Jongste aktiwiteit:

39 Sensualiteit, erotiek en seks
vir

39 Sensualiteit, erotiek en seks

39 Sensualiteit, erotiek en seks

Ek wou oorspronklik die onderwerp van sensualiteit, erotiek en seks eerder vermy na my artikel oor liefdes verse. Nogtans was daar van die lesers wat my gevra het om my siening daaroor uit te spreek.

As erotiek funksioneel tot die verhaal of gedig is, het dit ‘n volwaardige plek daarin en as mens die werklikheid wil weergee en ‘n skrywer is wat jou werk realisties wil maak, word jou kunswerke geknou as jy werklikhede moet uitsny oor beperkings.

Ons het almal ons eie keuses van dinge wat ons van hou en wat ons verpes. Daar is niks daarmee verkeerd, om ‘n godvresende lewe te lei nie. Dit is egter wanneer ons ander mense dwing tot ons eie waarde sisteem, wat die rooi ligte begin flikker. Kies net wat jy wil lees en skep, en los dit vir andere om te skep en te lees wat hulle wil.

As skrywer en digter is dit vir my persoonlik belangrik om die werklikheid, soos wat ons dit daagliks in ons lewens ondervind in my verhale en gedigte uit te druk, wat natuurlik naaktheid en liefde in die vorm van seks insluit.

Die ander aspek waarna mens moet kyk, is die verskil tussen erotika en blote pornografie waar daar ‘n baie dun lyn kan wees. Gaan die gedig slegs oor die beelde van twee naakte mense wat tot fynste besonderheid uitgedruk word, (met konsentrasie op hulle manlike en vroulike liggaamsdele) of wil mens veel meer as net dit sê?

Die onderskeid tussen erotika en pornografie word deur die nobelprys wenner (vir poësie)
Octavio Paz in sy opstel “Erotiek, liefde, politiek” baie duidelik gestel:

“Seksualiteit is dierlik, as ‘n natuurlike drif uiting, terwyl erotiek binne die samelewing ontwikkel. Eersgenoemde behoort tot die domein van die biologie, laasgenoemde tot die van die kultuur. Denkbeelde is ‘n wesenlike aspek van die erotiek: die erotiek is metafories tot die seksualiteit.” (my vertaling uit Nederlands) (1) (Ek is egter nie hier uit op ‘n aanval uit op pornografie nie.)

In sy digbundel Hittegolf meld Hennie Aucamp dat erotiek en dekadensie eers in later jare hier aanvaarbaar geword het by literatore as gevolg van Suid-Afrika se kulturele isolasie en die invloed wat die staat en kerk gespeel het om sensuur op digters en skrywers te plaas. (2) Selfs van Wyk Louw het gemeen dat Afrikaans tot die kombuis verban is, tot die sitkamer toegelaat is maar dat die slaapkamer steeds verbode terrein is.
(3)

Waar ek egter heeltemal met Hennie Aucamp en ander digters verskil is waar dit kom by kuns en kunsloosheid. Kunsloosheid definieer ek hier as blote platvoersheid. Hennie Aucamp is gou om wat as platvoersheid bestempel word, as “volks” en dus as iets eie weg te redeneer. (4)

In my gedigte en verhale moet naaktheid, erotiek, sensualiteit en seks funksioneel wees en gewoonlik ‘n dieper boodskap oordra as slegs ‘n vertoning van die menslike fisieke aspekte. Die liefde is vir my iets hoog en heilig, waarvan seksualiteit slegs een aspek is.

Die ding wat my krap aan banale taalgebruik, is dat kuns tot iets goedkoop afgewentel word en liefde daarmee saam deurdat die konteks soos met pornografie heeltemal verlore gaan. Erotiese kuns moet ‘n viering van die prag van die menslike liggaam wees en meer as dit moet dit vir my ‘n viering van liefde wees. (5)

Ek kan egter net liefde, sensualiteit, naaktheid en seksualiteit uitdruk van my eie menswees en ervarings, as ‘n heteroseksuele man, want dis hoe ek is en aangesien ek redelik godsdienstig is, beskou ek God as die essensie, wat liefde tot die volheid daarvan bring.

Om terug te kom tot platvoersheid: Wil ek my naam as digter en skrywer verbind met dat mense my later slegs onthou vir poes, piel, kak en drol? Hier gaan u reeds dink dat ek nou deur die kru woord gebruik te vêr gaan, maar vir sekere digters is dit heel aanvaarbaar in ‘n gedig, wat eintlik beskou moet word as ‘n kunswerk. (6) (7)

Is hierdie woorde werklik algemene spreektaal? Ons weet almal dat ons eerder in spreektaal, as in argaïsmes (verouderde woorde) of platvloerse woorde skryf (wat getuig van baie swak taalgebruik). Ek wonder ernstig hierom. Vroue noem daardie orgaan van hulle snuifie, gleufie en so meer. Miskien is hierdie ander woorde meer aanvaarbaar soos byvoorbeeld “voël”, nogtans probeer ek selfs hierdie tipe taalgebruik gewoonlik vermy. (8)

U sal merk dat een van hierdie gedigte van my selfs ‘n parodie op die werk van Koos A Kombuis trek. Hier is ‘n klein klompie van my gedigte wat te make het met sensualiteit, erotiek en seks:

Nakende swem

Snags skyn die lig
met ‘n teer geel kleur
deur die blou swembad
asof afgesluit
in ‘n eie wêreld.

Die water is strelend
na ‘n warm somerdag
en wieg op en af
waar ek lê en dryf
en ek sien jou slanke skaduwee
in die helder maanlig
nader kom.

Jou liggaam is wit
en gestroop van klere
en in jou gesig
gloei jou oë groot
soos die van ‘n gemmer kat
en vir ‘n oomblik
staan jy soos ‘n standbeeld
op die duikplank
met arms
wat na die sterre strek

Perfek afgebeeld
met stewige groot borste
wat opbeur in die lug
en lang bleek bene

en in ‘n grasieuse beweging
lanseer jy jouself
en met ‘n klein rimpeling
sny jy deur die water.

‘n Meisie genaamd Lisa

Lisa laat jou na haar plek by die lughawe kom
en jy kyk na vegvliegtuie,
wat in die blou lug wegraak
terwyl jy wag dat sy oopmaak.

Sy behandel jou soos haar kêrel,
sielsgenoot en broer
en jy weet dat sy nie heeltemal normaal is
en sy glimlag met trane in haar oë
deel whiskey, speel poel, dans
en vertel van die dinge
wat haar gelukkig maak en vertrou jou
en jy laat ‘n geskenk in geld

en voordat jy dit weet, brand haar lippe op joune
en maak jy liefde met haar, asof dit so bestem is.

Verjaarsdag nag

Die goue lig
van twaalf kerse
het gevonkel op jou vel

toe jy
soos ‘n godin
in my lewe terugkom

en ‘n skaduwee
het jou gevolg
op die slaapkamer muur

en ek kon jou groot goue oë
sien gloei
asof hulle vlam.

Daar was druppels water
op jou nakende vel
wat warm met die aanraking was

en jy’t al die kerse uitgeblaas
en in skielike donkerte
was jou soen warm en sag.

Om jou teen my te hê
was daar iets vertroud
en iets nuut

en dinge het gevoel
asof hulle bestem was om te wees
en ek kon jou hart
teen myne voel slaan.

Wellus of liefde?

Of dit wellus of liefde is
sal nugter werklik weet
en die aand voor die warm kaggel
kan ek nie maklik vergeet
en tog is beide soms deel van dit
wat in ’n verhouding
tussen twee mense sit.

Vreemd vreet die lus aan my
waar ek amper kaal gat
voor die kaggel staan
en klein jan
hard probeer om net so regop
en groot
soos groot jan te staan.

Daar’s vlamme van die kaggel
wat in jou oë lek
as ek my onderbroek uit trek
en jou wit gelaat
is skielik vreemd rein
terwyl die innerlike vuur
aan beide van ons vreet
en die tepels van jou groot borste
orent en prominent
byna magies my vingers trek.

Jou mond is warm,
sag en soet
en jou lyf
lekkerder om te speel
as die snare van ’n kitaar
en daar’s passie wat in ons woed
en as ek in jou dieptes verdwyn
is daar plesier wat met tye
bou en kwyn
en later slaan ons beide
die volmaakte akkoord.

Wat anderkant ‘n donker maan lê

Liefie sê kyk hoe helder
is die maan
en die goud,
slaan anderkant die vensterruit uit
waar dit in ronde bal
in die duister nag hang.

Dis asof die sterre
vannag weg kwyn
en alles in die hemel,
voor die helder maan verdwyn.

Ons lê op ‘n dubbelbed bed
en ek wonder hoeveel soene
my lewe oor het
en haar sagte warm lyf
lê styf teen my,
terwyl my hand
oor haar lieflike rondings gly.

Haar asem kielie my nek
as die nag om ons vou
en as sy in slaap wegraak
is ek nog besig
om die tower maan dop te hou
en ek wonder wat anderkant
‘n donker maan lê
en of die lug
dan nog meer sterre sal hê,
maar die ster
wat vir my die helderste skyn
is nog in my arms
as die maan
in die vroeë môre verdwyn.

Die rooi kerse is byna nerf gebrand

Die rooi kerse is byna nerf gebrand
en die dowwe goue lig flikker nog,
in die ligte wind wat deur die slaapkamer trek.

Jou oë is groot en goud en dis asof
ek in die dieptes daarvan af kan klim
en daar’s ‘n tikkie sweet wat op jou voorkop glim.

Jou ligte vel is sy sag teen my
en ek sien hoe jou een bors nog prominent pienk-bruin gepunt
effens op en afgaan soos wat jy asem kry.

Die wyn glase is leeg en die geur
van Berg kelder port
hang sterk in die lug,

maar jou lippe is soeter en meer strelend
as enige wyn en dis asof ons passie vannag
nie wil verdwyn nie.

Iewers in die tuin roep ‘n voël na sy maat
en ek hoor die kerkklok elfuur afslaan,
maar die nag is jonk en jou lippe kielie my oor.

Umgababa

Nou sien ek
twee mense wat op die strand loop,
rakend aan mekaar.
met hande wat deur mekaar s’n vleg
besig om te giggel en te lag
soos twee verliefde tieners,
soenend op ‘n sandduin
en net daar
in die middel van die middag
beweeg deur lus en ontbrekende morele waardes
breek hulle die rein tradisie
op die tweede duin
asof hulle die enigste daar is
en geseën is deur die son.

[Verwysing: Umgababa deur Dikobe wa Mogale.]

As ek jou sag en warm om my voel

As ek jou sag en warm om my voel
verloor ek myself in jou
en ons is lank deel van mekaar
en jou uitroepe en kyke,
ryk tot aan die dieptes van my menswees.

Ons is vasgevang by ‘n plek
waar minute in ‘n ewigheid uit rek
en op die kruin van ‘n golf,
wat net groter en intenser raak
terwyl dit trillend hang
asof dit nooit gaan breek nie.

Die wêreld om ons gaan sy eie gang
en later is die wind koel oor my
en jou kop lê op my bors
en jou hare kielie my gesig,
terwyl jou vingers deur myne vleg
en die lewe voel sommer wonderlik en reg.

Wederhelftes

In jou liggaam dryf ek
asof die noodlot op my wag
om nog ‘n lewende wese te maak
en ek rys en val op jou see,
hoor die golwe breek
met blote intensiteit
terwyl jou stem in passie rys
en druppels sproei swemmend
met hulle eie lewe
as jy onder my bewe,
jou naels in my rug in grou
en trane van plesier
stroom by jou wange af

en ek hoor jou hartslag
in een van jou borste
as jy met jou kop op my bors lê
en jy’s myne en ek joune
en jou vingers klem om myne
asof niks ons ooit weer
sal skei nie.

Ons pas in mekaar in

Ons pas in mekaar in
en dis suiwer passie,
volmaak soos lig op glas,
met liggame, hande
en gevoelens wat dieper tas.

Daar’s JC Le Roux sjampanje plas in ‘n glas
en die rooi vonkel, soos die vuur
wat diep in jou oë brand
terwyl jy jou kop skud
jou bos hare oor jou skouers versprei.

Later sit jou lipstiffie
aan die rand van ‘n glas,
terwyl ek vir jou nog ingooi
en jou sigaret se rook
in die lug op spiraal

en my blik op jou volmaakte lyf val
voor jy my nader teen jou trek
en ek jou sy sagte vel voel
met tepels wat in my bors in punt
met jou asem sag teen my wang.

In jou slaap draai jy teen my,
lê met ‘n arm oor my uitgestrek
en dis asof jou lippe woorde prewel
terwyl jou gesig suiwer en rein
soos die van ‘n klein dogtertjie lyk.

Die volgende dag kry ek
‘n bruin haarknip in my bed,
op die kussing lê rooi lipstiffie afgedruk
en my lakens ruik nog na jou.

Nakend lê jy op die bed

Nakend lê jy op die bed,
op jou rug uitgestrek,
met die kamer vensters wawyd oop

so asof jy die laaste bries wil vang,
terwyl die son vir oulaas laatmiddag
aan die berg top lek

en ek sien jou borste op en af beweeg
terwyl jy asemhaal, waar jy lê met bene oop
waar sonlig op haartjies val,

van jou skaamte heeltemal onbewus,
so asof jy net ‘n klein dogtertjie is
terwyl jy voort slaap

en ek trek ‘n ligte deken oor jou,
voor die aandskemering
jou met skielike koue vang.

