Die stad se getye
Die stad se getye
Die droogte het soos Tafelberg tussen my en my boerman kom staan. ’n Bykans onmoontlike groot versperring tussen dit wat ons wil en dit wat ons kan.
Ons keuses het een na die ander voor ons oë opgedroog. Die verskoning dat die droogte nie vir ewig sal aanhou nie, het afgewater begin klink, want dit wou blyk dat dit wel vir altyd gaan aanhou. Daar was net geen einde aan die teleurstellings en bekommernisse nie. Die jare en jare se swoeg en sukkel om ons diere aan die lewe te hou, het ons opsies laat verdamp. Daar was net een oor. Een van ons sou moes weggaan om te gaan werk en geld in te bring, want kalkklippe kon ons nie eet nie. Al die fondse was reeds in veevoer in en die bankbestuurder het geen genade nie. Ook nie enige van die ander mense wat maandeliks wag vir betalings nie.
Die boer kon nie van die plaas af weggaan nie, want hoe sou ek alleen regkom? Ek is ’n baie goeie boer-se-vrou, maar nie ’n boervrou nie. Ek het eenvoudig nie daarvoor kans gesien nie. Daarom het ons besluit dat ek my suster se aanbod moet aanvaar om by haar maatskappy te gaan werk. Dit was nie ’n maklike besluit nie, want ons plaas is in Namibië en my suster se besigheid in die Kaap. Dis 1162 km weg van mekaar.
Ek moes my tasse pak en Kaap toe trek. En alles was moeilik. Alles.
Ek het baie nuwe dinge in die Kaap geleer. Soos dat Kaapstad beslis nie meer as Slaapstad bekend kan staan nie, dat Tafelberg nog net so mooi is soos ek dit onthou, dat alles waar is wat mense oor taxi’s sê, dat nagte in die stad nooit donker is nie en dat dit nooit, ooit stil is nie. Vir iemand wat van ’n plaas af kom, is die ewige geraas die moeilikste deel om aan gewoond te raak. Na meer as ’n jaar kon ek dit nog nie regkry nie.
My suster se huis, waar ek nou bly, is vasgedruk in ’n hoek van ’n vierkant wat aan drie kante geraam word deur die N1, die R300 en Ou Paarlweg.
Saans, wanneer ek in ’n oranje gloed van straatligte in my bed lê, luister ek na die konstante, nimmereindigende gedruis van voertuie en vragmotors op die drie hoofweë. Dit hou nooit op nie. Waarheen al die mense gaan, of waarvandaan hulle kom, kan ek my nie indink nie.
Dan sluit ek my oë en verbeel my dis die branders van die see wat ek hoor. Vroegaand is dit hoogwater, wanneer die dreuning tot in my binnegoed vibreer. Ek hoor hoe die see vol raak en driftig teen die rotse slaan. In die donker wat nooit waarlik donker is nie, luister ek dan hoe die gety homself uitwoed en dit hier in ounag se koers stadigaan oorgaan in laagwater, met net sagte deinings soos klein golfies wat op Paternoster se strand breek. Kalmer, maar nooit stil nie.
Dis net mooi dan wanneer ’n paar motorfietsryers hulle ysterperde se stange vasvat en die keelgate ooptrek om die lang, oop pad ten volle te benut. Dis mos reeds “laagwater” op die paaie.
Die eerste paar nagte het ek verskrik regop gesit en my hart vasgehou en gebid dat ek asseblief tog nie ’n slag wil hoor soos een hom te pletter val nie. Ek het asem opgehou totdat die woedende gebrul stil raak.
Soms draai die wind skielik en kom spoel die N1 se springgety bo-oor my en soms is dit die geloei van sirenes, alarms of ambulanse wat my see-gedagtes versplinter. Dan wonder ek hoeveel seer en swaarkry hier om my is waarvan ek nie eers weet of ooit van sal hoor nie. Dan het ek nog ’n rede om wakker te lê.
Ek hoop ek sal gewoond raak aan die stad se getye, hoewel ek my seker maar altyd sal verbeel dis die see wat ek hoor.
© Hester Steenkamp
(517 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN projek