Moedersdag opdragte is reeds holrug gery, maar as projekbestuurder het ek dit goed gedink om weer hierdie onderwerp te kies en dan wel op so ‘n manier dat dit vars en uitdagend kan wees.
Die opdrag is:
Verhaal- en rubriekskrywers:
Skryf ‘n vonkfiksie (niks meer as 170 woorde) oor ‘n lewensles wat ‘n moeder vir haar kinders mag leer. Dit hoef nie ‘n eie ervaring te wees en en kan bloot fiktief wees. U is welkom om meer as een inskrywing in te stuur aangesien ons die woordtelling beperk.
Digters:
Die mooiste poësie kom in Psalms (in die Bybel) voor.
Dig, asof jy die 151 ste Psalm vir die Bybel moet skryf.
Sekere bronne verwys na die Psalms van Dawid as ‘liedere van eer’. Dit is dan u opdrag. Vereer die bydrae wat jou moeder in jou lewe gehad het. Die inhoud kan bloot fiktief wees en hoef nie u eie ervaring te wees nie.
Die gedig mag nie 14 reëls oorskry nie.
Let asseblief op die volgende interessante inigting aangaande Bybelse poësie:
Die vernaamste stylfiguur van Hebreeuse Bybelse poësie, onder meer meeste van die psalms, is parallelisme, ‘n retoriese struktuur waarin opeenvolgende versreëls mekaar weerspieël in grammatikale- of klankstruktuur asook veronderstelde inhoud, of al drie. Parallelisme leen homself tot antifoniese of roep-en-antwoord optredes, wat versterk kan word deur intonasie. Daarom steun Bybelse poësie minder op versvoete om ritme te bewerkstellig, maar skep eerder ritme deur die groter klankeenhede van versreëls, frases en sinne.
(Bron: Walker-Jones, Arthur (2003). Hebrew for biblical interpretation. Society of Biblical Literature. p. 211–213.)
Ek vertrou dat die bogaande, alhoewel bondig, die spesifieke patroon van die Psalmdigkuns sal verduidelik. In kort, verder, die definisies van:
Parallelisme: ‘n Digterlike figuur wat ontstaan wanneer deselfde gedagte op twee maniere , met ‘n ligte variasie, uitgedruk word. Bv. (Ps2;3) “Hulle hardloop en word nie moeg nie; hulle wandel en word nie mat nie.”
Antifonie / Intonasie: Beteken eenvoudig spraak en teenspraak.
Skryf lekker, in INK, in Afrikaans!
Projekbestuurder