Die naaldekoker in my (Silwer)
Die naaldekoker in my (Silwer)
Die naaldekoker hang stil oor die visdammetjie voor my, waar ek vir ’n wyle verpoos, voordat ek aanstaltes moet maak om aandete voor te berei.
Ek gun myself min hierdie luuksheid om die dag se kop-liassering te doen.
Vir ’n oomblik voel dit vir my of die naaldekoker, met haar veelvuldige lense, in my oë kyk. Lees sy in my oë dat party dae vir my te veel kan voel?
Dis veral dae soos vandag, dórpsdae, wat ek verpes. Hoewel ek van mense hou, wil ek die keuse hê van wanneer, wie en waar.
Juffrou Naaldekoker, met haar lang, skraal lyfie, maak weer ’n grasieuse draai voor my. Die kleure op haar ragfyn vlerkies slaan my asem weg.
Kleure. Ek het ’n obsessie oor kleur. Ek lees simboliek daarin. Dit kan moontlik wees omdat ek kuns as vak op skool gehad het, of my moeder se invloed.
“Retha, met jou blonde hare en rosige velkleur, kan jy enige pastelkleur dra,” hoor ek weer haar stem.
Die spieëlgladde water van die visdam eggo my gedagtes wanneer ek daarin kyk. My blonde hare is steeds blond met hier en daar ’n grys haar en my velkleur het ook nie te veel verander nie; daar het wel ’n paar lagplooitjies by gekom.
Ek roer ingedagte die koel water met my linkerhand.
Gesteurd, vlieg Naaldekoker ’n aks weg. In verwondering kyk ek hoe sy haar vlerkies afsonderlik, in eie pas, klap … onafhanklik van mekaar en die gedagte kom by my op: net soos wat my regterhand nie weet wat die linkerhand doen nie…
Die lugskou wat volg is asemrowend, nie net vlieg sy vorentoe nie, maar agteruit, op en af. Teen hoë spoed verander sy van rigting sonder om haar balans te verloor.
Sonder vlerke kry ek dit ook reg in my handel en wandel, mymer ek. Die slypskool van die lewe, genoeg seer- en swaarkry saam met die lekker- en liefkry, het my vroeg in die lewe geleer dat ek daarna moet strewe om die goue middeweg te vind.
Ten spyte van die gereelde glimlag op my gesig is dit hierdie op-en-af wat my dan ook soms noop om drasties van rigting te verander, soos toe my stem-afrigter aan kanker gesterf het tydens Covid. Ek het ophou sing, maar begin skryf. ’n Nuwe genre, maar die perfekte oplossing om my kreatiwiteit uit te leef, sonder om die plaas te verlaat.
Vorentoe.
Vooruitgang en leergierigheid is in my gene. Ek strewe deurlopend na beter in alles wat ek doen, of dit nou in my beroep, of agter die kospotte, of taal, of ma-wees, of bestie vir ’n vêr-vriendin is … die lys hou aan en aan. Selfontwikkeling is vir my belangrik omdat dit my groei as mens definieer.
Die stilte in die tuin word verbreek deur ’n trekker in die wingerd. Vir ’n oomblik vind ek dit steurend. Dan versag my blik in die weerkaatsing van die water by die gedagte van die dankbaarheid waarmee hierdie mense hul dagtaak verrig. My mense. Die mense wat my geleer het dat min genoeg kan wees indien jy dit waardeer.
Agtertoe.
Soms sal ek ’n klein treetjie terug neem om dinge in perspektief te sien. Dit gebeur selde, te wyte aan my impulsiwiteit en oorvloedige adrenalien, maar ek werk daaraan om rustiger te wees.
’n Tweede naaldekoker sluit by ons aan en ek slaan hul paringsdans gade. Hy gryp haar aan die kop en toraks en vlieg sierlik met haar die lug in. Hul vorm ’n amper volmaakte sirkel wanneer hulle volkome een word.
Is die lewe nie ook maar net ’n ewigdurende sirkel nie? Filosofeer ek in die stilte van die laatmiddag. Ek gooi ’n klippie in die water en staar stilswyend na die rimpeling wat koeëlrond wyer en wyer uitkring soos my uitgebreide familie. Almal is afkomstig van die eerste aksie, maar elkeen is besig om in die rigting van verganklikheid te beweeg. Die rimpels word groter, meer afgeplat totdat die oppervlakte weer bewegingloos is.
Die water word versteur deur Mevrou Naaldekoker. Sy steek haar onderlyf in die water om haar eiers te lê, maar hou kop bo water.
’n Sagte glimlag vorm om my lippe wanneer ek dink aan my eie drie rimpelings. Vir hulle is ek liewer as die lewe self. As jy nou die “Jack Russell” in my wil wakker maak, moet jy een van my kinders te na kom.
Die flitsende vlerkies ruk my terug na die werklikheid.
Sonder om te groet, verlaat die naaldekoker haar nageslag en vir my.
Ek kan nie verhelp om te wonder waarheen sy – en ek – op pad is nie. Die lewe is onvoorspelbaar en sonder waarborge. Dis ’n vlietende oomblik in tyd.
Ek kyk vir oulaas na die spieëlgladde beeld in die visdam, knipoog guitig vir haar en sprei my vlerke.
(Woordtelling: 798)
© Retha van Deventer, Februarie 2025.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Februarie 2025 – Water projek