Nagte en dae

(in antwoord op T.S. Eliot)

I

Die somer dag staan na einde se kant toe
met laaste lig daarvan wat draal,
met blêrende televisie stelle,
by die reisiesbaan mense
wat hulle laaste weddenskappe nagaan,
kinders wat in deurgange speel
wat beter dae gesien het
en in stad blok na stad blok
word blompotte uitgestal op balkonne,
die reën piets neer
en tyd rek uit na sewe uur,
in nog ‘n verslonsde dorp
waar rondlopers in oop erwe onder bome staan
om skuiling te vang teen die reënerige bries
as mense waarvan hulle gees, gestroop weg is
as die straatlampe aan kom,
een na die ander flikker
en prostitute onbeskeie op die strate begin loop,
uiters opgewek en uitlokkend.

II

Die vroeë oggend lig
skyn helder deur oop vensters
en onbekende paartjies word langs mekaar wakker,
ken nie eens mekaar se name nie
en is nie gepla om totsiens te soen nie
in woonstelle en huise waar die reuk van seks,
sjampanje, bier of wyn nog dralend is
van die nagtelike eskapades
en die blou lug glans met varsheid.

III

Alleen in ‘n woonstel in die stad,
een tussen honderde ander,
steek jy ‘n kers aan en op jou eie
het jy ‘n kerslig ete
met vonkelende sjerrie
in ‘n lang glas
en is werklik pragtig
met groot donker oë
‘n peer vormige gesig
en sagte teer lippe
en dink hoe lekker dit sou wees
as jy geselskap gehad het
en die lewe strek amper eindeloos voort
met werk toe gaan, jou pligte daar
en tuiskoms na ‘n leë woonstel
en benede het die Nigeriërs
nog ‘n heelnag partytjie
met musiek wat deur die vloer stamp,
die buurman langsaan
het al weer ‘n rusie
met sy verloofde of vrou
en hulle klap deure
en die lewe gaan voort
op dieselfde manier
wat dit gewoonlik doen.

IV

Iewers hoog, anderkant die eindelose lug,
anderkant die sonnestelsel, kyk God af
na elke stad, elk enkele dorp
sien elke persoon
en selfs gedagtes, persoonlik, privaat
wulps of deurlug
word deel van sy begrip
van menslike wesens.

[Verwysing: Preludes deur T.S. Eliot.]

Hoe langsaam kruip die dae verby

Miskien is ek reeds lankal dood
en lewe dalk in iemand anders se droom
of siekte waan in hierdie stille bestaan
waar ek self nie meer liefde kan maak of kry
asof ek reeds in die doderyk is
en te stadig sluip die tyd aanhoudend aan
nes asof alles doodstil gaan staan.

Nêrens is daar iewers
waarheen ek my kan wend
en daagliks wonder ek
oor die rede vir my bestaan
en die doel waarom alles gaan.
en nêrens is daar hoop
wat die duisternis om my
‘n tikkie vinniger verby kan kry
terwyl dit spook met my.

Of dalk is daar gode wat wellustig is
wat vir hulle sekskepades
gunste van nimfe moet bedel
terwyl ek in my malheid verdwaal
en geen grootse woorde meer uithaal
en hulle nou op ander plekke kuier
as in my gedigte
asof iets in my, dalk iets onaantasbaar
hulle van my afweer en weier
en eggo hulle magtige woorde
op ander plekke uit

en hulle gebrul en jolyt weergalm om my
terwyl hulle plesier het en lekkerte kry
waarna ek nou net kan smag
en ek in hierdie hel net vasgekluister bly.

Sluit nou jou hande om my
asof niks dit ook los kan kry
en laat jou lippe myne vind
en ons in wellustige passie verbind
dat as die dood se vingers na my gryp
ek nog ‘n laaste slag
jou hartklop hoor
en jy my vir ‘n laaste maal liefkosend omhul.

[Verwysing: Wie langsam kriechet sie dahin deur Heinrich Heine.]

Met grootse fantasieë

Met grootse fantasieë
ontvou ‘n droom van jou en my
‘n droom so helder en duidelik,
asof dit werklik gebeur.

Jou teenwoordigheid is bepaald hier,
die klank en toon van jou stem
die warmte, die sensasie
van jou eksplisiete aanraking,
maar in my ontwaking
is daar net dun lug
in die kamer om my.

Totaal verlore in my eie land

(in antwoord op Kelwyn Sole)

I. Buite op die stoep slinger klein klokkies in die wind

Buite op die stoep
slinger klein klokkies in die wind
(‘n nuwe duur stel wat jy gekoop het)
wat ons selfs in ons slaapkamer hoor lui.

My oë volg jou terwyl jy
‘n baai kostuum aantrek,
om in die bure se poel in te plons
en later klim ek oor die muur om by jou aan te sluit.

