Jongste aktiwiteit:

Aankomsaggressie

Aankomsaggressie

‘n Tydjie terug staan en gesels ons met ons buurman en ons praat oor die komende winter en alles wat daarmee gepaard gaan. Hy draai na my toe en vra: “Buurvrou, ken jy aankomsaggressie? Het jy dit al gesien?” Ek probeer die woord plaas en skud my kop. Hy sê: “Buurvrou, ek kry nie meer eintlik jagters soos vroeër jare nie, want dit het te veel geraak. Die aankomsaggressie. Te veel.” Hy knyp sy oë vir paar oomblikke styf toe soos die onthou hom ’n naar kol op sy maag gee.

Toe vertel hy. Hy sê dis wanneer die manne na ’n jaar se uitsien en fyn beplanning uiteindelik in die bakkies klim vir hulle groot wegbreek en die langpad vat jagveld toe. Weg van die vrou, die kinders, die werk en die stad se uitdagings. Weg van die stres en rekeninge, die swak dienslewering en druk verkeer. Weg, weg, weg! Die losbreek van alles wat hulle vasklem. En soos hulle inklim, vlieg alle gesonde verstand by die vensters uit. “Hulle is op die punt om groot te amok,” sê hy terwyl ’n diep keep tussen sy oë gaan lê.

“Vandag se nuwe karre kom mos met ’n ingeboude yskas tussen die sitplekke met ys en glase en als, en dan begin die groot drink sommer met die wegtrekslag. Hulle ry kuier-kuier tot hulle by jou aankom, en soos hulle die deure oopmaak op jou werf, val die leë blikke en bottels eerste uit. Dan kom die lywe: Swart oprygstewels, gekamoefleerde baadjies en blink kiste waarin die wapens knus in hul sagte lêplekkies rus,” stoom Buurman voort.

Hy verduidelik dat die wapens meer kos as ’n hoërskoolkind se skoolfonds vir ’n jaar. In ’n privaatskool. Hierdie kiste word met groot ontsag en liefde afgelaai en eerste huis-in gedra.

Nadat die groetery uit die pad is, en die braaivleisvuur hoog brand, word daar verder gekuier en stories vertel en gespog met hulle vaardigheid en skietvermoë. Groot stories. Lang stories. Die detail van die presiese plasing van elke koeël word in die fynste besonderhede oorvertel en bespreek. En natuurlik skiet almal net kopskote. Elke liewe een van hulle.

Buurman sê hy kry dan al klaar so ’n ligte fladdering hier in sy binneste, want hulle het nog nie op die Kalkplato gejag nie. Dis bietjie anders as die Bosveld. Ons veld is ’n uitdaging vir selfs die mees gesoute jagter. Ons bokke staan nie stil nie, jy lê hulle nie voor nie en hulle word nie onkant betrap nie.
Na ’n laatnag se gesels en gedrink strompel hulle kamers toe – reg vir oorlog maak die volgende dag wanneer hulle net na sonsopkoms met hulle swart kiste agter-op die bakkies sal klim.

Hy sê: “Buurvrou, daardie ammunisie is so grênd, die son mag nie eers daarop skyn nie. Dan sit hulle die spulletjie aanmekaar en hulle het allerhande magêfters saamgebring. Tot knaldempers en goed wat die afstand uitwerk wat die bok van jou af staan. Jy loer net deur die ding, dan sê dit vir jou die bok staan presies 278.6 meter van jou af!” Buurman vryf oor sy gesig terwyl hy sy kop simpatiek heen en weer skud.

Dan kom die groot beproewing. Nou moet hulle, met al hulle speelgoed, die bokke raak skiet. Hulle ruk en skud agter op die bakkie soos daar oor die kalkklippe gejaag word en hulle moet hulle dure wapens vashou en veilig hou en terselfdertyd moet hulle hulleself regop hou en vasklou vir lewe en dood. Dit alles moet gebeur na die groot kuier die vorige dag en die manne voel nie so lekker nie.

Nadat die bokke opgespoor en ingejaag is, moet hulle nou daardie vernuftigheid waaroor hulle so gespog het, tentoonstel.

Hy sê: “Buurvrou, hulle lê aan en kyk deur hulle grênd teleskope, en as skoot klap, is dit so ver mis, die bok tel nie eers sy kop op nie. Hy wei net rustig voort. En aan die einde van die dag tel ek 67 leë doppies agterop die bakkie, en daar was net een gekweste bok wat ek toe met die bakkie moes injaag en aan die horings vang. Teen daardie tyd brand die vuur weer en begin die stories en gekuier van voor af en so gaan dit die hele tyd wat hulle hier is. Dit maak mens sielsmoeg. Hier teen die vierde aand hang daar so min bokke aan die hake dat die manne nou maar eerder oor die weer en die politiek praat.” Dan vryf Buurman weer oor sy gesig.

Ek sê vir Buurman: “Nee, ons kry nie jagters nie, want ek is sommer klaar kwaad as ek net hoor hulle is op pad.”

Buurman knik sy kop en sê: “Dis tog ’n goeie ding Buurvrou, dis tog ’n goeie ding.”

Net toe sy plaaskar om die skuur se hoek verdwyn, staan en dink ek dat dit inderdaad ’n goeie ding is, want soos dit vir my klink wil ek asseblief tog nooit aankomsaggressie eerstehands aanskou nie. Dit klink na ’n liederlike ding!

© Hester Steenkamp




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed