Kompetisiereëls
1. Enige ongepubliseerde skrywer wat Afrikaans magtig is mag aan die kompetisie deelneem, tensy anders aangedui. Lede moet geregistreerde INK lede wees wat by die aansluitingsopsies die opsie om te publiseer gekies het, om aan hierdie kompetisie te kan deelneem.
Wat word beskou as “voorheen gepubliseer”?
Enige PUBLIKASIE wat amptelik, soos deur uitgewers en tydskrifte, verskyn het word as “gepubliseer” geag. Ons laat selfpublikasie en blogs toe.
2. Daar is twee kategorieë waarin deelnemers kan deelneem:
Kategorie A: KORTVERHALE
OF
Kategorie B: GEDIGTE
3. Elke deelnemer mag slegs EEN inskrywing instuur; met ander woorde, slegs een kortverhaal OF een gedig. Inskrywings deur dieselfde skrywer word nie in albei kategorieë aanvaar nie.
4. Die beoordelaars bestaan uit ‘n paneel skrywers van beide INK Skryf in Afrikaans en SA Vryskutskrywer. Die beoordelaars se beslissing is finaal en bindend en daar sal geen korrespondensie hieroor gevoer word nie.
5. Deur aan die kompetisie deel te neem, stem die deelnemer in om aan die kompetisie se reëls en regulasies te voldoen.
6. Daar mag van wenners verwag word om hulle name en/of foto’s vir publisiteitsdoeleindes op die internet of in publikasies te laat gebruik.
7. Die skryfkursusse wat as prys aangebied word kan nie verruil word vir kontant of enige ander skryfkursus nie.
8. Alle werk moet die deelnemer se oorspronklike werk wees en indien die teendeel bevind word, sal die deelnemer gediskwalifiseer word van hierdie en enige toekomstige kompetisies.
9. INK Skryf in Afrikaans en SA Vryskutskrywer word gevrywaar teen enige eise of aanspreeklikheid wat moontlik uit of in verband met die kompetisie kan ontstaan.
Kompetisiebesonderhede
1. Elkeen van die twee kategoriewenners ontvang ‘n aanlynskryfkursus – Skryf Kreatief! – ter waarde van R4,495 elk wat deur SA Vryskutskrywer geborg word. Dit sluit in kursusmateriaal sowel as afstandonderrig en ‘n Sertifikaat van Voltooiing, mits die kursus bevredigend afgehandel en die vereiste slaagsyfer behaal word. Vir meer besonderhede oor hoe SA Vryskutskrywer se skryfkursusse aangebied word, kliek hier. Die skryfkursus sal binne twee werksdae nadat die wenners aangekondig is, per e-pos aan elke wenner gestuur word. Die tydsraamwerk waarin die skryfkursus voltooi moet word is vyf maande.
2. Inskrywings moet op die ink webblad ( www.ink.org.za ) geplaas word en dan stuur u die volgende inligting dadelik na skryfafrikaans@ink.org.za sodat dit by jou inskrywing gevoeg kan word.
• Genre van inskrywing.
• Titel van verhaal/gedig en aantal woorde.
• Skrywer se naam en van, e-posadres en ‘n kontaknommer.
• ‘n Geskrewe waarborg dat die skrywer nog nie voorheen iets gepubliseer het nie.
3. Die sluitingsdatum vir die skryfkompetisie is 30 April 2017 en die wenners se name sal binne een maand, op 31 Mei 2017 op INK Skryf in Afrikaans en SA Vryskutskrywer se webblaaie en Facebook-blaaie bekend gemaak word en in kennis gestel word.
4. Ontvangs van inskrywings sal op die inskrywing deur middel van ‘n kommentaar erken word.
Kategorie A: KORTVERHAAL
1. Slegs EEN kortverhaal per deelnemer mag ingeskryf word.
2. Daar moet streng volgens die gegewe woordbeperking van 2,000 woorde gewerk word. Enige verhaal wat die woordbeperking met meer as 20 woorde oorskry, sal gediskwalifiseer word. Beplan jou verhaal dus van die begin af met hierdie aantal woorde in gedagte. Waak ook daarteen om jou verhaal te kort te skryf. Enige verhaal wat minder as 1,400 woorde bevat, sal gediskwalifiseer word.
3. Deelnemers moet daarop let dat ‘n kortverhaal vyf duidelik waarneembare boublokke behels wat in die struktuur opgeneem moet word. Karakters in die verhaal moet ook betroubaar uitgebeeld word en dialoog moet nie doelloos wees net om die woordbeperking te bereik nie. Met ander woorde: dit moet ‘n lekker storie wees.
4. Elke inskrywing sal eers bekyk word om te sien of daar moeite met taalkundige versorging en goeie Afrikaans gedoen is. Enige inskrywing wat nie taalkundig goed versorg is nie, sal afgekeur word. Maak dus seker dat jy jou speltoetser benut en jou werk minstens drie keer deeglik deurgaan voordat jy dit instuur.
Kies een van onderstaande inleidings vir jou kortverhaal:
1.Dit het na vioolmusiek geklink wat vanuit die solder opgeklink het.
2.“Waag dit net om nader te kom …!”
3.Binne-in die koevert was ‘n pragtige sewejaartjie.
4.Dit was die dag toe die maan geval het.
Kategorie B: GEDIG
1. Slegs EEN gedig mag per deelnemer ingeskryf word.
2. Daar moet streng volgens die gegewe maksimum woordbeperking van 80 woorde gewerk word. (Mag minder wees) Enige gedig wat die woordbeperking met meer as 10 woorde oorskry, sal gediskwalifiseer word. Beplan jou gedig dus vanaf die begin met hierdie aantal woorde in gedagte.
3. Deelnemers moet daarop let dat die gedig wat ingeskryf word, aan die vereistes van poësie moet voldoen. Daar moet duidelik waarneembare ritme, metrum, rym, gekonsentreerde taalgebruik, ensovoorts wees. Onthou ook dat die meeste gedigte ‘n patroon volg wat gewoonlik uit ‘n probleem, voorbeeld, spesifieke siening en ‘n storie of ontknoping bestaan. Probeer dit in jou gedig inbou. Gegewe die vereiste gedigsoorte wat verskaf word, is dit belangrik om seker te maak jou gedig voldoen aan die digsoort se vereistes.
4. Elke inskrywing sal eers deeglik bekyk word om te sien of daar moeite met taalkundige versorging en goeie Afrikaans gedoen is. Enige inskrywing wat nie taalkundig goed versorg is nie, sal afgekeur word. Maak dus seker dat jy jou speltoetser benut en jou werk minstens drie keer deeglik deurgaan voordat jy dit instuur.
Kies een van onderstaande digsoorte en skryf ‘n gedig oor die natuur daarvolgens:
1.Ballade
2.Sonnet
3.Vrye vers
4.Haikoe