Jy sny spinasie, feta kaas saam met
sampioene, uie en tamaties op
met vinnige hale en alles
gaan in ‘n blink braaipan

en op die stoep
aanskou ons die son wat sak,
geniet ons ‘n maaltyd
met glase soet wyn

en later as ons na Dr. House kyk
lê jy met jou kop op my bors,
na ‘n rukkie soen ons,
en bemin mekaar

II. Passie swiep ons weg

Passie swiep ons weg
terwyl slegs die honde
en die groot geel maan ons aanskou,
tot ons gedaan teen mekaar lê

en jy my vertel
van jou moeilike kinderdae,
van ‘n vader wat drank verander het
in ‘n tipe onbesonne mens

maar hoe hy kon uitblink in digkuns,
tog met tye probeer lewe het
volgens die weë van God
en dat jy werklik lief vir hom was

en ek vertel jou van groot word
sonder ‘n pa, van hoe my ma
haar uiterste beste gedoen het
om ons ‘n goeie lewe te bied

oor die vernietiging, die woesteny
en die impak van oorlog,
van hoe dit is om ‘n soldaat te wees,
om ‘n ander mens te dood,

oor hoe dit voel om bomskok op te doen,
met koeëls wat oor jou kop fluit,
oor my vriende, makkers
wat dood geskiet is

terwyl mense op ander plekke
uiteet in restaurante,
bioskope besoek,
dans of kyk na ‘n televisie vertonings.

III. Buite wuif katjiepierings teen die ruite

Die gedoef van masjiene buite
klink amper soos die weergalming
van ons bonsende harte
en op die kas staan ‘n vaas met diep rooi rose

waar jou lyf vasgeplak is aan my,
ek die grasie sien waarmee jy asemhaal
en in jou goue oë is daar ‘n lieflike vonk
wat my herinner hoe lekker dit is

om nog jonk te wees, te weet dat ons lewe
en as jy later teen my sluimer
fluister jou asemhaling ingeënt teenaan my,
soos ‘n soet melodie
en buite wuif katjiepierings teen die ruite
in ‘n digte prieel terwyl ek met ‘n tepel speel.

IV. Ek maak vir ons tee

Ek maak vir ons tee
en jy sê dat net ek so tee kan maak
eet van my beskuite,
terwyl ons hande net-net aan mekaar s’n raak

en dis al na nege
wat jy van die gimnasium af kom
en jy draai die teelepel
om en om

terwyl jy groot oog na my sit en kyk
en ek wonder wat jy eintlik aan my wil sê
sien jou oë skielik voor myne wyk;
jy is moeg wil in jou huis gaan slaap

en vroegoggend kry ek ‘n elektroniese pos
wat sê dat jy my los.

V. Ek het besef

Ek het besef
dat mense soms dinge doen
om iemand terug te kry
of die self te laat geld
of net omdat hulle kan

so asof mens heeltemal vry
van mekaar in ‘n verhouding staan
en alles net
om die self en ek gaan.

Afgesien van die skade
en onherstelbaarheid
wat dit laat
of die geweldige impak
wat dié verwoesting bring

so asof dade
nie ook gevolge dra
en aanhoudend wyer uit kring
en gister, vandag en more
ewiglik dieselfde bly

dat mens die redes
nie noodwendig raaksien of verstaan
en antwoorde
partykeer vir altyd
van jou af wegbly.

VI. Oë vol water verwar die prentjie wat ek hou

Oë vol water verwar die prentjie wat ek hou,
toe ek met my motorfiets uit Pretoria wegry,
toe ek afskeid neem van jou,
met ‘n vaart verby karre op die snelweg sny

waar jou hare roesbruin nou son deurdrenk is,
maar die noodlot gooi sy dolos uit,
as ek jou al reeds klaar mis
en ek moet spring waar dit my lewe neer smyt

en die swart pad kronkel soos ‘n slang,
nog is die son warm in ‘n kobalt blou lug,
terwyl die motorfiets my volle aandag verlang
sien ek ‘n swerm voëls hoog in hulle vlug

suis deel van my lewe met die wiele verby,
terwyl jy alleen agterbly.

VII. Ek slaap reeds toe jy my bel

Ek slaap reeds toe jy my bel
(so asof ek uit eie keuse by jou weg is)
jy my van jou eensaamheid vertel,
sê dat jy my baie mis

dat jy eintlik net alleen is en jy wil my nie affronteer
en dis asof die mure op jou invou
maar eintlik kom die gesprek daarop neer
dat jy nou dinge in ‘n ander lig aanskou

en ek kom agter dat jy bang is en jou stem raak skraal,
is vol onsekerhede en jy wil weet of ek iemand anders het,
in die verte hoor ek oor die foon ‘n donder neerdaal,
die kat kom in deur die venster en spring op die buffet,

ek sien dat die groot ou klok die tyd reeds na elf af tel
en ek sit die huis foon neer en wonder waarom jy my bel?

VIII. Ek het jou so eensklaps verloor

Ek het jou so eensklaps verloor,
toe ek weer sonder ‘n kontrak is
en hierdie werkloosheid krisis,
gebeur met my oor en oor

en elke keer begin ek weer van voor,
soek in verwarring in die lewe se mis
wat om my vou na betekenis,
na iets nuuts om my weer aan te spoor.

Jy sê dat jy ook nou soms
na Handel se water musiek luister
en alhoewel dit pragtig is, is daar vir my pyn daarin
voel alles tussen ons so klaar en afgehandel,
is dit asof jou stem nie meer in die nag wind fluister,
is dit of daardie musiek nou vir my weemoed bring.

IX. Bo die Shoprite

In die parkering bo die Shoprite
in ‘n uithoek sit drie blanke mense
met plastieksakke, komberse,
ongeskeer, met ongekamde hare
twee mans en ‘n vrou
en die leier van die groepie
draai tabak uit stompies uit
wat hulle opgetel het
in ‘n ou toeskroef bottel.

Later word daar uit ‘n verflenterde telefoongids
sigarette gedraai en laat middag,
soms met sonsondergang, is hierdie
hulle bymekaar kom plek
en ek sien hom ‘n vuurhoutjie
teen sy uitgeloopte leer skoen se sool trek,
later vra hulle by DJ’s
of die swart kafee eienaar
dalk oorskiet kos oor het
wat hy andersins sal weggooi.

Hulle vra my vir sigarette
en ek kan hulle nie help nie
want ek rook glad nie,
het nie eens geld aan my
om ‘n brood vir hulle te koop nie
of dalk ‘n liter melk,
sien hoe hulle uit karton dose vir die nag
beskutting probeer opslaan,
wonder waar hulle
teen die winter koue skuil,
wat hulle maak as dit reën?

Ek verlang om met jou
‘n gesprek te voer,
kry by die internet kafee
‘n elektroniese pos
en jy sê dat jy

baie tyd het om te dink,
te dink oor die probleme
wat jy in jou eie
persoonlikheid vind

en ek wonder oor jou verhouding
met jou nuwe vriend,
wat waarskynlik in Nelspruit werk
maar dis nie my belange nie.

X. Ek word van jou woorde weg getrek

Ek word van jou woorde weg getrek,
deur dade wat ek nie ongedaan kan maak nie,
asof die waarheid weg geneem word
deur die teistering
wat jou woorde uit lap,
‘n storm wat in jou hart woed.

Ek het nie gekies om weg te gaan nie,
maar is soos ‘n afgesaagde boom
wat val waar die noodlot bestem,
nie waar ek begeer nie,
grypend altyd grypend
vir die manier hoe die lewe eens was,
om jou naby aan my te hê.

XI. Hoe hartseer is dit

Hoe hartseer is dit as mis
die hele oggend oor hierdie herfs hang,
en nou wonder ek waar ek in jou lewe in gepas het,
of was ons slegs oomblikke in mekaar vasgevang?

Vandag wonder ek oor jou wat met goue oë
my ganske wêreld kon bestraal,
sien later ‘n paar reënboë
waar lig oor die wolke afdaal,

kry nou na byna ‘n jaar
‘n antwoord op jou “dood gewone vrou,”
is jammer dat my woorde toe jou nie kon spaar
en wonder wat jou woorde nou in hou

waar jy skryf: hierdie gedig is vir jou
en my sterkte toewens en ek ons tye saam onthou.

XII. Is dit ek of jy?

Hoe moes ek weet
dat liefde
by jou geen betekenis dra
en wat tussen ons is
jy as ‘n tronk sien

so asof ek nie eens
effens in die prentjie is
en die Here God
nie elke ding aanskou;

tog wonder ek
wie op die einde
die meeste ly
is dit ek
of is dit jy?

XIII. Wat is daar oor om te sê?

Wat is daar oor om te sê
dat ek kompulsief op my motorfiets wou klim,
dat ek jou vandag soos gister lief wou hê
al die pad wou ry na jou, verby die verste kim?

Dat toe die skemeraand later kom,
ek wonder of jy my mis,
dat ek my aan die sononder verstom
en ek wonder of die wolke by jou ook pragtig is?

Wat is daar oor om te sê,
as ek nog wonder waar die einde tussen ons begin het,
wonder watse geleenthede in hierdie land ooit nog voorlê
en nou ‘n vreemdeling is van jou wat ek eens bemin het?

