Jongste aktiwiteit:

11. Die epiese gedig
vir

11. Die epiese gedig

11. Die epiese gedig

Die epos of heldedig is ‘n vorm van epiese poësie, waarin ‘n belangrike gebeurtenis of verhaal vertel word. Die hoof persone is gewoonlik vorste en helde wat deur karakter, dade en soms liggaamlike krag uitstyg bo gewone mense. Gewoonlik is hulle ook van goddelike afkoms. Die digter vertel ook breedvoerig met die nouste besonderhede sonder om die hoof gebeure of geskiedenis te verloor. Gewoonlik is die digter se houding ook objektief.

In die ouer tipe epos, werk goddelike handelinge in op die werking van die mense. Daar kan gewoonlik twee soorte eposse onderskei word naamlik die volksepos en die kultuur epos. Gewoonlik gaan die volksepos saam met die geskiedenis van die volk waar dit afspeel en word dit opgebou uit liedere wat verband hou met oorlog, volksplanting en see togte wat van mond tot mond oorgedra is. Gewoonlik is daar ‘n groot digter wat die historiese gegewens verwerk het tot ‘n eenheid, waarvan die naam baie kere onbekend is.

Van die belangrikste volks eposse is Homerus se “Ilias en Odyssee,” wat waarskynlik kom uit die negende eeu voor Christus. Ander volks eposse is die hoog Duitse “Nibelungenlied” Die anglo-saksiese “Beowulf” en die ou Franse “Roelandslied,” wat die dood van een van Karel die grote se onderbevelvoerders besing.

Die kultuur epos is in vorm en gees die skepping van een persoon. Die gee ‘n uitvoerige blik op ‘n gebeurtenis wat deur een digter ontwerp en self uitgewerk is en kan ook uit die geskiedenis of oorlewering van sy volk kom soos wat Vergillius in sy “Aeneis” die lotgevalle van die Trojaanse held vertel. So ook skryf die Portugese digter Camoëns in “Os Lusiados” oor heldedade van sy volksgenote soos Vasco da Gama.

In Dante se “Divina Commedia” word ‘n visioen beskryf in allegoriese vorm van die vagevuur, hel en hemel. Die Italiaanse digter Torquato Tasso besing as held Godfried van Bouillon in die eerste kruistog. John Milton se “Paradise Lost,” is ‘n epiese voorstelling van die opstand van die afvallige engele. Friederich G. Klopstock se “Messias” handel oor die verlossing van die mens deur Christus.

In die Afrikaanse digkuns bestaan daar N.P. Van Wyk Louw se “Raka,” wat baie van die kenmerke van ‘n epos besit. Dit het ‘n grootse onderwerp oor die ondergang van ‘n inboorling stam met die indringing van Raka, ‘n brutale geestelike mens dier gedaante of mag uit die geheime plekke. Die botsing van die twee hoof figure is ook groots waar die held Koki moedig te staan kom teen Raka as ‘n tipe antiheld. Hier kom die beste geestelike waardes van die gemeenskap te staan teen dierlike onaardse, bose magte in die mens.

Ander epiese gedigte in Afrikaans is “Martjie” van Jan F.E. Celliers en “Sjaka” en “Joernaal van Jorik” van D.J. Opperman.

My gedig “Gilgamesh,” is my eie indrukke van die antieke en waarskynlik oudste epiese gedig wat die verhaal van Gilgamesh is. Wat in Babelonië in spykerskrif geskryf was sowat 2000 v.c. en die hoof karakters is die Babaloniëse koning Gilgamesh en die brutale man Enkidu, wat teen mekaar te staan kom en na ‘n geveg vriende word in die stad Erech (Uruk) waar die huidige stad Warka in Irak is. Die twee trotseer dan gevare en ondiere saam en sommige skrywers glo dat Bybelse skrywers die vriendskap van Dawid en Jonatan hierop gebaseer het. Daar is ook ooreenkomste met die sondvloed verhaal van die Bybel. Ek sluit nie die twaalfde tablet by hierdie gedig in nie, aangesien dit as ‘n later aanhegsel beskou word en daar drastiese kontraste in inhoud is.

Vandag is daar bewyse dat Gilgamesh werklik tussen 2700 tot 2500 v.c. gelewe het en moontlik die beroemde jagter Nimrod was, of dalk was hy slegs koning van die stad Uruk en van die landstreek Kus.

Ek het van Maureen Gallery Kovacs se Engelse vertaling van Shin-eqi-unninni se tablette gebruik gemaak, maar ook na van die ander vertalings gekyk. Die bronne wat ek geraadpleeg het, het voorgekom as vertalings in Engels in prosa vorm.

Ek sluit ook my gedig “Beowolf” hierby in wat ek geskryf het na aanleiding van die oorspronklike Engelse gedig. Dit is nie ‘n vertaling van daardie gedig nie. Dis my eie gedig.

Gilgamesh

Inleiding

My oog vang vir forse koning Gilgamesh
waar hy sy verhaal nalaat as ‘n ewige lewensles.
Ek sien die sweet
op die grootse digter Shin-eqi-unninni
wat in strale afloop
en hoe hy sy bo klere afstroop,
voordat sy hande duisende jare terug skryf,
die boodskap weer in spykerskrif
in klei tablette in dryf.
In my geestesoog sien ek
hoe Maureen Gallery Kovacs die verhaal,
uur na uur uit spykerskrif uit haal
en in Engels vertaal.

Wie was die man wat die geheime
van verbode plekke ken
en alle vroue se harte so maklik kon wen
en kennis dra van die wêreld voor die vloed;
en weet van kwaad of goed
en met groot heldemoed
die demoon Humbaba verslaan
en tog nie die slinkse skelm slang
se lis kon weerstaan
en die geheim
van om ewig te lewe verloor het?

I. Gilgamesh en die koms van Enkidu

In antieke tye toe die wêreld nog jonk was
het ‘n helde koning
in mesopotamië in die stad Uruk sy woning
naby aan die Eufraat rivier gebou
en van geen vrou sy hand terug gehou nie.

Sy onderdane was glad nie beïndruk
met sy gedrag nie en elkeen,
het lang trane gaan ween
en wou sy eie vrou gaan trou
en hê as net syne, maar Gilgamesh
was verskriklik slim en sterk
en geen plan kon teen hom werk nie.

Die mense in Uruk smeek die gode
om hulp met Gilgamesh
en in die wildernis
skep Aruru toe vir Enkidu as ‘n lewensles.
Enkidu se liggaam is met hare bedek
en dis ‘n vreemde kleed
wat hy as gewaad aantrek.
Saam met die wilde diere wei hy aan gras
en by die water gat is
waar hy suip en homself afwas.

Gilgamesh droom van ‘n meteoriese rots
wat met ‘n knal
uit die blou lug uit val
en te swaar is om te op te tel
en te sterk is om te breek
en van ‘n geweldige groot byl by ‘n bruidskamer
waarmee hy nie sy tyd kan verwyl.
afgesien van hoe hard hy ook al
sy hand daarna uitsteek.

Rimat-Ninsun die moeder van Gilgamesh
begin om sy drome te lees
en sê aan hom dat daar ‘n magtige vriend
uit die wildernis gaan kom
en sy lewe gaan red
en ‘n bondgenoot en adviseur gaan wees.

‘n Bekende wild jagter vertel
dat al die diere so uitgeslape en verskrik is
dat sy niks meer verstrik nie
en dat ‘n onverskrokke sterk oermens
uit die berg al haar strikke verbreek
en vir haar wegsteek.

Gilgamesh besluit om vir Shamhat
die beroemde tempel prostituut te ontbied
en gebied haar om die oermens
vir ‘n week lank te gaan verlei
en met haar liggaam te toor
en hom so te laat lekker kry
dat hy al sy kragte verloor.

Shamhat wag vir langer as ‘n dag by ‘n poel
terwyl die water koud oor haar naakte lyf spoel
en asof uit die niet verskyn
die oermens Enkidu
wat so lank as hy wil met haar speel
terwyl sy van hom sy wildheid en kragte steel.

Shamhat vertel vir Enkidu van Gilgamesh
terwyl hulle so saam slaap
en van Gilgamesh se wysheid
en sy glorie en sy drome
terwyl Enkidu haar in sy arms opraap.
Sy sê dat sy Gilgamesh bemin
sonder rede of sin
en as Enkidu na die diere by die watergat uitreik
hardloop hulle verskrik weg in die bome in.

Later skeur Shamhat haar kleed in twee
en beide sy en Enkidu word daarmee geklee.
Toe kan Enkidu nie meer
soos ‘n wilde dier rond hol
en is sy lewe vol
van die dinge wat sy hom leer.

Priesteres Shamhat oorreed toe vir hom om haar
te vergesel na Uruk
en die tempel van Anu en Istar waar
sy op heilige grond haar pligte gewoonlik doen.
Enkidu gee haar ‘n passievolle soen
en hulle vat die pad
na die magtige groot stad Uruk toe.

II. Gilgamesh en Enkidu veg en word vriende

Net waar Enkidu naby die stad kom
bewonder die mense daar vir hom.
By ‘n herders kamp ontmoet hulle ‘n vreemdeling,
wat kosbare geskenke met hom saambring
waarop Shamhat hom vra
waarheen hy al die geskenke dra?

Die man antwoord
dat hy die geskenke na Uruk toe vat
waar sy beste vriend trou,
maar dat die koning daar
eers met die nuwe vrou gaan slaap
en dan sal sy vriend na sy bruid toe gaan.
Enkidu vererg homself
en vra waar die bruidegom
daaraan kom om dit toe te laat?
Die vreemdeling antwoord dat sy maat
geen keuse het nie want Gilgamesh
is sterk soos wilde bees,
en dat elkeen hom waarlik vrees
want mens kan moord in sy oë lees.

Enkidu word toe smoor kwaad
en wil dadelik na Uruk toe gaan,
want hy is ‘n wilde man uit die bos uit.
Hy kan hierdie saak nie net so laat staan
en los nie, en hy weet dat niemand
hom plat sal kan slaan nie.

In Uruk se strate staar die mense hom aan
terwyl hy verby gaan,
totdat hy homself
by die bruidskamer se deur opstel
en daar sy vuiste bal en dreigend optel.
Enkidu en Gilgamesh
slaan mekaar en raak rof aan die stoei,
en naderhand is elkeen van hulle aan die bloei.

So veg hulle deur die nag voort
tot die volgende dag
en die bruidskamer se deur
en die stad se poort bly in die slag.
Terwyl beide stukkend en poot uit is,
is hul woede geblus en staan hulle en rus
en reik mekaar die hand
en sluit ‘n vriendskapsband
en druk mekaar stewig vas.

III. Vriendskap en gerig van Humbaba

Soos vriende maar maak
het Gelgamesh en Enkidu saam gewerk,
saam gepraat, saam gespeel en gekerk.
Op ‘n dag in die tempel vertel Shamhat
hulle van die monster Humbaba wat
in die Weste in die sederwoud bly
en vuur uitskiet wanneer hy brul
en as mense sy stink asem kry
hulle dood neerslaan en versteen.

Daar is nie ander bewerkbare bome nie
en Enkidu wat uit die woude kom
het groot respek vir die monster demoon
wat mense stom
laat staan van blote vrees
en rou wortels laat vreet,
eerder as wat Humbaba kans kan kry
om hulle op te eet.
Gilgamesh sê dat net die gode
vir ewig kan leef
en dat hy die seders gaan afkap
en na roem gaan streef,
deur bekend te wees as die man
wat die demoon verslaan het.

Die mense van Uruk
wil niks van Gilgamesh se planne hoor,
en in hulle oë soek
net mal mense met monsters skoor.
Die twee boesemvriende besluit toe saam,
om na die sederwoud toe te gaan.
Hulle tref voorbereidings en ysteroksied sand
word gesmelt en geslaan
en om gevou en gloeiend warm
weer plat geslaan,
en so is dit wat hulle pantser pakke,
skilde en wapens ontstaan.

Die raadgewers mor en praat met mekaar
en van die wyses is almal daar,
maar te bang om saam te gaan
en by die Seder bosse gevries te staan.
Hulle meen dat Enkidu
voor aan die punt moet veg
en moet lei tot by die Seder bosse
aangesien hy die pad ken,
en Gilgamesh die kol
met elke slag moet tref en besleg
en van agter af die geveg moet wen.

Boeë word met sterk senings gespan
en pyle beman
en byle, spiese en swaarde
word vonkend skerper gesluip,
en planne word gesmee
so goed as wat hulle kan.
Nadat hulle beide hul oorlog gewaad omklee
gaan hulle vir Rimat-Ninsun groet,
waar op die tempel dak biddend
op haar knieë rondkruip
en smeek dat Shamash hulle moet behoed;
terwyl die oggend son sy eerste strale strek
voordat die sonlig al Uruk se mense wek.

Dit is asof Rimat-Ninsun
in die oggend lig soos ‘n godin gloei
terwyl sy worstel met die emosies
waarmee sy stoei,
en van haar nek haar kosbaarste amulet neem
en gee aan Enkidu
wat sy ook soos ‘n seun liefhet.

IV. Geveg met Humbaba en die seder bome

Binne drie dae reis hulle so vêr
as wat ander mense in ‘n maand en ‘n half aflê
en navigeer steeds Wes met son en ster,
want die sederhout wil hulle met ‘n seer hart hê.
Toe hulle by die sederwoud uitkom
sien hulle die pad wat Humbaba uitgetrap het,
maar heel verstom sien hulle geen teken van hom.

In die woud is dit rondom hulle duister
van die skadu’s van die bome
wat so naby aan mekaar groei,
en hulle hoor die wind deur die bome fluister
asof onheil daarin broei.
Gilgamesh en Enkidu is doodbang
en daar is net takke wat rondom hulle afhang.
Hou vir hou kap Gilgamesh se magtige byl
terwyl Enkidu met ‘n swaard
in die hand die tyd verwyl
en hulle regterkant beskerm
en die voëls uit die bome uit vlieg
en in die lug saam swerm.

Rondom hulle val die bome een vir een
en die wolke trek drygend toe
en dit begin om te reën,
en beide van hulle is koud en nat.
Toe die monster met sy klappende bek
waaruit vonke spat
deur die bome bars en sy tande
drygend op mekaar knars,
vlug Enkidu vreesbevange voor hom uit,
weg uit die bosse uit.

Gilgamesh hardloop agter Enkidu aan,
tot waar hy moeg stil gaan staan.
Twee van ons kan daardie ding in stukke slaan,
en Gilgamesh oorreed Enkidu
om saam met hom terug te gaan.

Humbaba spot met Gilgamesh
en sê watse soort van koning is jy
wat van sy onderlinge opdragte kry,
en is jy ook te bang om alleen
in die woude agter te bly?
Kom uit tussen die bome uit
sodat ons jou in stukke kan kap
en weg kan smyt, tart Enkidu terug
en die Humbaba ding is nou smoorkwaad
en daar is rook wat uit sy neus uit slaan.

Die aarde bewe terwyl Humbaba daaroor
op hulle af storm
en so ver as hy wat hy aankom blaas hy vuur
en hy verskroei hulle solank as wat die geveg duur
en later is hulle vasgekeer teen ‘n hoë rots muur.

Bo in die lug sit die wolke dig
en dit is asof die gode self weerligte
op hulle neer rig.
Gilgamesh roep na Shamash om hulp
en ‘n verblindende lig
tref ‘n rots bokant hulle wat verby val
en die aanstormende Humbaba demoon
tref met ‘n knal.
Met sy swaard in sy hand gaan staan
Gilgamesh by Humbaba se kop,
net waar die groot rots die monster omdop.

Dit is asof daar ‘n lig uit die hemele skyn
en Humbada verblind
voordat dit weg verdwyn.
Humbaba skud verbysterd sy kop
en smeek om sy lewe
en belowe om na Gilgamesh
as sy meester te strewe;
as hy die swaard gewaar
wat met doodse gevaar
bokant hom hang
en die glimmende lig sy oë vang.
“ Jy moet die gruwelike ding nou doodslaan!
Voordat die gode hom kom red en jou keer
en jy nie weer so ‘n kans kry nie,”
skreeu Enkidu aan Gilgamesh
wat versteen by die monster staan
en die stink asem voel blaas oor sy wang.

“Mag Enkidu van die lewe weg verdwyn
en stadig in die dood in wegkwyn.
Enkidu, vervloek is jy
en vervloek sal jy vir altyd bly;”
bars die monster uit
voordat Gilgamesh sy kop af kap
en die twee vriende sprakeloos
en verstom om die dooie demoon stap.

Hulle kap en kap
en selfs die hoogste boom
wat aan die wolke raak,
word timmerhout van gemaak
So werk hulle aan en aan
en dag vir dag tot die son ondergaan,
word die seders gevel
totdat daar te veel is om te kan tel.

Dit is biddend aan Shamash
wat hulle die bloed van hulle afwas
en op ‘n vlot ry Gilgamesh
met Humbaba se kop op ‘n mas.
Hy dink aan die poort wat hy
by Uruk vir die gode wil bou
en bokant hulle is die lug oop en blou.
Enkidu stuur die vlot saam met
die vloot van gekapte bome,
wat met die sterk water strome
van die magtige Eufraat af spoel.

V. Ishtar en geveg met die Bul van die Hemele

Gilgamesh is ‘n grootse dapper held
wanneer hy Uruk nader
en in die stad is daar ‘n skare vergader.
Hy het sy koninklike purper kleed aan
en op sy kop skitter sy goue kroon.
Die mense juig so ver hy gaan
en buig met ontsag tot by sy troon;
terwyl sy helde beeld
tot in die hoogste hemele opslaan.

Selfs goddelike prinses Ishtar sien hom
waar hy uit die wildernis as ‘n held terugkom.
Sy is oorweldig by alle lus verby
en besluit om Gilgamesh nou te kry,
en verby die dagbreek
en harder as die wildste perd te ry.

Met sy koninklike septer in sy hand,
kyk Gilgamesh
vanaf die paleis se dak na sy land,
wat tot in die verte uitstrek
waar die son die lyn met die horison trek.

Bo in die lug glinster ‘n magiese strydwa
wat ‘n koninklike prinses rond dra
en die mense staan verstom,
want die mooiste goddelike blom
het van die hemele af neergekom.

Waar sy by haar tempel staan
is sy ‘n goddelike mooi vrou
en soos ‘n blom wat oopvou
vang haar geurige parfuum hom.
Hy staan heeltemal verstom,
terwyl sy verby
na die paleis trappe toe gaan.

Shamhat val eerste voor haar voete neer,
maar niks en niemand kan haar keer
terwyl sy verby die paleis wagte bars
en die troon kamer se deur oop laat knars.

Dadelik weet Gilgamesh
dat Ishtar beeldskoon voor hom staan
en haar helder blou oë
boor in sy diepste siel in
en dit sny verby elke rede en sin
en hy is in ‘n oomblik vasgevang
en dit is asof sy hele lewe
voor sy oë verbygaan.

Haar pragtige stem
klink sag en liefderyk in sy oor
en dit is asof sy hom
met liefde probeer toor.
“Liefste Gilgamesh, kom trou met my
dat jy heerskappy
oor die hele koninkryk van Kus kry.”

“Groot wilde bees van Uruk,
laat ek wellus in jou oë lees.
Vat my hand en word deel van my,
sodat jy waarlik in my lekker kan kry.”

Met een beweging
staan sy nakend voor hom
en Gilgamesh is verstom
deur die skoonheid
van die mooiste vrou van alle tye.

“Gilgamesh, kom slaap nou by my
en al die rykdom
van die aarde sal jy kry
en met ‘n goue strydwa
wat deur donder perde
getrek word sal jy ry.”

“Elkeen met mag
sal voor jou gesag kom neerbuig
en hulle kinders na jou toe dra
en om jou seëninge vra.
Bemin my nou
en neem my as jou vrou
en ek gee dit alles aan jou.”

“Ishtar, godin van liefde,
wat kan ek aan jou gee,
wat jy nie reeds al het nie?
Hoe kan ek weet
dat jy nie ons liefde gaan besmet nie?
Wat bly daar vir my oor
wanneer passie sy krag verloor?”

“Ishtar, godin van die liefde,
jy weet beslis nie
wat ware liefde en self opoffering is nie.”
Sy stem klap in haar oor
en is dit spot wat sy daarin hoor?
In Ishtar se hart is daar pyn
en sy wonder
hoe hy haar so kan verklein
en haar gevoelens so kan versmoor?

Hy wat elke vrou se hart met gemak wen
en nie die einde van sy plesiere ken
en van wellus ‘n meester is,
vra haar of sy die liefde wis?

“Ek weet dat jy liefde aan seisoene,
tyd en geleentheid meet
en as die passie verby is
verkies om van jou minnaars te vergeet.
Wat het met al jou vorige minnaars gebeur
en wat het van hulle geword
en wat is nou met hulle almal skort?”

“Wat het met jou geliefkoosde duif gebeur
en waarom is sy vlerk beseer?
Waarom het jou magtige leeu
in sewe putte in geval
en hoekom is daar ‘n sweep
wat op jou perd se rug knal?
Selfs jou Vader se dadel tuinier, Ishullanu,
het jy in ‘n padda verdwerg
nadat jy jou verg het.
Nou, wat van my?
Wat beplan jy vir my,
as jou liefde ‘n einde kry?”

“Al wat ek van jou godin Ishtar vra;
is klim in jou goue wa
en laat dit jou
na die hoogste hemele toe terugdra.”

In ‘n erge woedebui,
is dit wat Ishtar
toe terug in die hemele in ry.
By haar Vader Anu bars Ishtar los
oor Gilgamesh se gedrag.
“Wat is verkeerd?
Hoe het jy vir koning Gilgamesh uitgelok”
wil Anu, verstom en geskok
van die verwende Ishtar weet.
“Gilgamesh het geen eer
en respek vir my
en al wat ek by hom kry
is beledigings en vervloekings en so eer
hy nou vir my as godin.
Vader gee my die Bul van die Hemele
dat ek hom ‘n les kan leer
en dwing om homself te bekeer;
of anders sal ek die poorte
van die hel self oopmaak
en heeltemal van Uruk
en sy mense ontslae raak.”

“As jy die Bul van die Hemele by Uruk loslaat,
sal dit daardie plek tref
met sewe jaar van hongersnood
en dan is meer as net Gilgamesh daar dood.
Wat gaan dit jou in elke geval baat”, vra Anu.

Ishtar lei vir Gugalana
aan sy neustou af na Uruk
en los die Bul van die Hemele
langs die Eufraat rivier
om daar moeilikheid te gaan soek,
waar Gugalana staan en stof opskop
en soos ‘n mal ding op en af hop.
Gugalana die mal dier
gee ‘n wilde snork en ‘n gat verskyn,
waarin een honderd man in weg verdwyn.

Enkidu sluip nader aan die dier
en gryp dit aan sy digte stert vas
en Gilgamesh lig sy magtige swaard
en dryf dit soos ‘n slagmes,
tussen die nek en horings in
en so leer hulle die gode ‘n les.
Hulle gee die dier se hart
as ‘n offer aan Shamash,
voordat hulle die bloed
van hulle hande af was.

Ishtar klim toe tot bo op die stadsmuur
van waar sy vir Gilgamesh en Enkidu af aangluur.
“Vervloek is Gilgamesh wat teen my laster”, skreeu sy
en Enkidu laat haar,
die bul se agterkwart in haar gesig terug kry.

VI. Dood van Enkidu

In die duistere nag droom Enkidu
van die gode wat vergadering hou,
omdat hy en Gilgamesh verbrou het.
“Hulle het teen ons gerebelleer
en een moet sterf
en daal na die verderf.
Gilgamesh het my boom
wat tot by die hemele ryk,
platgeslaan en in stukke gekap
en soos ‘n dier vertrap
en nou kan ek nie sonder pyn
meer in die woude stap”,
sê Anu woedend.

“Laat Enkidu omkom
en sy lewe ophou blom
en dit vir sy vriend Gilgamesh ‘n les leer,
oor wat gebeur
as hy verbode dinge doen en teen die gode
in opstand kom,” bars Enlil bitter uit.

“Laat ek aan julle twee meld
dat daar nie ‘n groter held is,
as enige een van daardie twee
en dat dit teen hemele sal skreeu
as ons, ons teen hulle vergeld.”

“Laat ek vir julle twee vertel
dat beide Gilgamesh en Enkidu op my bevel,
na die Seder woude toe gegaan het
om daar bome plat te slaan
en dat ek nou vir albei instaan.,”
merk Shamash met erns op.

“Hierdie onregverdigheid moet nou stop
en laat ons die mense
van geregtigheid en eer
‘n les leer,” beweer Shamash
en gaan staan met sy helder wit lig
wat na balans toe lei
tussen die ander twee gode,
wat nou nog meer woedend voort stry.

So gebeur dit toe dat die vloek
van bedorwe Ishtar ‘n werklikheid word
en sonder dat enige doktor kan bepaal
watse kwaal met hom skort
en weet wat met hom gebeur,
Enkidu weg uit die lewe uit begin teer
en dit die dure les
aan sy vriend Gilgamesh leer
dat selfs gode seuns op ‘n tyd en plek sterf.

“Dit is so onregverdig
dat jy nie hier by my kan bly
en ek kan nie verstaan
waarom juis jy moet vergaan
en ek nog met die lewe voort kan gaan,”
sê Gilgamesh
en die trane stroom van sy wange af
en die sware straf
vreet hom van binne af op.

“Daardie grootse boom…
daardie boom
wat tot in die wolke wou bars,
lei my nou verby die donker stroom
en as ek net kan ophou droom
en mens kan wees
en nie soos ‘n spook gesigte lees
sou ek dalk nog by jou kon bly,
maar ‘n gode vloek
laat geen hoop oor vir my,”
stotter Enkidu sy laaste woorde flou uit.

Met die eerste son strale wat aan die rante lek
en gloeiend aan die horison hang
en die eerste oggend wind wat geure vang
en die aarde met blare bedek
het Gilgamesh sy bevel verstrek.

Van orals het die beste kunstenaars na Uruk gekom
om ‘n beeld van Enkidu op te rig,
wat mense verwonder en selfs die gode verstom
en daar offer Gilgamesh heuning
en room aan die god van lig.

VII. Soektog na onsterflikheid

Gilgamesh huil terwyl hy deur die wilderis loop
en voel gestroop
van wat betekenis aan die lewe gee.
Hy wonder of hy ook soos Enkidu gaan sterf
deur gode wat bose planne smee.

Hy skud sy kop in smart
en die lewe sonder Enkidu
is skielik baie hard
en hy wonder verward
waarom Shamash god van lig
en geregtigheid nie eens die lot
van die mensdom kon verander nie
en weet dat die noodlot vir hom
ook die dood met tyd gaan bring.
Gilgamesh rig sy oë op na die son daar bo
en bid dat Shamash hom moet lei,
tot waar die lewe weer betekenis kry
en dat sy lewe moet ophou
om doelloos voort te string.

Skielik onthou Gilgamesh van sy voorvader
Utanapishtim wat soos ‘n god,
nog steeds bly lewe en behoed
was van die groot sondvloed.
Utanapishtim lewe soos ‘n heilige
in die Dilmun paradys
waar gode soms verskyn
en weer verdwyn
en aan hom steeds sy pad uit wys
in wat oor is
van die tuin en daar verloor is.

Ek sal na die streek van Utanapishtim
na die seun van Ubartutu gaan,
besluit hy in die ondergaande gloed van die son
en laat die sterre en die maan sy pad uit baan.

Dae lank trek hy deur die onbekende wildernis
sonder enige hindernis;
maar een middag laat gaan hy by bergpasse staan
om te kyk of daar ‘n pad deur gaan.
Voor hy hom kon kry is Gilgamesh omring,
deur ‘n string honger leeus
wat uit die stof uit slaan.

Hy span sy boog en mik elke skoot hoog,
teen elke dier se nek
en so skiet hy byna twaalf van hulle vrek
sonder dat hy in een se bek te lande kom.

By berg Mashu is daar skerpioen wesens
wat mense laat verstar van vrees,
Maar daar is slegs deursettingsvermoë
in Gilgamesh se oë te lees.
“Slegs ‘n god sal na ons toe aan kom,”
sê die skerpioen man verstom.
“Hy’s twee dele ‘n god en een deel mens,”
antwoord die skerpioen vrou
en swaai haar dodelike angel klou.
“Waarom het jy so vêr gereis
en wat kom jy hier van my eis?
Wie is jy wat ons dood hier kom uitdaag
en waarom kom jy dit dan waag?”
Vra die skerpioen man
en sy klou lyk soos ‘n boog.
“My voorvader Utanapishtim
wat deur die gode omhoog
verlos was en vir altyd nog leef, moet ek vra
omtrent lewe en dood.”
Dit is stilte wat die laaste woorde dra
waar Gilgamesh se hart bly vra:
“Maak oop die hek, sodat ek deur kan gaan
voordat die dood my ook plat slaan.”

“Geen mensekind
het ooit op daardie pad gegaan
en geen mens kan die pad verstaan
en die elemente daar weerstaan…”
Weer praat Gilgamesh se hart
en vertel van al sy smart voordat dit sê:
“Maak oop die hek, sodat ek deur kan gaan
voordat die dood my ook plat slaan
en net stukke van my hier bly lê.”

Beide skerpioene sê toe: “Die hek is oop.
Jy kan veilig deur die tonnel en bergpasse loop.
Jou hart praat met elke slag en lei jou dag na dag.”

Sonder ‘n vriend
het Gilgamesh deur die tonnel geloop
en om hom was duisternis en geen klank
en ‘n wind het uit die Noorde
met ysige koue aan sy gesig gelek.
So het Gilgamesh met net sy vel klere
deur die ys velde getrek,
maar niks kon sy hoop afstroop
en hy het van rotsbank
na rotsbank oor berg Mashu geklim.

Toe die son opkom
is daar kleure
en klank en geure rondom hom
en staan Gilgamesh in ‘n tuin
met blomme en vrugte
en plante aan alle kante
tot waar dit aan die horison verdwyn.
Langs die tuin is ‘n see,
waarnatoe hy hom haas met elke tree.

Langs die groot see
bly Siduri met haar kroeg
waar sy werk van vroeg
tot laat en haar goue kelk
skitter in die aandlig
en by die pad sien sy ‘n snaakse gesig.

Die meisie wat mense reddende drankies gee
en ‘n goue kelk daarvoor kon smee,
sien Gilgamesh
en hy lyk soos ‘n wilde mens
en twee dele god
en sy verwens sy aankoms want vir haar
lyk hy soos gevaar.
Toe sy hom sien sluit sy haar deur,
sluit sy haar hek
en alles word dig toe getrek.

Die klap geluide van haar slot
rig Gilgamesh se aandag op haar
en hy loop na waar haar huisie is
en klop aan die deur en vra beslis:
“Taverne vrou, waarom sluit jy jou deur,
sluit jy jou hek
en word alles teen my dig toe getrek?
As jy my nie inlaat nie
sal ek jou hek breek
en ook jou deur
met my swaard stukkend steek.”

Die vrou wie se drank die siel verfris vra:
“Waarom is jy so moeg en afgemat
en is jou siel so verteerend sat
en lyk jy soos iemand
wat oor die wêreld trek
van plek na plek
en orals na genade soek
maar vervloek bly.”

“Ek mis my getroue vriend
wat my met die lewe versoen het
en saam met wie ek
grootse dinge gedoen het.
Hy skud sy kop in smart
en die lewe sonder Enkidu
is skielik baie hard.
Ses dae en sewe nagte
het ek oor hom getreur
en daaruit geleer
dat dieselfde lot met my gaan gebeur.
My vriend Enkidu is nou weer klei
en dieselfde lot wag op my.”

“So taverne vrou,
waar loop die weg na Utanapishtim?
Oor watter berge moet en nog klim?”
“Gilgamesh, daar was nog nooit ‘n weg
en niemand het van die vroegste tye
die rigting daarvan besleg
en daardie see deurkruis
waar die waters van dood saam bruis
en slegs die dapper son
kan tas deur daardie nag
en dit verander in die dag.
Mense kom en gaan
en slegs gode bly vir ewig lewe
en dit is hoe die noodlot
van ewigheid af vir mense strewe.”

Toe reis Gilgamesh verder aan
langs daardie see,
tot waar hy die boot man van Utnapishtim kry.

“Ek is moeg gesoek na die plek
waar Utnapishtim bly
en watter rigting moet ek neem
om by my voorvader uit te kom?
Wys my die wee en elke tree,
waar ek die geheim
van ‘n ewige lewe kan leer
en ek bevry kan word
van dood se hou vas.
Wys my waar
om na die ewige lewe te tas..”

Uiteindelik sê Urshanabi die boot man:
“Bring my drie honderd pale van sederhout
om ‘n boot mee te bou.”

Toe klim Gilgamesh
die heuwel tot by die woud
en kap met sy magtige byl bome af
soos wat net ‘n gode seun kan
en met pik en tou
word ‘n boot toe gemaak
en saam word dit versigtig te water gelaat,
op die dodelike see
waarvan die waters woes skommel en slaan.

Dit is ‘n gevaarlike vaart
sonder ‘n kompas of ‘n kaart
en die boot hou aan dobber
asof dit met tye om wil slaan
in die duister see
van die mens se lewens wee,
wat om hulle spoel en was
en met sy diere velle
maak Gilgamesh ‘n mas
sodat hulle kan ophou
om na die oewer rond te tas.
.

VII. Die sondvloed en terugkeer na Uruk

Toe die boot direk na die oewer vaar
en Gilgamesh virUtanapishtim daar gewaar,
staan hy na hom en staar.

Gilgamesh wil reik vir ‘n swaard of ‘n mes
maar Utanapishtim se gesig leer hom ‘n les
en sy arm sak asof verlam,
want hoe die vreemde man lyk
is soos om na sy eie gesig te kyk

“Jy is nes ek en ek is net soos jy.
Sê my hoe is dit moontlik dat jy nog leef
en tussen die gode wandel
wat soms verskyn
en weer weg verdwyn
en hoe kan ek ook daarna streef?”

“Gilgamesh, laat ek aan jou die verhaal vertel
wat ‘n geheim van die gode is.
Jy weet sekerlik van die verwoeste stad Shuruppak,
wat op die banke van die Eufraat riviere was

Die altyd waaksame Ea het daar aan my gefluister
en gesê om aandagtig na hom te luister.
Deur die dak riete van my paleis op die hoofstraat,
het daardie god met my gepraat.

“Mens, bou vir jou ‘n groot boot
en laat wat jy het net hier agter
en laat elke lewende ding in daarin gaan
en maak seker dat jy dit baie dig slaan,
sodat dit ‘n oorvloed van water kan weerstaan.
Waarsku almal in Shuruppak
waarom jy op pak
en om in die skip te kom skuil
en hul tyd daar te verwyl
totdat die waters kom.”

“Toe doen ek soos wat Ea my beveel het
en van orals af ,
het mense hout gebring en pik en teer
kom help aansmeer.
My kinders help
en ek betaal my werksmense
na elkeen se wense
en terwyl die skip gebou word,
slag ek skape en beeste
en vier my werkers elk aand feeste
asof niks ooit in die lewe kan skort nie.

Toe dit net mooi klaar is
laai ek my mense
en alles wat ek het daarin
en bêre ons kos en alles wat ons nodig kan kry.
Toe laai ons baie diere
en hulle loop gedwee een vir een verby,
na plekke op die skip
en wag ons tot die vloed begin.

Soos wat Ea voorspel kom
daar toe vir die eerste keer reën
en waters kom van orals byeen
en ek sluit my ark en seel dit dig
en dit is tot Ea wat ons in die boot gebede rig.

Met die eerste oggend lig
sien ek ‘n swart wolk op die horison
en skielik is daar weerlig
en vir dae geen son
en water wat van orals af stroom
en alles buite die boot sterf
en plante en diere
en mense gaan na die verderf.

Dae en nagte blaas die Suidewind
en die heuwels en berge word
verspoel en alles word verslind;
en selfs die gode was verskrik
en deur die weer verblind.

Alles op die aarde was verwoes en omgekeer
deur die verskriklike swaar weer
en geen van die ander gode
kon vir Enlil die opperheer keer.

Vir ses dae en sewe nagte hou dit aan met reën
en hoor ons die stormwind se geween,
maar op die sewende dag is die Oseaan kalm
en die winde dood
en die wêreld is te stil…dood stil.
Toe ek die deur oopmaak staan ek en talm
is daar trane wat rol oor my wange
en ‘n groot verlange na dit wat eers was
en orals dryf dooie dinge wat mens laat gril.

Ek sien die son
waar dit vir die eerste keer weer hang
en voel hoe die warm strale my vang.
Ek kyk uit na die horison,
maar orals is daar net water
en veel later voel ons die ark
teen berg Nimush strand
en ons soek na droë land.

Na sewe dae
wat die boot op die berg rus
laat ek ‘n duif los
en dit vlieg weg en weer terug na my,
omdat dit geen landingsplek kon kry.
Die volgende dag
stuur ek ‘n swaeltjie uit,
wat terugkeer na die skuit.
Toe laat ek ‘n raaf gaan
en dit vlieg weg van my
om altyd weg te bly
en daarna laat ek al die voëls en diere vry.

Ek vang toe ‘n skaap
wat ek as offer opstel
en al die gode is almal saam
met blydskap daar,
behalwe Enlil
wat met woede na my staar.

“Hoe kon jy dapper god alle mense tot niks tel
en watse verhaal word van so ‘n god vertel,
as daar niks en niemand is om hom te volg,”
protesteer die ander gode
en Enlil voel beskaamd.

“Toe daal Enlil self langs my neer
en vat ons hande en soen ons teer
en kniel saam met ons begin self
om ons te seën en te leer;
en toe het dit gebeur
dat ek nie meer ‘n mens was nie.
Toe het die gode besluit
dat ek hier tussen hulle moet bly
en tussen die gode wandel
wat soms verskyn
en weer weg verdwyn.”

“Hoe kan ek ook daarna streef
om vir ewig te leef,”
vra Gilgamesh nog ‘n keer
en is vasberade
om iets by sy voorvader te leer.

“Wag! Jy moet vir ses dae
en sewe nagte wakker bly
en dan sal ek die gode
vir jou bymekaar kry.

Net toe Gilgamesh
met sy kop tussen sy bene sit
raak hy aan die slaap en sit en indut
en maak Utanapishtim se vrou brode;
wat later nie meer vars is,
vermuf is en aangeslaan is
om vir Gilgamesh te bewys
dat hy wel geslaap het.
Toe hulle hom wek
gaan Gilgamesh een kant staan
en skud sy kop.

Voor hy kan vertrek laat Untanapishtim
vir Gilgamesh soos koning ‘n aantrek
en vertel hom van ‘n bosdoring plant
wat onder die dodelike waters groei,
en daar soos ‘n roos bloei
en wanneer dit mens steek
word ouderdom verbreek.
Toe bind Gilgamesh groot rotse
aan sy voete vas
en spring in die dodelike waters in
waar hy die struik betas,
en ‘n stuk afbreek
wat hom stukkend steek
en toe die rotse los en opdryf
na waar die boot man die boot roei.

Op pad terug stop hy aan die oewer
van die Eufraat rivier om te eet
en was Gilgamesh homself in ‘n koue poel,
waar hy hom afspoel
en waar hy die plant vergeet.
Toe Gilgamesh sy oë oopmaak
sien hy hoe ‘n slinkse slang
die plant in sy bek vang.

Hy skud toe sy kop.
“Wat het ek eintlik reggekry,
want ek het steeds een deel mens
en twee dele god gebly?”
Toe vaar hulle met die Eufraat rivier aan,
na waar Uruk groots langs die oewer staan.

***

[Nota:

Hierdie gedig is my eie indrukke van die antieke en waarskynlik oudste epiese gedig wat die verhaal van Gilgamesh is. Ek het dit in Engels in prosa vorm te gekry, soos uit spykerskrif vertaal deur Maureen Gallery Kovacs. Ek sluit nie die twaalfde tablet by hierdie gedig in nie, aangesien dit as ‘n later aanhegsel beskou word en daar drastiese kontraste in vertel styl en inhoud is.

Karakters:

Aruru: Die godin van skepping in Babiloniese mitologie.

Ishtar / Inanna: is ook bekend as Astarte, Venus, Aprodites en in die Babiloniese
mitologie is sy die godin van vrugbaarheid, liefde en oorlog. Bo alles was Ishtar
geassosieer met seksualiteit en haar priesteresse was betrokke in heilige prostitusie en sy
was self beskou as die prostituut van die gode deur die Babeloniërs.

Rimat-Ninsun: In Sumeriese mitologie Ninsun of Ninsuna. ‘n Godin, wat bekend is as die
moeder van die legendariese held Gilgamesh en sy is die godin van die stede Gudeo en Lagash.

Shamhat: Is die priesteres van Ishtar / Inanna wat die wilde Enkidu leer oor die
beskawing, om te eet en te drink en ander dinge.

Gugalana / Taurus : Die Bul van die Hemele is self ook ‘n god en gebruik om die mense
op aarde te straf.

Anu: Die antieke Sumeriese en Babiloniese god van die uitspansel en word beskou as die
vader en koning van die gode. Hy is nie net die vader van die gode nie, maar ook van ‘n
groot klomp demone wat hy na die mense op die aarde stuur.

Shamash: Is die arkadiese naam van die son god wat ook die god van geregtigheid in
Babelonië en Assirië is.

Ea: Ea was die god van waters, kuns, skryfkuns, bouwerk, boerdery en wondere. Hy het
oor Apsu die groot water regeer.

Enlil: Die antieke Sumeriese en Babiloniese god van lug, wind en storms.

Siduri: Sy is ‘n taverne vrou. ‘n Wyse goddelike vrou wat met die fermentasie van drank
verbind word.

Urshanabi: Boot man en god van seemanne wie se boot die waters oorkruis wat die
tuin van die son skei van die paradys waar die goddelike Utnapishtim woon.]

Beowolf

Nog voor die tyd van vikings,
het Hrothgar koning van die Dene geword
en dapper saam met sy soldate
vele vyande verslaan.

Sy mense het hom uit liefde
en respek gevolg
en toe besluit Hrothgar,
om ’n grootse drank saal
vir sy mense op te rig.

Dit sou sy paleis wees
waar hy al sy besittings
met sy mense sou deel,
behalwe amptelike grond
en sy soldate se lewens.

Van orals het vakmanne gekom
om aan die saal te bou,
sodat Hrothgar feeste
vir sy mense daarin kon hou.

Toe hou Hrothgar sy woord
by groot feeste,
waar sy ridders eet en drink
en oorhandig skatte en goud
aan sy mense.

Soos uit gewoonte
het talle ridders die saal bewaak
en aan die binnekant,
vir hulle ’n slaap plek gemaak.

Hulle was altyd slag gereed
en hulle wapens en pantser
het rondom hulle gelê.
Hout skilde, ring pantser pakke,
helms en groot hout spiese
was reg om te gryp.

*

So het hulle fees gevier
en aan gegaan
tot op ’n dag ,
wat ’n gruwelike monster toeslaan.

Diep in die nag
het Grendel,
in die moeras geroer.

Vir weke lank het diè afstammeling
van Kaing wat van reuse afkom
sy planne beraam
en geloer en by demone gesweer,
om ’n slagting
onder die feesgangers
by die Deense koning
se saal te bring.

Moorddadig het hy
tussen die ridders ingespring
en geen wapens
kon hom skade berokken,
terwyl hy van hulle verskeur
en saam in die moeras insleep.

Die volgende oggend
het Hrothgar bloedspore,
tot by die moeras gevolg
en oor sy manne gehuil.

Deur sy sonde verblind,
het Grendel geen berou gehad
en nag na nag toegeslaan
en soos ’n besetene gelag
terwyl hy lyke
na die moeras toe sleep.

*

Vêr in die noorde
waar ys en gletsers
oor die landskap heers,
het daar in antieke tye
’n grootse held gebly
wat gerigte van Grendel
se aanslagte met tyd gekry het.

