Jongste aktiwiteit:

115 Die staaf (“stave”) stanza sestet
vir

115 Die staaf (“stave”) stanza sestet

115 Die staaf (“stave”) stanza sestet

Die staaf (“stave”) stansa is ‘n variasie in die gebruik van koeplette, waar daar ‘n sestet stansa geskryf word (ses versreëls in ‘n stansa) waarvan die laaste versreël ‘n refrein is, vir al die ander stansas wat daarna volg.

Vir drie stansas sal die rymskema die volgende wees: aabbcC / ddeecC / ffggcC. (Soos altyd dui hoofletters hier ‘n refrein aan.)

Divena Collins se “Man The Hunter,” “Saint Patricks Day Jiggin,” Lorainne Dafney se “Come See My Garden,” Jem Famer se “Queen of the May,” Judie Gelling se “Little bit of Nonsense,” Nia Wynne se “Absurdities,” Ryter Roethicle se “Colours,” “Dancing To Loves Time,” “Days Will Come,” “Kawasaki,” “Memory Lane,” “Only in Death,” “Paddy’s Luck,” “Questions Lunar” en “Yesterday” is baie goeie voorbeelde van hierdie versvorm.

Hier is my pogings tot sestette wat as staaf (“stave”) stansas geskryf is:

Silhoeët op die kaai (staaf stansa sestette)

a As ek in die winter se skemer stap
a sif reën neer sonder dat die donders klap
b is daar ‘n dik gordyn van mis en reën
b wat my dig omsluit, vou dit om my heen,
c is daar koue wat deur my baadjie knaag
C as min ander dit dan na buite waag.

d Om my is die wêreld dig, silwergrys
d as golwe gedurig val en verrys,
e ek jou eensaam by die groot kaai sien staan
e water bruisend, brekend in woede slaan
c jy oomblikke weg in die mis vervaag,
C as min ander dit dan na buite waag.

f Ek wonder vir watter skip jy staan en wag,
f die winter koue, mis en reën nie ag
g as jy uitstaar verby die verste kim,
g die water donker onheilspellend glim,
c die reën nat druip verby my baadjie kraag,
C as min ander dit dan na buite waag.

Aankoms (staaf stansa sestette)

Met ‘n tinteling wat bruis in my bloed
hardloop jy my glimlaggend tegemoet,
as ek in die ontvangslokaal aankom
en ek word weer deur jou skoonheid verstom
as talle mense om ons bly rondmaal,
ons mekaar omhels, in mekaar verdwaal.

Oomblikke rek byna ewiglik uit
as ons die gang van ander passasiers stuit,
pare oë in mekaar s’n diep bly staar
of ons mekaar die eerste keer gewaar
as tyd en ewigheid lank aanhoudend draal,
ons mekaar omhels, in mekaar verdwaal.

Ballade van die nagtelike ure (staaf stansa sestette)

Ons liefde het reeds ten volle geblom
toe jy skielik nakend na my toe kom
met net ‘n klein handdoek wat jou bedek
toe jy dit vinnig van jou lyf aftrek,
jou oog het skitterend myne gevang
toe stilte uitlokkend tussen ons hang.

Daar was ‘n honger en dors binne my,
toe jou lippe my vind, jy my verlei
met jou hare wat in my vingers strik
toe die wekker stadig die tyd aftik,
ons albei na iets ewiglik verlang,
toe stilte uitlokkend tussen ons hang.

Soos reën wat val was die geur tussen ons,
op die groot ou kombers van sagte dons
met jou bene en arms oor my gekruis,
toe my hartkloppe in my ore druis,
daar was ‘n veel dieper, erger soort drang
toe stilte uitlokkend tussen ons hang.

Ontnugtering (staaf stansa sestette)

Buite suis die woeste wilde stormwind
hartseer of dit nooit enige troos kan vind,
in dié winter is takke afgestroop
staan ek self nog verblind, vind ek geen hoop;
te laat moes ek leer dat liefde wreed is,
vir die soort pyn is daar geen vergifnis.

Met ‘n soort onskuld het ek jou bemin,
reg van toe ons verhouding begin
maar jou verraad kom as my grootse vrees,
dit klink absurd dat smart genot kan wees;
my deernis sterf met jou bekentenis,
vir die soort pyn is daar geen vergifnis.

Generaal Christiaan de Wet by Doornberg (staaf stansa sestette)

(na David Naude)

In die stof het de Wet se seun gelê,
hy het tot God gebid niks verder gesê
verraaiers het gekom onder ‘n wit vlag
vir die Britte gespioeneer voor die slag;
dit was verskriklik treurig om te sien
toe ‘n dapper man sy vaderland dien.

Op sy hande was sy eie seun se bloed,
toe gee hy nog steeds vir sy manne moed
sodat die Britte en kakies verloor
agterna jaag hul oor die Zantrivier oor,
wen in die wêreld se oë meer aansien
toe ‘n dapper man sy vaderland dien.

Die spul Britte jaag by Winburg verby
om vir generaal de Wet te vermei,
van die verraaiers was verskriklik bang
toe die Boere kommando hulle vang;
in de Wet se oë het God steeds voorsien,
toe ‘n dapper man sy vaderland dien.

[Verwysing: “Die slag van Doornberg” deur David Naude.]

Trijn Ras (Catharina Ustinx) (staaf stansa sestette)

Van uit Denemarke kom dié blonde bom
wat menigte mans aan die Kaap verstom
en ek sou haar baie graag wou aanskou
want ‘n uiters dapper vrou word onthou,
my oer ouma was bekend vir haar geaardheid,
haar sjarme, beleefdheid en beslistheid.

Sy was pragtig, son gebrand en wit blond,
was reeds besig van die oggendstond,
‘n ryk baron het na haar probeer vry,
alleen het sy drie dae Kaap toe gery,
was baie bekend vir haar gasvryheid
haar sjarme, beleefdheid en beslistheid.

Ek moes die beste jare van my lewe gee (staaf stansa sestette)

Ek het die laaste stuiptrekkings aanskou,
toe die lewe in die niet in verflou,
hope soldate stewels weg sien knars,
hoe projektiele oor die horison oop bars,
het na verlossing van oorlog gesmag
en dit was om my die duisterste nag.

Ek moes die beste jare van my lewe gee,
gedurig opgeroep word op bevel aantree,
moes die hele tyd self opofferings maak,
terwyl die dinge aan my menswees raak
toe kom daar verraad skielik op ‘n dag
en dit was om my die duisterste nag.

Wat skeel dit my dat hulle spore kry (staaf stansa sestette)

(na H. A. Fagan)

Dit bestaan nie, die ding se tyd is verby;
wat skeel dit my dat hulle spore kry
van ‘n versteende ou tipe van ding,
wat hul uit delf na die oppervlak bring,
daardie ou ding sal nooit weer rond trippel,
my pad is deur God self uitgestippel.

Al bly die rotse nog vir eeue lank,
bly wetenskaplike teorieë mank,
kan blote mense aan niks lewe gee,
is die dood op elkeen se pad geleë,
is die mens se tyd soos ‘n dou druppel,
my pad is deur God self uitgestippel.

[Verwysing: “Roem en vergetelheid” deur H. A. Fagan.]




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak