Selfondersoek Goud
“Mamma, kyk.” My kind gooi die ou foto’s voor my neer. Onwillekeurig ruk Lucas Maree se woorde uit sy liedjie ‘kiekies’, my terug na die verlede.
“My kiekies is bewyse van die feit dat ek ook daar was.”
Ek staar na die bewysstukke van ‘n stukkende verlede. Ek het nie ‘n spieël nodig nie. Die seer in die bruin oë dwing my om vir ‘n wyle hier stil te staan.
Foto’s lieg nie. Spieëls ook nie. Ek staar na ‘n foto van my ma. Die vrou in die foto knipoog vir my. Ma, ek mis jou. Ek sien ‘n deel van jou in my. Jou oë wat vanaf die spieëlbeeld reflekteer. Klein brokkels jy wat voortleef in my. Tog verskil ons soveel. My beeld vertel van seerkry. Van nagte se wakker lê. Luister vir die sagte dreuning van die motor wanneer hy uiteindelik huis toe kom. Die reuk van goedkoop parfuum aan sy klere.
Ma, hoeveel keer het jy my pa beskuldig. Hy was onskuldig. Jy het agter daardie deur gestaan. Volgens jou was ek te klein om te besef. Ma, kinders is nie dom nie. Hoeveel keer moes ek lieg. My dogters was ook nie dom nie. Hulle weet wat hulle pa gedoen het. Hoeveel skade en letsels kon ek hulle spaar. Ek wil die spieël omdraai. Die seer lê te diep.
‘n Fyn krakie verskyn in die hoek van die spieël. Dit sny diep, dwars oor my beeld. Dit los ‘n letsel oor my oogbank. Dan bars dit en kerf diep oor my arms en hande. Ek onthou.
Die koffiebeker tref die spieël met n harde slag. Dan storm hy op my af. Ek is ‘n swakkeling. “Kyk in die spieël teef. Wat sien jy?” Sy hand krom om my nek. “Kyk. Ek sal jou vermink. Geen man sal ooit weer na jou kyk nie.” Bloed pols uit die snye op my hande. Die koppie lê aan skerwe voor my voete. Swakkeling. “Ek is jammer, ek sal nie weer nie” Swakkeling.
Die spieëlbeeld verhelder. Die splinters word heel. Ek plaas my hande in Sy oop palms. Sy bloed vermeng met myne. Ek kyk met nuwe oë na die beeld voor my. Hy glimlag sag. Stukkende hande omvou my eie. Ek sien weer die mooi in my eie oë. Daar is lagplooitjies in die krakies langs my mond. Die sout en peper hare wip parmantig regop. Ek mag weer glimlag sonder om oor my skouer te loer. Ek tik die wipneus liggies. “Hallo vreemdeling. Welkom terug.”
“Ma!” ek wip soos ek skrik. “Jammer, ek was op my eie planeet, wat sien jy as jy na my kyk?” Haar woorde kom lê in die holte van my hart. “Ek sien ‘n omgee vrou. Swaarkry vrou. Seer vrou. Ek kyk na mamma en ek wil huil. Ek sien ‘n vrou wat, deur alles, haar kop hoog gehou het. Iemand wat sal veg vir haar kinders. Berge kaalvoet sal oorkruis. Iemand wat laatnag nog boomkap sodat haar kinders warm kan bad. Sê sy is nie honger nie en dan die laaste brood vir haar huismense gee. Ek sien ‘n vrou van God. ‘n Spreuke 31 vrou. Ek sien iemand na wie ek kan opkyk. Iemand wat ek ook vir my kinders wil wees.
Partykeer nodig ons om net vir ‘n wyle stil te staan. Die spieël te lig. Diep en indringend na die weerkaatsing te kyk. Te glimlag. Jy het oorwin. Die beeld is weer heel.
©️ Amanda
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2025 - OOP projek