Beowolf was ’n magtige man
uit Hygelac
en sy manne het hulle lewens,
aan hom vas gesweer
en saam met hulle prins
oorloë gevoer en bere gejag.

Toe sweer hy om die see
oor te steek
en die beroemde Noorse koning
tot hulp te snel.

Veertien van sy dapperste ridders
het Beowolf vergesel
en met yster pantser pakke
en hulle beste wapens,
vaar hulle ’n woeste see in.

*

In die nag het Beowolf
op sy hoede in die drank saal,
op Grendel gelê en wag.

Toe die reusagtige monster verskyn
het Beowolf hom
in ’n greep beetgekry,
terwyl sy ridders
die monster met swaarde
en knuppels slaan.

Die wapens kon niks
aan die monster doen,
maar nêrens op aarde
was daar iemand
so sterk soos Beowolf nie
en Grendel was bevrees
toe Beowolf se vingers
deur sy arm sny.

Grendel wou weg vlug
van die doodsgreep,
maar Beowolf het nog nader
aan die monster gekom
en terwyl die monster
bloedstollend gil
hom aan die keel beetgekry.

Net voor ligdag
het die monster homself
met sy laaste krag losgeskeur
en bloeiend deur die moeras gestrompel,
na ’n meer
waar die bloederige water gekook het
terwyl Grendel daarin sterf.

*

In die meer het Grendel
se moeder sy lyk gekry
en woedend het die monster,
haar hand aan sy lyk geslaan
en met moord in haar hart
na Hrothgar se saal gegaan.

Daardie donker nag
was Beowolf en sy manne weg
en toe gryp sy vir die Dene
se dapperste held
en slaan hom
in sy slaap dood
en sleep hom
deur die moerasse weg.

*

Met sy beste panster aan
en skerpste swaard
in sy hande,
volg Beowolf haar spore
deur moerasse
in die meer in.

Die monster wat verwoed
daardie waters vir vyftig jaar bewaak het,
sien toe ’n mens in haar domein.

Met haar groot kloue
omring sy hom,
maar sy kragtige pantser hou.

Diep probeer sy hom
in sterk strome in trek,
maar toe slaan hy
met sy getroue swaard.

Die lem sny en kap,
maar sy ontsnap
asof geen staal
aan haar ’n snyplek kry.

Toe gryp Beowolf
die monster woedend vas
en smyt haar neer.

Haar kloue sluit
weer dodelik om sy lyf,
maar sy getroue pantser hou.

Toe sy ’n dodelike
lem uit haar skede ruk
en dit bruin gevlek
’n streep oor sy
bors probeer trek,
word hy deur God gered,
wat aan edel ridders oorwinning bring,
want sy pantser hou.

Die wyse God van die hemele
het reeds besluit waar Beowolf
se oorwinning lê,
toe ’n magtige swaard
wat deur reuse gemaak is,
in sy vyand se arsenaal
Beowolf se aandag trek.

Hy trek die groot swaard
en toe hy die monster vrou
daarmee slaan,
sny dit haar nek af
en kan niks die lem keer
om in te gaan nie.

Grendel se lyk
lê naby aan waar die vrou val
en in woede,
kap Beowolf Grendel se kop
van sy lyf af.

Hulle getoorde onheilsbloed
smelt die lem
sodat net die hef
in sy hand oorbly
en hy met Grendel se kop
en die swaardhef
in die ander hand
uit die meer uitkom.

*
Die Deense mense
wil Beowolf van Hygelac
hulle koning maak,
maar daarvan wil hy niks weet nie.

Dit gebeur toe dat Hrothgar
se seun Heardred
deur Swede gedood word
en Beowolf vir vyftig jaar
oor die Dene heers
en sy mense hom
eerder uit agting volg
as uit vrees.

Op ’n tyd vind ’n vlugteling
in ’n grafkamer ’n groot skat
en neem ’n antieke goue beker,
om as vredeoffer
aan sy heer te gee.

Soos ’n slinkse dief
het die vlugteling
by ’n draak ,
wat die skat bewaak gesluip
en weer sy pad weg gevind.

Toe daardie draak ontwaak
en sien dat sy beker weg is,
word hy moorddadig kwaad
en terroriseer die mense
wat naby aan sy spelonk bly.

Op ’n tyd kry Beowolf
toe berig van die draak,
wat hom wraak
om van mense
brandstapels te maak.

*

Slegs een van Beowolf
se manne is dapper genoeg,
om saam met hom
na die draak se grot
te gaan.

By die grotopening
se klipboog,
stroom vlamme uit

Dapper Beowolf
wat nog nie verlies
in ’n oorlog gelei het nie,
is woedend vir die draak.

Hy trek sy antieke swaard
en lig sy yster skild,
toe die opgekrulde ding
regmaak om aan te val.

Die vlamme is veel erger
as waarvoor hy gehoop het
en die koning van die Dene,
slaan met sy swaard
en die draak spoeg vuur.

Die swaard slaan
net ’n skarms hou
en dring nie deur
tot by die gebeente nie
en Beowolf hou vas
aan sy gloeiende skild.

Skielik staan die koning
van helde alleen
en is daar orals vlamme,
reg rondom hom heen
en so moet elke mens
op ’n slag alleen
teen die duister staan.

Tog was daar een ridder,
Wiglaf,
wat by sy heer
wou staan.

Toe hy Die vlamme om Beowolf
sien slaan,
lig hy sy skild
en antieke geërfde swaard,
Eanmund,
en die draak weet toe
dat Wiglaf heldemoed het
en sy swaard
fatale wonde slaan.

Met sy skerp tande
kry die draak
toe vir Beowolf beet,
sodat sy bloed
uit sy nek uit spuit.

Beowolf se swaard
breek stomp af,
maar hy trek sy skerp dolk
en teen helde koning
en helde ridder
wat saam as gesante staan
kan geen draak
sy wraak neem nie.

Die monster sterf
en lê rukkend,
soos ’n slang
met sy afgekapte kop.

Soos ’n getroue ridder maak
dra Wiglaf die skatte in die grot
vir Beowolf aan,
dat sy koning
dit met sy sterwende blik
kan sien.

Van sy nek
haal Beowolf sy goue hangertjie af,
gee sy helm met goue inslag,
sy ring en borsharnas
aan die dapperste van sy ridders
en beveel hom om dit
goed te gebruik;
voor sy oë dof word
en die laaste lewe uit hom wyk.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak