Oranje Poseidon-soene (Silwer)
Oranje Poseidon-soene
ek proe jou kabbelklank in die missproei
smagtend, tastend aan rotswande
jou droogteweersin eggo in die wind se geloei
minagtend stu jy genadeloos voort na benede
donderend druis jou hidro-stem
eggo jy wit in borrellende skuimgolwe
jou tuimelsluier onbeklem’
oor oer-ou ruwwe rotskranse
wat erosie-natgetuig … seepglad
van jou stromende instinktiewe soeke
slingerend, meesleurend jou waterpad
waar jy op ‘n maanblank strand aandoen
roep ek jou ewig vaarwel
wyl jý Poseidon’s voete soen
© Retha van Deventer, Februarie 2025
Voetnota:
Neologisme: tuimelsluier – waterval
Poseidon: god van die see uit die Griekse mitologie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Februarie 2025 – Water projek