Versoeking
Versoeking kom klop mos altyd aan jou agterdeur in die nag. Die nagte wanneer die maan weier om sy valse lig deur jou vensters neer te stort en selfs die sterre agter stormwolke wegkruipertjie speel. Ek praat van daardie nagte wanneer dit selfs nog donkerder binne-in jou is. Dis in daardie duister waar die duiwel vir my soos ‘n engel lyk en ek in my gevoellose soektog hoop om iets te vind; iets wat my laat vóél.
Ek sal die snye weer oopkrap net sodat die bloed my kan herinner dat ek nog lewe. Ja, ek lewe (darem) nog. Ek weet regtig nie wat die doel van my hartklop is nie. Versoeking klop vir ‘n tweede keer. Dit het my amper verwoes. Ek wil nie weer ingee nie, want ek herstel mos saam met die snye op my arm. ‘n Belofte aan myself is in my arm gekerf. Te veel beloftes is al teenoor my gebreek. Dalk raak mens dit gewoond.
Dit is koud en stil in hierdie donkerste uur. Ek hoor nie my gewete ritsel nie. Ek kan my geheime nie eens vir die wind fluister nie. Dalk het God my ook verlaat. Versoeking klop vir ‘n derde keer. Plaas sit ek eerder en sjokolade vreet, maar na die negende whiskey maak ek die deur oop.
Versoeking stap binne en trek die streep.
En ek snuif hom.
© Francois Meyer
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 - OOP projek