Basiese Profiel
Francois Meyer
Francois is op 21 Januarie 1994 in Bloemfontein gebore. Hy was ‘n leerling aan die Hoërskool Fichardtpark en sy digkuns is reeds op skool geprys. Hy het in 2019 sy B.A.Hons.-graad in Kreatiewe Skryfkuns cum laude verwerf.
Hy debuteer met Tempora Animus op 19-jarige ouderdom in 2013. Vandaar het hy Onder die Dekmantel (2015), Digtershart (2016), Pendulum (2017) en tydbom (2019) as digbundels vrygestel. Francois is ‘n kampvegter vir lupus en sy prosaboek Die wêreld deur haar oë was vir twee weke die topverkoper op Kobo Books in vyf kategorieë. Hierdie publikasie is ook in Engels vrygestel.
In 2017 word hy as Ink Skryf in Afrikaans se rubriekskrywer van die jaar aangewys en verwerf ook ‘n tweede plek in die kategorie Digter van die Jaar. In 2018 ontvang hy ‘n Radio Rosestad Roostoekenning vir sy bydrae tot die Afrikanerkultuur.
Sy gedigte Rykdom en Dataverwerking het op die AVBOB Poetry Project-platform in 2018 en 2019 verskyn. Sy gedig Liefde is soos die winter het die top vyftien van LitNet se Liefde is …-poësiekompetisie behaal.
Francois is ‘n selfstandige entrepreneur van beroep en grafiese ontwerp is naas kreatiewe skryfkuns ook een van sy grootste passies. In Januarie 2020 stig hy die platform, Kreatio, ter bevordering van selfpubliserende skrywers en digters se skryfkuns. Hy glo dat dit iets is wat individueel uitgeleef en ontwikkel moet word.
1994-01-21