Uit gebrokenheid gedra #brons
Uit gebrokenheid gedra
In die vroeë oggenduur se weerloosheid, terwyl die nag sy laaste asem uitblaas, word die volle betekenis van haar gebrokenheid onthul.
Geveerde hemelsangers ontwaak vrolik. Sonspatsels beur deur ‘n skrefie in die gordyn tot teen die lang wit deure in die vierkantboks van haar gemaksone.
Die nagmonsters probeer steeds ‘n skuilplek vind in haar geheue. Waar sy die donkerweë van haar drome naspeur, om sin te probeer maak van die pynoorlog – die innerlike slagveld wat spore agterlaat wat selfs die oggendlig nie kan weg was nie.
Die sluiers van die nagmerries bly toegetrek, net ‘n vae herinnering bly oor: sy kruip deur dongas, worstel oor berge en ‘n ongenaakbare vuur wat haar liggaam omsingel.
Sy staan op, want die natuur roep, en sy kan net nie langer op hierdie stasie vertoef nie. Sy spook met die borsel deur haar hare. Die nagtelike eskapades los ‘n voëlnes in haar vaalgrys kroon.
Sy wonder: is dit rêrig nog die moeite werd om nog ‘n dag van afsondering te trotseer, of het haar siel reeds genoeg gely? Sy wil terugklim in haar boot na nêrens. Terug sak in die gat waaraan sy al vir twee maande grou.
Maar haar gewete kom aan haar hart se deur klop. Huiwerig maak sy oop. ‘n Gedaante immer bekend, kom neem stelling in hier neffens haar. Sy stem is sag en tog vol ontsag.
Stil sleep hy die stofvergaarde geskrifte nader hier waar dit langs haar gat gepak is. Dis daar, want in haar onderbewussyn weet sy dis haar bron van beskerming en hoop. Tog bly dit al vir weke toegerits, want sy is teleurgesteld, miskien kwaad, miskien net moedeloos, want vrae is gevra en oplossings het net nie op haar tyd gekom nie.
Stil tik die jongman in sy skaapvelgewaad haar op die skouer. Hy begin vertel van ‘n leeu met wrede kake en ‘n reus wat val met net een klippie, ‘n koning met ‘n spies in die hand. Hy vertel van donker grotte waar hy skuiling gesoek het, van bloed op sy hande en foute wat soos skadu’s in sy gedagtes bly dwaal.
Met trane in sy oë kom bieg hy oor wantroue en ongehoorsaamheid. Hy buig sy hoof laag en met ‘n veraf uitdrukking kom vertel hy haar ‘n storie van ‘n skaapwagter, van sý skaapwagter.
Hy kyk diep in haar oë, sy stem sag maar deurdringend: “Die skape ken Sy stem. Hulle volg Hom waar Hy gaan. Hy vind vir hulle ‘n sagte lêplek, langs rustige waters. Hy gee vir hulle alles wat hulle nodig het in groen weivelde. Tog is daar een skapie wat hardkoppig bly afdwaal, wat haar eie koers bly kies, waar sy haar eie wêreld wil verken. Maar op ‘n dag gaan soek Hy haar. Hy breek haar been, Hy lig haar op sy skouers en dra haar, sodat sy Sy stem beter kan hoor en dadelik kan herken.”
Die jongman trek sy lier nader en begin sing: “Die Here is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie. Hy lei my. Hy gee my nuwe krag…”
Haar trane stroom oor haar wange, haar hande bewe as sy deur die kosbare herinneringe blaai.
Sy weet nou: Hy was nog altyd daar. Toe sy geval het, toe sy in pyn gelê het. Toe die dokters met drade en skroewe haar voet probeer herstel het, toe sy haar hart wou begrawe het – Hy het haar gedra.
Vandag, gebroke maar gewillig, lê sy haarself weereens in Sy getroue Vaderhande.”
Christa Diederiks ©
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
Hartseer mooi beskrywing.