons die storie vertel.
Met ‘n groot glimlag op sy gesig en baie tevrede staan hy toe terug en dit is op hierdie punt, weet ons, waar ons moet opstaan en sy hand skud en op sy skouer klop en seker maak hy verstaan dat hy ‘n man onder manne is, ‘n ware vegter, ‘n “morani” (Masa-naam vir man wat al deelgeneem het aan ‘n suksesvolle leeujag, hul vorm van “manlikheid” bewys) is en dat ons almal verbaas en stomgeslaan is deur die heldedaad. Dit is die manier en dit is hoe ons dit doen, want hy verdien beslis respek.
Ons as gesin word ook toe so op ‘n manier lief vir die lang manne en hul gebruike en ons probeer ook ons seuns leer dat hul gebruike, alhoewel dit partymaal grens aan grusaam, eie aan hul kultuur is en dat ons dit moet respekteer, al verstaan ons dit nie altyd nie.
So gebeur dit dan dat Kersfees nader kom en ons besluit om vir James, die huisman, en Imma, die tuinwerker, elkeen ‘n bok te koop wat hul kan slag en ‘n lekker Kersfees-feesmaal kan geniet. Ons besluit ook sommer dat ons vir die twee Masai-manne ook ‘n bok sal koop, want alhoewel hul nie Kersfees as sodanig ken nie, is hulle bekeerde Christene en hul verdien ook iets om dit mee te vier. Die voorwaarde sou wees dat ons huishouding een van die boude van elke bok sal kry, en op daardie manier kry ons ‘n bietjie bokvleis, maar ons wil ook nie te veel daarvan hê nie. Die Swahili woord vir bok of skaap is “mbuzi”, want hul tref geen onderskeid tussen die twee nie, en ek stuur toe maar vir Imma om vir ons drie mbuzi te gaan kry, maar nie dié met wol nie, wel dié tipe met baard.
Nadat die bokke aangetree is en daar is besluit wie kry watter een, het ek en die bokverkoper ‘n bietjie onderhandel, want dit is ook belangrik. In Oos-Afrika moet daar altyd oor pryse onderhandel word en as die koper én die verkoper voel hul het die ander ingedoen, dan was dit ‘n goeie onderhandeling. Op die punt het ek en die bokverkoper toe ook eenderse gevoelens vir mekaar gehad en hy is met n groot glimlag daar weg en ek was drie bokke ryker.
Imma het dadelik besluit dat hy sy bok lewendig wil huis toe neem, sodat die ding self kan loop en hy dit nie hoef te dra nie. Ons het gedink dis nogal ‘n plan en hy het sy bok eenkant toe geneem. James en die Masai het gepraat en daar is besluit dat die Masai sommer al twee bokke net daar sou slag. Met ons toestemming sou James toe sy vleis in ons vrieskas pak en oor die tydperk van ‘n paar dae die vleis huis toe karwei. Daar is toe ook dadelik palmtakke gesny en ‘n bed op die grond gemaak waarop die bokke geslag sou word.
Die eerste ding wat die manne toe doen, is om die bok op sy sy te laat lê en met ‘n vinnige beweging is die lang Masai-mes oor die keel getrek. Soos die dier doodbloei, gryp die manne dan bekers en vang die spuitende slagaar-bloed daarin op en terwyl die bloed nog warm is, word dit gedrink. Dit was in hierdie stadium dat my vrou die tuin verruil het vir die veiligheid van die huis, maar ek en die seuns het verbaas gesit en kyk. Die twee mans, met lang messe, slag toe daardie bok, net daar waar dit lê, so netjies dat nie een deel aan die grond raak nie. Omdat ons kinders tuisskoling ontvang het, het ek die kans benut om al die derms en binnegoed aan die seuns uit te wys en selfs die bloedvate en die senings wat ook duidelik sigbaar was.
Nadat die eerste bok geslag is, het Thomas begin vuur maak en Johanna het vinnig en behendig die tweede ene geslag, weer die bloed gedrink, en toe is James se bok in die huis in om daar verder opgesny te word. James het al sy bok se binnegoed vir die Masai gegee, as ‘n manier van dank vir die slag, en hulle het begin om al die eetbare en oneetbare dele te skei en in emmers en bakke te gooi.
Daardie aand is ‘n groot pot water met sout gekook waarin die harte en lewers en niere en ook ander dele opgekook was. ‘n Paar Masai- vriende het kom kuier en Thomas en Johanna het met vreugde hul lekkernye met hul vriende gedeel en daar is tot laat in die nag lekker gekuier. Selfs my oudste seun het ‘n rukkie by die manne gesit en ‘n proesel van die gesogte peertjies gekry, waarna hy toe ook maar sy plek as kind erken het en homself verskoon het. Ons het self ‘n stukkie vleis gebraai, nie bokvleis nie, maar wel varkvleis en beesvleis met braaibroodjies en ‘n slaai. Ek het rooi koeldrank aangebied, maar die gesin wou niks daarvan hoor nie.
Die volgende dag verneem ek toe na die gebruik van al die dele van die bok, want my instruksies was dat niemand my honde mag voer nie, maar liewer die bene en afvalstukkies vir ons moet gee sodat ons dit vir die honde kan gee. Die Masai laat niks verlore gaan nie. Elke deel van die bok, van kop tot stert, word op ‘n manier gebruik, al die ingewande word gewas en gedroog, die vel word bewerk, die vleis word geëet en die horings word gebruik. Selfs die pootjies word vir iets gebruik, en ek was beïndruk met hul doeltreffendheid en hoe min werklik verlore gaan of gemors word.
Weke lank hierna was daar nog gepraat oor die verskillende aspekte van die hele bok-episode, en ek kon nie help om weer eens vergelykings te tref tussen ons twee verwyderde kulture nie. Sonder televisie gee Thomas vir ons ‘n kostelike beskrywing van sy ongeluk, en sonder emosie word ‘n bok geslag en al die dele word met dankbaarheid waardeer, en ek dink aan hoeveel van my landgenote al op ‘n wikkelende fiets moes ry om vir ‘n meisie te gaan kuier en hoeveel ure ons blindelings na die kassie staar vir vermaak.
Ek is dankbaar vir die geleentheid om my seuns te wys hoe ‘n hartkamer lyk en hoe ingewande werk, want die basiese binnekant van alle soogdiere is meestal dieselfde. Ek is ook dankbaar dat my seuns geleer het dat daar net lewe kan kom, kos voorsien kan word, as daar ‘n dood plaasvind en dat vleis nie van supermarkrakke af kom nie, maar van lewende diere. Alles was ‘n leerproses, ‘n ondervinding en ‘n rede vir dankbaarheid, veral die Kersvieringe, waar ons almal rooiwyn gedrink het en dankbaar was dat ons nie as Masai gebore is nie.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed