NAGVLUG
Hier buite suis die suidoos
deur my doringboom se kroon –
deur die takke en die blare
waartussen duiwe
en ‘n bonthoutkapper woon.
Die wind wat deur my ruite vlaag
se asem ken ek goed –
dis daardie drie-uur-in-die-môre wind
wat in die rondrol ure woed.
Vér verby hierdie oop gordyne
– onder sterre en ‘n maan –
vlieg ‘n vliegtuig oorheen Brackenfell
waar donkernag se roetes baan.
*
En as jy op die vliegtuig was,
sou jy ‘n oomblik aan my dink?
Of liefs van hierdie vrou vergeet
en – vlugflou –
jou laaste bitter koffie drink?
© Carma Shaw
9 Desember 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.