Hernus se goggatjie
Hernus se goggatjie
Een Dinsdagoggend storm Fredrieka grootoog en kortasem tot teenaan my. Ek dog dis weer ’n slang. Sy staan met haar hand vasgeklem oor haar bors. Sy hyg. Ek skrik.
“Mevrou moet kom kyk! Gou!” Ek haas my agter haar aan en praat met haar rug. “Wat is dit? Wat is fout? Wat het gebeur?”
Ek dink die allerverskriklikste dinge en sien al hoe moet ek dorp toe jaag met plaasklere en ongekamde hare. Wat sal die mense sê?
Sy storm soos ’n wilde perd voor my by die agterdeur uit en toe ons buite kom, wys sy driftig met haar arm in die lug op. “Kyk die goggatjie! Dáár! Sien mevrou hom? Dis Hernus se goggatjie!”
Ek is woordeloos. Te veel dinge gebeur gelyk en ek voel verward. Frans, Fredrieka se seun, hardloop ook nader. Sy arm wys ook hemelwaarts en hy hyg ook.
Toe hoor ek dit en dit tref my soos ‘n voorhamerhou: Hernus se goggatjie … Dis ’n hommeltuig. My skoonseun, Hernus, het met een van hulle kuiers een saam gebring en vir ons video’s en foto’s geneem. Toe kon ons ook sien hoe lyk ons stukkie aarde van bo af. Dit was vir die werkers amper te goed om waar te wees. Vir hulle het die hommeltuig skynbaar ’n goggatjie geword, en as ek eerlik moet wees, kan ek nogal die ooreenkoms sien.
Hernus is tans egter baie ver weg in die Oos-Kaap en sy hommeltuig het ’n tragiese waterdood gesterf, so wie bespied ons nou so uit die hoogte uit? My boerman is op die buiteplaas en dis net ek, Fredrieka en Frans hier op die plaaswerf en hulle al twee lyk benoud.
“Mevrou, ek het die kar gekyk. Hy staan da’ annerkant op die witpad na meneer Pieter se kant toe en nou vlieg sy goggatjie eers hier, dan daar en dan doer oor ’ie veld! Dan hang hy hier oor die prosopisboom, dan woerts hy weer veld se kant toe, tot daar agter die huis.” Frans haal skaars asem en dit lyk of hy enige tyd gaan beswyk van angs.
Ek stap voortuin toe en gaan kyk self of ek die kar kan sien. Jy kan op die pad ry waar jy wil, maar jy kan sowaar nie kom vlieg waar jy wil nie. Vir wat wil iemand kom verkenningswerk doen hier op my werf?
Ons drie stap pad se kant toe, maar die kar staan nie meer waar hy gestaan het nie. Tog hang die goggatjie nog hier bo ons koppe. Net toe ek verby die dam loop, sien ek die kar staan dwars oor die pad, maar nou links van die huis. Die sykante van die bakgedeelte is opgelig. Ek stap doelgerig nader en ignoreer Frans en Fredrieka se waarskuwings. Dié twee het vasgesteek en weier om een tree verder te gee. Fredrieka klou aan Frans se arm vas.
Ek stap nader en groet van ver af in Engels, want ek kan sommer sien hierdie is volksvreemdes, en vra of ek kan help. ’n Lang man met swart klere loop my tegemoet en praat met ’n – en ek wil nou nie spoke opjaag nie, maar hy praat met ‘n Russiese aksent. Hy sê: “Good morning. Sorry, sorry, sorry. I’m looking for my camera cap. It’s round and black.” So asof ek nie weet hoe ‘n “camera cap” lyk nie!
Ek kan sien daar sit ‘n ander persoon in die kar, maar dis asof die man my probeer weghou van die kar af. Hy bly skuif voor my in soos ek verby hom probeer kyk. Ek neem aan die persoon in die kar is in beheer van die vlieënde voorwerpie wat soveel verwarring bring.
Ek wys lug toe, na die tuigie wat steeds soos ’n voorbode oor my huis se dak hang. “Did you lose your cap in my garden?” vra ek ietwat sarkasties.
“Oh, you saw the drone?” vra hy. Hy klink teleurgesteld. Ek sê ja, natuurlik het ons dit gesien. En gehoor. Die man bly draai in die rondte en kyk op die grond. Skynbaar opsoek na die kameralens se deksel. Ek kyk ook rond.
“No, no, it’s okay, I’ll find it,” keer hy my en draai nog ’n slag in die rondte. Die hele gedoente is net vreemd.
Ek wil weet van die hommeltuig. “And the drone sir?” bring ek hom terug na ding wat my kwel.
“Sorry, I did not know people were living here,” en daarmee draai hy een laaste keer in die rondte, stap kar toe en klim in. Ek staan verslae op die pad, want dis nou ’n groot lieg. Dis baie duidelik hier bly mense.
Ek weet en verstaan nog net so min van wat aangaan as toe ek hierheen gestap het. Ek draai toe maar om en loop terug huis toe. Net toe ek verby die skuur is en terugkyk, is die kar en die hommeltuig skoonveld. Die man ook. Skynbaar sonder die verlore doppie vir sy lens.
Ek wonder steeds wat presies hy kom doen het, want hy het vir seker nie gedoen wat hy gesê het hy gedoen het nie.
***
Intussen het heelwat ander mense ook die vreemdelinge met die hommeltuie opgemerk wat oor ons area vlieg. Hulle is veral snags doenig. Ons vermoed dit het te doen met die Russe wat hard probeer om ons te vergiftig in hulle poging om uraan uit die Stampriet Akwifer te ontgin en net nie die nodige permitte kan bekom nie. Nie dat dit hulle spoed enigsins breek nie, maar hulle weet nou ons weet van hulle en hou hulle dop.
© Hester Steenkamp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Mei 2025 – OOP projek