Jongste aktiwiteit:

anderkant die spoor (SILWER)

anderkant die spoor

 

aan die verkeerde kant van die spoor

daar het my lewensspore begin loop

vele huisies met piepklein erwe voor

Jim Reeves wat op Sondae sing van hoop

 

kindertjies klein wat tot laat in die straat speel

pa slaap in stilte voor sy volgende skof

waar die Roepman eensaam skof uitdeel

getrou op sy fiets doen hy sy rondtes in die stof

 

wonderlike wye wêreld waar jy woon

kinders van klerke,  ‘shunters’ en voormanne

met drywers of stokers wat geen onderskeid toon

mengelmoes van spoorwegmense heel ontspanne

 

tot die dag dat jy grootoog skool moet betree

dan word die klas geskei in groepe – hoor

watter kant van die spoor bepaal die deursnee

bo-dorp, onder-dorp of anderkant die spoor

 

tog sien kinders nie altyd die spoorlyn

so gaan speel ons een sonnige somerdag

uitgelate waar die nuwe maats se liggie skyn

tot die oom wou weet waar ons bly: die uitslag

 

heel opgewonde: Kappertjiestraat oom Thuis

onverwags die verandering op sy gesig

“Ek soek nie spoorweg-scrap in my huis!”

verneder verjaag hy ons met woede op ons gerig

 

van toe af weggekruip in die biblioteek veilig

waar boeke my betroubare vriende geword het

vertroue in my medemens geknou en ontheilig

verplaas ek myself steeds in my eie kokon-net

 

©MarleneErasmus

29/04/2024




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed