Jongste aktiwiteit:

31. Die anku, haikoe, dodoitsu en tanka
vir

31. Die anku, haikoe, dodoitsu en tanka

31. Die anku, haikoe, dodoitsu en tanka

Die anku is ‘n vers vorm wat ontwikkel is uit die haikoe, deur die digter André (Francois) Viljoen wat korter is en meer gekrimp en gestroop as die haikoe. Dit bestaan uit drie ongerymde lyne van vyf, twee en vier lettergrepe. Van hierdie gedigte van hom kan gevind word op die Woes web werf onder sy skuilnaam Grevilman of op die Woes forum onder “Anku-gedig-struktuur.” Die naam Anku het hy klaarblyklik afgelei as ‘n grap van “André se haikoes”. Sy eie Anku’s is baie interessant met uiters goeie beelding.
Hier is die Anku’s wat ek gewaag het:

‘n Klompie anku’s

Tandetrekker wag;
vinnig
skarrel kinders.

*

Laksman se ou prooi
wapper
op wasgoed lyn.

*

Restaurant geklets;
voet raak
suutjies aan jou.

*

Geel sekel maan vang
getjank
van ou honde.

Die haikoe is ‘n japannese vers vorm, bekend vir sy ineengedruktheid en suggestie. Dit bestaan uit drie ongerymde lyne van vyf, sewe en weer vyf lettergrepe.
Tradisioneel en ideaal verteenwoordig ‘n haikoe ‘n paar konstrasteerende beelde waar een tyd en plek voorstel en die ander uitdruklik maar vlietende observasie. Saam wek hulle dan gemoed stemming en emosie. Die digter lewer nie kommentaar oor die verbinding en laat die sintese van die twee beelde vir die leser om saam te stel.
Sommige mense meen ook dat elemente van ‘n seisoen in die gedig teenwoordig moet wees, maar dit is eintlik ook nie meer ‘n vaste reël nie.
Hier is ‘n haikoe van die digter Basho in Engels wat gesien word as die perfekte voorbeeld van hierdie vers vorm wat ek hier aanhaal:
“Now the swinging bridge
Is quieted with creepers …
Like our tendrilled life.”

Die haikoe het ontstaan uit die vroeëre “renga” verse en was omvangryk deur Zen Buddiste monnike gebruik vanaf die vyftiende eeu. Behalwe Basho is ander belangrike haiku digters Yosa Buson, Kobayashi Issa, en Masuoka Shiki.

In Afrikaans skryf Eveleen Castelyn in haar bundel “Minder as die engele,” ‘n string haikoes wat van baie fyn beelding getuig. Gerhard Dreyer en Gerhard Mynhardt se bundel “Haikoe-verse,” het te make met die gang van die seisoene en stil belewenisse wat kenmerkend vir hierdie japannese verse is. Cornelius van der Merwe se “Haikoes van liefde” in sy bundel “Witsig” is pragtig, maar die laaste lyn het binnerym naamlik: “lewe: jy bewe.” Hy het hierdie rym waarskynlik vir benadrukking ingebou. Cornelius van der Merwe se gedigte het ‘n integriteit (wat hierdie een ook het) soos wat mens by ‘n van Wyk Louw sou verwag. Sy gedig “Haikoe,” met ‘n godsdienstige natuur inslag, is egter kenmerkend van die ideale japannese styl. Heelwat van die Woes digters gebruik die haikoe vorm met groot sukses en ek vra onverskoning dat ek nie hulle name hier noem nie.

Hier is ‘n klompie haikoes wat ek tot dusvêr in Afrikaans gewaag het:

Haikoes van liefde

As die klein dood ons
omvou, ons saam sweet, saam bewe
sterf ons in mekaar

slaan jy jou naels in
hoor ek jou kreun, sien jou blik,
swiep ‘n heelal weg.

[Verwysing: Haikoes van liefde deur Cornelius van der Merwe.]

Ruimte haikoes

Satelliet neem waar
mis wolk wat onverwags rys
kernreaktor vlam.

*

Groot oog satelliet
kyk na doen en late van
jou en my op strand.

*

Ruimte teleskoop
fyn gerig op sonstelsel
soek na engeltjies.

*

Sekel hang die maan
vroegoggend bo helder son
in baftablou lug.

*

‘n Oog loer vêr weg
en teleskoop sien blou son
in ‘n duister plek.

*

Swart ronde kring word
in fotosfeer blou omring
in ‘n glans foto.

*

Maan verduister met
koperrooi kleur of dit brand
langs dowwe blou ster.

*

Wit glans diamant-
ring indrukwekkend met son
wat swart verduister

Haikoes by die opbreek van ‘n verhouding

Jy wil vryheid hê,
jou stem rasper in jou keel soos
tronk wat dig toesluit.

Nou val my lewe
in velde van bestaan in
soos ‘n blou donder.

Slegte mense soos jy
stink na ‘n paniekerige maag,
kan kinders verloor.

Het jou ouers jou nie
jare gelede uitsorteer van
nonsens, van ‘n kind?

Pyn is waardeloos
laat nou ons waagmoed erken,
opbouende haat hê.

Die dodoitsu vers vorm is ‘n japannese digvorm, bestaande uit vier rymlose versreëls. Die eerste drie versreëls bevat sewe lettergrepe elk en die laaste versreël het vyf lettergrepe. Hierdie tipe gedig handel gewoonlik oor liefde of humor. Maraai vannie baai se gedig “woord-genot,” op die Woes forum onder “Dodoitsu gedig struktuur” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie vers tipe. Hier is my pogings tot die dodoitsu:

Dodoitsu liefdes gedigte

Toe ek in jou oë verdwaal
het jy aan my wang gevat
was ons van die wêreld weg
op ‘n ander plek.

*

Gisteraand was jou lippe
warm soos vuur onder myne
toe die twee kinders instap
en ons daar verras.

*

Die mooi tye wat ons saam was
bly ‘n soet herinnering
wat met ons afskeid steeds bly,
as afstand vêr strek.

*

vasgevang in jou hitte
het ek tower lig gesien,
buite het takke beweeg
terwyl die reën val.

Die tanka is ‘n Japanese digvorm bestaande uit vyf rymlose reëls, waarvan reëls 1 en 3 uit vyf en die res uit sewe lettergrepe bestaan. Die tanka het dus een en dertig lettergrepe in totaal en gee ‘n geheel prent of ‘n gebeurtenis of ‘n luim.

In Afrikaans doen Eveleen Castelyn pioniers werk met die tanka met uitmuntende beelde, in haar bundel “kubermens.” Nogtans rym fluweel, met juweel en aandblom met blom in die laaste tanka wat sy in daardie bundel skryf en tog bly dit ‘n pragtige gedig. Hier volg my eie tankas wat ek sover in Afrikaans gewaag het:

Tankas oor Namakwaland

In Namakwaland
is blomme die grondkombers
orals spruit saadjies
wat die hele wêreld mooi maak
in wit, blou en oranje.

*

Teen ‘n rots hang staan
‘n kokerboom waar takke
die lug vinger punt
tussen rotsblokke wat wit
daarom lê in geel groen gras.

*

By gifberg se kaal
vlakte blom madeliefies wit
voor die sandsteen hang
waar die dodelike blomtuin
van vêr af pragtig wit lyk.

*

Geel lente blomme
kontrasteer teen ou graniet
rotse wat doods en kil
teen die blou horison staan
en later bly sand en klip.

*

In ‘n land van groot
teenstrydighede langs ‘n dor
woestyn loer kroonblare
uit die sand met rooi koppe,
met bol op bol begrawe.

*

Die yskoue see spoel
teen oond gebakte land wat
die hel uit mens braai
met nagte verskriklik koud,
eensamig gestroopte dors.

Natuur tankas

Snags blom die maan geel
op die swart kelk van die nag
sit groot blink en rond
by ‘n swetterjoel sterre
wat in die oggend verwelk.

*

Pienk roos kelk vou oop,
op hierdie winter oggend
as groot skoenlapper
wat fladder by die tuinhek
en die posman se oë trek

*

Hadidas skreeu kras
as die hond hulle opjaag
asof hulle skel
terwyl duiwe onder takke loer
asof hulle iets betrag.

*

Pers jakarandas
hang in die motreën vol van
geurige druppels
tot ‘n stortbui hard neer giet
elke mooi blom in die grond was.

*

As ‘n kokkewiet
die oggend vrolik begroet
sit ons en tee drink
rondom die ou kombuistafel
klink daardie voël regby ons

*

Die geur van nat sand
slaan in my neus op met reën
wat agterbly-
die geur van die natuur hang
nog in die groot ou wit huis.

Die oriku is ‘n japannese digvorm bestaande uit vyf rymlose reëls, waarvan reëls 1 en 3 uit vyf en die res uit sewe lettergrepe bestaan en die struktuur van die tanka verbind word, met die van ‘n Acrostic gedig (waar die gedig se titel vertikaal in die eerste letters weerspieël word.)

Maraai vannie baai se gedig Psalm (oriku) op die Woes forum onder “Oriko-gedigvorm” is ‘n besonderse goeie voorbeeld van hierdie vers tipe. Hierdie vers vorm is natuurlik baie inperkend aangesien die digter gebind word tot die raam werk van begin letters, vir die verskillende versreëls.

In my gedig Aster word beide die nooientjie (meisie) en blom element as die onderwerp aangespreek. Hier volg my pogings tot die oriku gedig vorm:

Aster (Oriko)

As ek jou oë sien
Straal lig daaruit wat skielik
Taan en verwelk as
Ek jou broosste kelkie kneus
Roekeloos jou nader pluk.

Water (Oriko)

Weer asem snak mooi
Aanskou ek die sonsopgang
Teen die meer weerkaats;
Essensieel dié vloeistof –
Redmiddel vir die lewe.

Brand (Oriko)

Baie warm yster
Reik uit na bulkalf wat lê;
Anderkant die kraal
Nader nog beeste wat bulk,
Die plaas jonge jaag hul aan.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak