Jongste aktiwiteit:

Geroeste slotte en blinknuwes

Geroeste slotte en blinknuwes

Die skaduwee val lank en uitgerek voor my voete op die hangbrug. Die oggendson breek in ontelbare fyn diamantpatrone oor die watervlak ver benede. Die enigste geluide hier, die kwetterende vinke wat onverstoord nessies bou in oorhangtakke bokant die kabbelende rivier.

Daar is ‘n klaarheid in die Vrystaatlug wat maak dat ‘n mens ver kan sien. ‘n Ruimte waarin ‘n mens vry kan asemhaal.

Ek verkyk my aan die lang rye slotte aan die brugrelings weerskante van my. Geroeste slotte en blink nuwes. Piepkleines en ekstragrotes. Elkeen met name en datums op.

Ek kan nie help om te wonder oor die lewensverhale hierin opgesluit nie.

Sou die hande wat hierdie slotte eens vasgeknip het aan ‘n brugreling oor ‘n rivier nog steeds hande vashou? Of dalk laat los het? Dalk stil geword het van die woelinge van menswees. Die ewige rus ingegaan het?

Dan klouter ek teen die oewer af. Gaan staan op ‘n verweerde klipformasie in die koelte van ‘n treurwilgerboom.

Vir ‘n wyle is ek weer net ‘n kind. Ek sien in my verbeelding die oopgespreide laslappieskombers op die gras. Ons gil van plesier terwyl ons aan die oorhangende wilgertakke swaai. Later waag ons dit aan die vlak kant van die water en klou verbete aan opgeblaasde motorbinnebande.

Ons is skrikkerig vir die babers met hulle plat, benerige koppe, klein ogies en lang snorre. Dan is daar ook nog die bruin rivierkrappe en die platannas! Die manne vang vis met erdwurms, krieke of stukkies wors aan die hoeke

Ouma sny koue wildspastei en waai na die lastige muggies. Ons teug aan yskoue gemmerbier en eet makataanstukke wat in klapper gerol is.

Nou val die skaduwee kort en naby op ‘n warm teerpad. Die middaguur se hitte noop ons om ‘n lafenis te soek. Die kelnerin groet en plaas die spyskaart en ou tydskrifte gelyktydig op die stoeptafel

Daar is te kies en keur tussen afval met stampmielies, bobotie met geelrys, groenbone en pampoentert, pofadder met krummelpap en sous, beesstert en stampmielies en herderspastei. Ek laat my verlei deur ‘n emaljebakkie geurige melkkos met ‘n skeut kaneelsuiker.

Verdwaal ook tussen die geel verkleurde bladsye van ‘n Huisgenoot, van 4 Februarie 1966. Op die voorblad pryk ‘n nooi Brenda Ehrlich, ‘n 19-jarige kunsstudent van Johannesburg. Ek blaai verder. ‘n Advertensie vir ‘n sarong-buustelyfie met uitsluitende gepatenteerde oorkruisvoorpant van hoë kwaliteit katoen teen net R1.50, laat my glimlag. In die briewekolom vra ‘n leser vir ‘n voorbladfoto van enige langhaar-groep, verkieslik die Rolling Stones of die Animals. Adoons-hulle van T.O. Honiball maak amok en daar is ‘n fotoverhaal oor Katarina.

Lang skaduwee val agter die motor toe ons laatmiddag vertrek. Parys … ‘n kaleidoskoop van dorpsgebeurtenisse, kultuurskatte, karakters en natuurskoon.

My dag tot boordensvol gevul met erfenis.

Aniki Joseph 2025 ©




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed