Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: SY LAASTE VLUG

Deur neels
Datum gepubliseer: 1 April 2016 Aantal woorde: 2623 1001 Kere gelees 15

14 Februarie 1945. Die tweede wêreld oorlog is besig om ten einde te sleep. Van die Oostekant af is die Russiese magte reeds op die Duitse grens en aan die Westekant is die Gallieerde magte reeds oor die Duitse grens en lê op die walle van die Elbe rivier maar nog skop Duitsland vas in hierdie verbete stryd wat almal besef hulle verloor het. Adolf Hitler se derde ryk is op sy knieë maar nog wil die diktator nie erken dat dit n verlore stryd is nie. Hy leef in n wêreld van sy eie en verkondig van die nuwe wonderwapens wat hy die vyand mee gaan verpletter.

Die Gallieerde magte het besluit op n laaste massiewe poging om die Duitse weerstand finaal te verpletter. Daar is begin om die Duitse stede te bombardeer tot hulle gelyk met die grond gevee is. Die verhaal van kaptein Timothy Edwards en sy hond is n ware verhaal wat hieruit voortspruit.

Die middag laat sleep die Jeep langs Bravo Delta Foxtrott, n Avro Lancaster bomwerper, tot stilstand op n vliegveld in Engeland. Die nege bemanningslede, waarvan sommige sommer voor op die masjienkap sit, val dadelik uit en begin om hulle plekke in die Lancaster in te neem. Dik aangetrek teen die winterkoue en om die koue hoog in die lug te trotseer lyk hulle skoon komieklik. Skaars af en die jeep jaag terug om ander vliegtuie se bemannings te gaan haal en vliegtuie toe te bring.

Voordat hulle hulle plekke inneem doen kaptein Timothy Edwards eers sy inspeksies met Blondie, sy kolliehond al om hom. Toe hy teen die leer opklim om sy plek in te neem wil Blondie niks weet nie, sy wil met alle mag en geweld saam inklim en het kaptein Edwards al sy dae met haar. Gewoonlik draf sy terug na die beheertoring toe en gaan lê daar op die platform totdat haar fyn ore die enjins van haar baas se bomwerper tussen die ander terugkerende bomwerpers sn onderskei wanneer hulle in die vroeë oggend ure terugkeer van hulle sending af.

Dan sal sy opvlieg en na die punt van die aanloopbaan hardloop waar sy vir hom sal gaan wag om hom onderstebo te spring van blydskap as hy uitklim.

Vanaand wil Blondie niks weet nie en moet kaptein Edwards hard met haar praat voordat sy tot bedaring kom en dan maar begin aandraf beheertoring toe.

Met Blondie uit die pad uit begin die binne inspeksie. Die Lancaster is reeds deur die dag van bomme en brandstof voorsien vir vannag se vlug. Hierdie is kaptein Edwards en sy bemanning se laaste vlug van 49 vlugte voordat hulle onttrek word om vir drie maande te gaan rus en is almal aan boord redelik opgewonde oor hierdie vooruitsig.

Kaptein Edward se gedagtes gaan terug na die vergadering met die operasionele offisier die middag. Hy hoor nog sy woorde in sy ore: “Julle doelwit vir vannag is Dresden. Ons is besig met n laaste poging om die Duitse weerstand finaal te breek en gaan julle vanaand deel vorm van n trein van vyf honderd bomwerpers wat Dresden gaan bombardeer. Die Amerikaners het Dresden deur die dag gebombardeer en julle sal julle doelwit maklik vind want Dresden brand. Konsentreer op die plekke in die stad waar dit nie brand nie. Die weersomstandighede lyk goed. Die weervoorspellers voorspel n wolklose lug en met die flou lig van die halfmaan behoort julle n goeie uitsig te hê”.

Toe hulle uitgestap het het die operasionele offisier, Kolonel Bernard Davies, hom voor gekeer en gesê: “Dit is julle laaste vlug. Kom tog net terug want ek glo dat oor drie maande wanneer julle weer moet begin vlieg hierdie oorlog verby sal wees”.

