Wat is die plan? #Brons
Wat is die plan?
Die donker dra ‘n lang mou baadjie dié tyd van die jaar. Nag loop oor in dag en slurp weer die dag op voor aand se waak. Son en maan kruip weg agter witgrys katoen wolke. Miggie piepie spoeg net genoeg om trane van verlange te bedek. Vitamien D en C vasgevang in ‘n botteltjie witpoeier.
Dis dan wanneer die hart hunker na my mense. Hunker na die son wat altyd skyn in my geboorteland. Die helder hoop dae. Tog help dit net mooi niks, want familie en vriende is uitgestrooi oor die aardbol.
Daarom in die lig lê ‘n skelm steek, ‘n klug van ‘n beter lewe. Die drake maak nes in die wye vlaktes van Afrika en die goue glans van ‘n bosveld sonsak oorskadu die slakkepas verweer.
Maar hier in die doolhof van donkerblou are lê ‘n valse hoop van rooi rem ligte. Skielike skerp vreemde hoofligte dwing my tot stilstand en laat my wonder hoekom is ek hier. Hoekom het ek die bekende verlaat om die vreemde gras te gaan vreet aan die anderkant van die draad.
Wat is die plan?
Om my gô af te werk tot die grysheid van wysheid langs my hoof afdrup? Terwyl ‘n harde skermpie my drukkies vashou en kommunikasie met kinders en kleinkinders met sporadiese tussenposes plaasvind.
Of ‘n vredevolle dag tot dag lewe in alleenheid gekokon? Van verandering is daar egter geen sprake. Dus sal ek vashou aan die hoop dat die son weer sal skyn en die kleurvolle belofte van ‘n reënboog op die horison met ‘n oproep van kinderlaggies in die vroeë oggenduur.
Wat is die plan? Net die Meester weet.
C Diederiks ©
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2025 - OOP projek