Basiese Profiel
Klaskamerkokkedoor
Ek is a ouma van 4 woelwaters. My twee pragtige dogters is die punt van my hart.
My hele lewe lank wou ek ’n onderwyseres wees en dit het my bietjie langer as ander gevat om daardie stukkie papier agter my naam te skryf.
Afrikaans is my een groot liefde en ek hou van die uitdaging om ons mooie taal aan vandag se kinner’tjies te verduidelik.
Ek is nog STEEDS in die onderwys nadat almal lankal groener weivelde gesoek het. Ek is baie lief vir kinders en die beste oomblikke in die onderwys is: wanneer die ligte aangaan.
My familie is mense wat baie oud word en ek is van plan om nog baie lank hier op aarde te wees – daar is net soveel wat ek nog moet leer.
Ek en my getroue vierbenige metgesel, Blikkies, doen alles saam. Ons bly in die laeveld op die skoolterrein. Ons stap, toer saam, al is dit Kaap toe en ondersoek elke boom, bos en klip wat ons pad kruis. Ons drink selfs wyn saam. Die Wildtuin (Kruger) is my happy place en die enigste plek waarheen ek Blikkies nooit vat nie.
Soms hekel ek so bietjie maar dis maar ’n stadige proses. My kinders spot dat as hul ’n gehekelde ietsie wil hê, hulle my ten minste 2 jaar voor die tyd moet vra.
Soms verf ek ’n bietjie, op ’n canvas, beeldjies of maak ’n plakkaat vir my klaskamer.
Ek is gek oor nuwe tegnologie en AI is my nuutste obsessie. Eendag wil ek leer hoe om ’n program te skryf – dalk kom ek daar, wie weet?
Nog ’n droom is om te skryf en ’n boek te publiseer onder my nooiensvan: Steenkamp – ek werk daaraan.
My kollegas en familie is die inspirasie vir meeste van my stories. Dalk het ek nie ’n groot genoeg verbeelding nie, want my stories is almal ware verhale. Jy het geen idee wat mense kan aanvang nie. Ek dramatiseer van die feite maar die basiese inligting is waar.
Ek hou nie van: ongeskikte kinders, bier, eiervrug en McDonalds nie.
Ek is mal oor: Sushi, seekos, T-Bone steak, my kar, my hond, my kinders, my kleinkinders en om ’n juffrou te wees. (Nie noodwendig in daardie volgorde nie.)