Timothy het net sy kop geknik want hulle het al noue ontkomings gehad. Waar baie ander nie huis toe gekom het het hy nog elke slag daarin geslaag om terug te kom, soms was Bravo Delta Foxtrott aan flarde geskiet en lyk die lyf amper soos n lappieskombers van al die lap en stop deur die werktuigkundiges. Die Lancaster is egter n gedugte bomwerper en het bly vlieg, al het die romp soos n sif gelyk soos die koeëls daardeur is, solank die motore net nie iets oorkom nie.

Sy gedagtes keer terug en in die kopstukke hoor hy hoe die boord ingeneur die vier kragtige Rolls Royce Merlin enjins aan die gang kry. Hy neem in die kopstuk mikrofone kennis van die lesings en dan begin die skroewe momentum opbou soos die enjins al vinniger begin loop om die skroewe te draai.

Vir oulaas maak hy seker dat al die bemanningslede op hulle plek is en dan skuif hy die kantvenster oop met sy oë stip op die beheertoring gerig. Hy lei vanaand se bomwerpers van sy eskader en gaan dus eerste uit. Dan sien hy die groen fakkel in die lug inklim wat die operasionele offisier met sy Very pistool afgevuur het. Timothy steek sy hand uit en hou sy Very pistool in die lug en vuur n groen fakkel in erkenning af. Die grondbemanning is dadelik by om die keerblokke voor die wiele te verwyder en wys hulle duime in die lug toe die blokke weg is. Timothy stoot die venster toe en begin hy die gasarm vorentoe stoot.

Stadig begin die Lancaster vorentoe rol om op die aanloopbaan in te swaai. Nog n groen fakkel klim van die beheertoring af die lug in en die gasarm word vol terug getrek.

Die Lancaster sidder n paar oomblikke onder die swaar vrag maar begin dan al vinniger vorentoe rol om uiteindelik die aanloopbaan te verlaat. Laag skeer Timothy in die aand skemering oor die boomtoppe heen om in die skemerlig te begin klim vlughoogte toe. Daar sal hy n rukkie in n sirkel vlieg totdat die ander 24 bomwerpers van sy eskader by hom aangesluit het en sal hulle dan in formasie aansluiting by die ander bomwerpers van die ander vliegvelde af soek om dan op die ou einde n trein van 500 bomwerpers te vorm om Dresden te gaan bombardeer.

Uiteindelik is die armada volledig en begin hulle oor die Engelse kanaal beweeg. Dit het intussen donker geword en moet die vlieëniers op die uitkyk wees vir die bomwerpers om hom se navigasieligte dat hulle nie in mekaar vas vlieg nie.

Die Franse kus word bereik en skuif die armada voort oor n donker Frankryk. Met Frankryk reeds weer in Gallieerde hande is hier geen gevaar nie en begin Timothy se gedagtes dwaal. Voor sy geestesoog duik n pragtige fyn ou rooikoppie met sproete voor hom op.

Maureen O`Hara wat hy twee jaar terug by die siekeboeg ontmoet het toe hy eenkeer skrams gewond was. Sy was nogal parmantig met hulle eerste ontmoeting maar het hy haar tog sover gekry om die aand met hom uit te gaan. Daarna was daar aan die liefde geen keer nie.

Menigmaal het hulle lang ente gewandel en op die rotse oor die see sit en tuur met Blondie al om hulle. Daar het hulle besluit om te trou sodra die oorlog verby is. Sy het ook nou verlof saam met hom en wil hy saam met haar Dublin toe gaan om te gaan ouers vra. Sy eie ouers is n jaar gelede in n bomaanval op Londen oorlede.

Dan ruk Timothy sy gedagtes terug toe hulle die Duitse grens nader. Nou begin die gevaar want alhoewel die Luftwaffe nie eintlik meer bestaan nie is daar tog die kanse dat hulle n Duitse nagjagter op die lyf kan loop. Die groot gevaar is egter die lugafweer kannone. As die soekligte op die grond n bomwerper in hulle ligstraal vasgevang het konsentreer die lugafweer op daardie bomwerper. Veral oor Dresden sal die gevaar groot wees want dan moet hulle sak om op bomhoogte te kom..

Dresden brand sien hulle van ver af in die gloed teen die lugruim toe hulle die stad nader en begin sak na bomhoogte toe. Die bombardier sak in die bomluik af en begin die bomme se veiligheidsknipper verwyder en neem sy plek in met sy oë in die vergroter met die kruis oor die lens en die bomontlader se knoppie in sy hand.

Dan beweeg hulle oor die brandende stad en die lugafweer begin op hulle skiet. Twee vliegtuie ontplof in die lug toe die koeëls hulle tref, n derde een begin grondwaarts seil met n vlammestreep agter hom. Timothy is gelukkig en oor n donker kol begin die bombardier die bomme loslaat soos hulle aanskuif.

Met al hulle bomme gelos begin Timothy klim om op n ander hoogte te draai vir die terugtog huis toe. Dit is om te voorkom dat hulle in die inkomende bomwerpers vasvlieg.

Skielik word die kajuit helder verlig toe Bravo Delta Foxtrott in die ligstraal van n soeklig vasgevang word. Die Duitse lugafweer laat nie op hulle wag nie en begin die koeëls klim na die vliegtuig toe. Die ligspoor koeëls trek strepe deur die naghemel. n Siddering deur die vliegtuig vertel dat hulle getref word Dit pla Timothy nie en maak hy oor die interkom seker dat niemand getref is nie. Almal bevestig dat hulle ongedeerd is en dan bars een van die motore in vlamme uit.Die Lancaster kantel effens en die boord ingeneur sluit die brandstoftoevoer na die motor af. Met sy baie ligter gewig is die drie motore heeltemal voldoende om mee huis toe te gaan en verloor die soeklig hulle. Die terugtog huis toe begin en moet Timothy n koers aanpassing doen want hulle is nou op hulle eie, met hulle laer spoed moet hulle uit die formasie uitval.

Waar die verdwaalde nagjagter vandaan gekom het weet hulle nie. Naby Franse grondgebied slaan die Messerschmidt 262 toe. Dit is een van die Luftwaffe se nuwe straaljagters en met een van die min ervare vlieëniers wat oor is agter die kontroles. Hy weet uit ondervinding dat die Lancasters baie in sy romp kan vat, dus moet jy vir die motore gaan of die brandstoftenks in die vlerke. Vir hom is die afgedwaalde Lancaster net te aanloklik om uit te los. Baie vinniger as die Lancaster kom hy bo oor hulle van agter af in en skiet die Lancaster in die verbygaan nog verder aan flarde maar konsentreer in daardie enkele sekonde op die motore en dit werk. Dit gebeur so vinnig dat die boordskutters nie n kans het nie.

. Skielik ruik Timothy en sy makkers olie en hidroliese vloeistof . Die meters op die instrumentpaneel begin n wilde dans met hulle naalde en waarskuligte op die boord ingeneur se paneel begin brand en alarms gaan af. Met net een motor wat die lug vasgryp begin Bravo Delta Foxtrott aarde toe duik met twee vlammende motors wat n vuurstreep agterlaat, n duidelike merker vir die Amerikaanse patrollie op die grond wat die vallende vliegtuig opmerk en begin dophou.

Aan boord is dit chaos. Angssweet slaan op hulle gesigte uit en weet hulle dadelik, hulle gaan dit nie maak huis toe nie.

Timothy gryp die interkom: “Manne spring. Ek gaan die vliegtuig in die lug probeer hou tot julle uit is’.

Timothy stoei met die kontroles en slaag n slag om die duikvlug vir n paar minute te stuit maar dan val die Lancaster weer grond toe. Dit is egter4 daardie paar minute wat die bemanning kans gee om uit te kom.

Op die grond sien die Amerikaanse patrollie agt valskerms oopgaan en grond toe sweef en dan sien hoe hulle hoe die brandende Lancaster al vinniger grond toe val.
Minuut of wat later, presies half twee die oggend ploeg die brandende Lancaster in die veld neer om met n ontploffing in n brandende vuurbol uit te bars.

Toe die bemanning op die grond neersak is die Amerikaners dadelik by om hulle op te pik en te help. Dit is toe die bemanning agterkom dat Timothy nie by hulle is nie. Hulle besef dadelik dat dit vir hom te laat geword het om te spring, hy het sy lewe opgeoffer om hulle die kans te gee om te spring.

Half twee die oggend spring Blondie skelik op, gee n lang tjank en hardloop na die punt van die aanloopbaan toe waar sy gaan sit en wag. Soos die vliegtuie later een vir een inkom kan almal sien sy is ontsettend angstig en spoedig, soos die verslae inkom, weet hulle dat Timothy Edwards en sy bemanning nie hulle laaste vlug voltooi het nie. Dit is later die oggend wat die radioberig van die Amerikaners af deurkom dat hulle die bemanning opgepik het maar dat vlugkaptein Timothy Edwards vermoedelik in die vlammehel omgekom het. Hulle sal n patrollie stuur om te gaan kyk wanneer die wrak uitgebrand is en afgekoel het.

Die aand kom die berig deur dat vlugkaptein Timothy Edwards in die brandende Lancaster was en dat daar aanvaar kan word dat hy oorlede is in die vlammehel van die brandende bomwerper.

Maureen O`Hara vermoed die eerste keer onraad die middag toe Timothy nie na haar toe kom nie en neem n koue angsgevoel van haar besit. Toe sy die ampsmotor voor hulle tehuis sien stop en n brigadier sien uitklim weet sy, hy kom vertel haar dat Timothy nie terug gekom het nie.

Sy wag hom by die ingang in en vra sy net” Timothy kom nie weer terug nie’.

Die Brigadier knik sy kop woordeloos en dan wel die trane in Maureen se oë op maar vra sy tog: “Waar is Blondie”.

“Sy sit al van verlede nag af by die aanloop baan en wag nadat sy verlede nag om half twee aan die tjank gegaan het”.

“Ek moet haar gaan haal en sal haar gou gaan haal as ek mag saamry” antwoord Maureen.

Die brigadier knik sy kop en vertrek Maureen saam met hom. By die vliegveld ry hulle tot by die aanloopbaan waar Blondie nog steeds sit en wag op Timothy se terugjeer.

Maureen klim uit en gaan sit op haar hurke langs Blondie wat fyn tjank geluidjies maak. Sy begin met Blondie praat terwyl sy haar styf teen haar vasdruk en vir die motor wys hulle moet gaan, sy wil alleen wees.

Met die motor weg breek Maureen en gaan bitterlik aan die huil en vryf haar gesig in Blondie se lyf in wat haar lek en fyn tjank geluidjies maak. Na tien minute is sy uigehuil en sien hulle uit die beheertoring uit vir Maureen saam met Blondie aangestap kom. Tussen die ry bomwerpers deur, by die hek uit see se kant toe.
Daar kry dokter James Cantenbury, wat haar begin soek het hulle lsst die aand, patetiese prentjie wat stip na die branders in die flou maanlig staar.

Al wat hy vir haar sê is: “Kom Maureen ons het jou nodig by die hospitaal. Timothy sal wil hê jy moet aangaan met jou pligte vir sy makkers wat dit nodig het’.

Sonder n woord klim sy en Blondie in die jeep en keer terug hospitaal toe.

By die hospitaal vra dokter Cantenbury: “Hoe voel jy Maureem, Moet ek vir jou iets gee”.

Maureen skud heer kop: “Ek het klaar gehuil majoor. Jy is reg, Timothy sal van my verwag om aan te gaan om sy gewonde makkers te verpleeg”.

Naskrif: Dit sou inderdaad Timothy Edwards se laaste vlug gewees het. Ses weke later is die bom missies teen Duitsland gestaak omdat daar niks meer was om te bombardeer nie en die risiko van hulle eie linies bombardeer te groot geword het.

Die verhaal word drie maande later afgesluit toe Maureen O`Hara, saam met Blondie op n medaljeparade na vore tree om die Victoria Cross, toegeken aan vlugkaptein Timothy Edwards (postuum) vir dapperheid, van koning George te ontvang.

Die Victoria Cross is Brittanje se hoogste militêre toekenning




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Evelyn van der Merwe

    3 Junie 2016

    Interessant. So het baie manne deelgeneem aan gevegte. Die vliegtuig laat my baie dink aan die ou Dromader waarmee hulle lugbespuiting gedoen het.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 214
Kommentaar telling: 1107

Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 537 gaste aanlyn

Bydraes – Argief