Met ons gaan dit soms soos ‘n groot klip deur ‘n tregter~ hoe dieper, hoe slegter tog bly ons almal vegters en ligvoets sal ons weer dans deur die lewe.
Dae dobber verby Soos ‘n rivier uit sy gety My lewe hang aan ‘n kaktus Met kleurlose litdorings Gepynig in gif Maar my psige Sien ‘n witomringde iris Wat sweef soos ‘n duif. ©

Êrens, in Elim onder ‘n dunstreepmaan naby windpompe en bome het iéts moois begin toe jou siel saam met fyn misreën oor fluitjiesriet van die hemel afkom en in my hart klim ©Z.Kochk
Waar die wind se rieldans deur die blare swiep en blomme swaai en buig borrel vreugde ekstaties op die soet-getinte klanke van ‘n lentebries se lied ‘n wonderskone melodie. Z.K
Ek sien verby die blom op my vensterbank reëndruppels wat op ‘n wasgoedlyn hang en ek begin verlang na die wegslepende melodië van voëls se louterklank. Z.K


Toe jou sagte glimlag my bereik het my hart snellend posgevat gesweef op ‘n maanvlinderpad word die stratosfeer ‘n nuwe koninkryk want die grond van my hart was bevlek hard en vlak met dorings oortrek. ©Z.Kochk

Kyk, die Vader verander verskroeide grond in poele van riet en dorslande in waterforteine juigende skepping vry en my trane keer t’rug na sy geboorteland waar ek buigend bid op ‘n bergpiek ©Z.K