Miskien het Hy ons van mekaar af weggekeer,
of dalk het jy net self verder weg muteer?

[Verwysing: Uttara deur Kelwyn Sole.]

Aan iemand wat ek bemin het

(in antwoord op Kelwyn Sole)

I. Geure van jasmyn

Geure van jasmyn, katjiepiering
en laventel sluip in
deur die kamervenster
en dit ruik na ‘n parfumerie

terwyl strale op strale oor die bed marsjeer
klim oor jou arms, liggaam en bene
waar ons uitgestrek
teenaan mekaar lê,

ons ignoreer die klanke van die straat
waar karre verby jaag,
die geblaf van honde
wat skel op vreemdelinge wat verby gaan,

slegs as jy wakker word,
trek ek die gordyne dig
as ons die koue van die skemer voel
en verenig in liggaam en siel.

II. Op die stoep kyk ons na die son wat sak

Op die stoep kyk ons na die son wat sak
terwyl soet St. Anna wyn
in ons glase vonkel
en daar’s ‘n intiemheid
‘n soort van rus

in die ondervinding van vroeë aand
terwyl ligte geel en wit in die verte skyn,
die onderkant van die wolke byna robynrooi is,
die swart reeds sommige wolke verdonker
terwyl ander sneeuwit bly

die duister vang ons
met ‘n ronde vol maan
en soos stoute kinders
sluip ons by ons huis in,
sluip ons in ons eie kamer in

terwyl vreugde soos sjampanje borrel
is ons uiters intiem saam
versmelt in een liggaam
as jou hand later nog oor my rug streel
soos ‘n skoenlapper

wat skaars hier en daar raak
besef ek dat jy die beste deel van my is,
met jou sagte soet lippe
wat skaars aan my wang raak,
jou warm asem teen my wang.

III. Terwyl die nag gebore word

Terwyl die nag gebore word
kruip die donkerte in ons huis in,
sluip dit na ons slaapkamer,
waai ‘n skielike bries

vêr weg teen die horison
naby die Magaliesberge
flits blouwit blitse
soos kanon vuur

terwyl ons die geur
van reën, van die nat aarde kan ruik
op die bries wat sterker waai,
die klein aartappel bome heen en weer ruk

jou gesig is vol van skrik
in die glans van ‘n donderstraal
wat net buite die venster val
en jou oë lyk groot en wit

terwyl ek jou teen my vasdruk
en jou arms vou om my, omhels my, trek my
nog nader en skielik
is die nag koud

terwyl groot druppels reën neer giet,
plas tot die reën stroom soos ‘n vloed
en ons vind troos in mekaar
versmelt met passie.

IV. Die wekker maak my wakker

Die wekker maak my wakker
as dit nog skemer is
en met die vallende reën
is die vroeë oggend nog donker
asof die nag draal.

Buite wuif die groot jakaranda bome
in die storm wind
laat val pers blou blomme
soos ‘n stortbui konfetti
en die straat glinster

terwyl karre
water plas in ‘n sproei
en ons moet gereed maak
vir die nuwe dag
en effens lui strek jy jou uit,

trek my terug in die bed,
trek my nader aan jou,
trek my in jou hitte in
terwyl ons lippe, liggame en ledemate
vervleg om een te word.

V. Ons maak ‘n middagete afspraak

Ons maak ‘n middagete afspraak
in ‘n restaurant net duskant kerkstraat
op ‘n herfs dag
op die twintigste Mei

en jy glimlag,
lig ‘n glas sjampanje,
as daar so naby dat ons die wind daarvan kan voel
‘n geweldige ontploffing verbryselend uitbars,

onskuldige mense in Kerkstraat verpletter
met dodelike skerp stukke glas en beton
en ek trek jou af na die grond toe
om dekking te slaan agter die klein tafeltjie

waar ons geëet het,
die lug is skielik vol
met die klank van mense
wat in pyn en angs skreeu

en ons haas na buite,
gaan in Kerkstraat in
en daar’s bloed en ingewande orals
met bevreesde, skreeuende, verbryselde
en gewonde mense

waar ook al ons kyk
en jy huil met die gewaarwording van ontsetting,
in blote skok en vrees
en die wêreld het verander in amok.

[Verwysing: Seqence for solo voice deur Kelwyn Sole.]

Soos ‘n wit lelie

Soos ‘n wit lelie
wat op ‘n donker poel dryf,
lê jy langs my.

Elke deel van jou is rein
en deur die hemel gemaak,
om meer as perfek vir my te wees.

Jou vingers vleg deur myne
en jou liggaam,
raak my sag aan met liefkosende hitte.

Ek dryf dieper in jou middel kern
en bind vir ewig
met iets baie groter,

as die passie en fisieke verrukking
van twee honger siele
en jy bly myne

deur die gang
van alle tyd
en ek weet hoe diep

en vêr en wyd
en opreg,
jou liefde werklik is.

Die jongman (hybridanelle)

(in antwoord op Elisabeth Eybers)

Onder die stort staan haar man druipnat
waar sy haar arms om hom slaan
terwyl water van hom afspat.

Sy vel is sag onder haar hande,
sy was teen sy rugstring af
en sy gly byna, kom reg teenaan hom te lande,

en die stort se vloer is seepglad
as sy nader en vaster teenaan hom staan.
Onder die stort staan haar man druipnat

en hy glimlag sag met spierwit tande,
sy kan sy spiere voel span met krag
sy was teen sy rugstring af

en toe sy gly moet sy die greep aan hom vervat,
voel hoe plassende water oor hulle albei gaan,
terwyl water van hom afspat

en hy hou haar tee, gryp haar met mag
en sy was af teen sy bobeen
kan sy spiere voel span met krag

en die vloer is glad maar afgeplat
en sy wonder waar kom sy manlike krag vandaan?
Onder die stort staan haar man druipnat

en sy was hom so laag as elke hakskeen,
haar vingers tas
en sy was af teen sy bobeen

en sy borshare is swart geklad
en sy blik is vol wellus en sonder enige argwaan
terwyl water van hom afspat

oor sy arms, sy sterk ribbekas.
Sy sien sy manlikheid span, nou heeltemal paraat
haar vingers tas

waar sy hom skielik vasvat,
kyk na hom vol eiewaan.
Onder die stort staan haar man druipnat
terwyl water van hom afspat

en sy glimlag sluk haar byna in, is baie kordaat,
sy vel is sag onder haar hande,
sy sien sy manlikheid span, nou heeltemal paraat
en sy gly byna, kom reg teenaan hom te lande.

[Verwysing: Jong seun deur Elisabeth Eybers.]
“Tog, onvolkome afgerond,
hoe sal die lewe hom nog wond:
in sy Achilleskern vind
hy geen beskutting – man of kind:
geheg aan die benedebuik
waar blink haarrankies reeds ontluik,
deuraar, teer soos ’n ooglid, sag
soos murg, hang weerloos die geslag.”]

Die insit van die saad

Jou liggaam is sag en warm,
waar jy uitgestrek
op die bed lê.

Elke deel van jou liggaam
trek my oë
en op die een of ander manier,
is daar meer as net behoefte en lus
wat tussen ons wakker word.

Twee berge met gepunte pieke
rys op en af
en reageer op sagte aanraking
en jou nek is slank
en sag onder my lippe.

Jy bewe as ek jou ore raak
en iet in jou oë
laat my manlikheid lewe kry
en jou sagte vingers
draal magies oor my.

‘n Krullende kol
met klossies donker hare
trek my vingers,
na die warm en sagte intensiteit
van deel van jou raak.

‘n Heilige oomblik hang tussen ons
en as ek in jou in gaan
is daar iets magies,
wat om my vou
en ons rys en daal
en jou uitroepe en kreune
dryf my mal
en ek voel jou sidder
onder my
en die saad bruis uit.

Oomblik rek uit en uit
en ek sit die saad in vrugbare grond
en ek hoor jou asemhaal
en voel jou hart klop
soos deel van my
en ek’s joune
en jou hare skuur sag en tintelend
oor my wang
en daar’s vonke
baie diep in jou goue oë
en op ‘n manier
kan ek God
in die liefde tussen ons voel.

Die storm tussen ons twee

Hoe dein jy soos die see
in die storm tussen ons twee
en terwyl dit woed
vind ek nêrens land
en dryf rond

en jou golwe breek gedurig
en digter aan my lyf
sleur my mee

en sluit baie intiem
rondom my stuurstang
en jou labia omsingel my
terwyl ek deur jou waters ry

en later teen jou anker
en sien hoe twee gebergtes op en af rys
en hulle spits pieke wys

en uitrus terwyl jou golwe nou
meer strelend is,
voor die volgende storm kom.

Onthou

Daar’s vanoggend leë glase
met die geur van St. Anna
wat op die tafel staan.

Die lang reghoekige kers flikker nog
as enkele getuie
en dis asof jou geur
nog aan my lyf kleef

en ek onthou jou tong
wat om myne vleg
en hoe groot jou oë
in die kerslig lyk

hoe pragtig jou haarlose labia
vanoggend lyk
en jou hand oor die haartjies
by my geslag stryk
jy soos ‘n blom oopvou
en ons in mekaar in smelt
en ek in jou ontplof
en jou hart dof hoor klop

en nou dat jy weer terug
by die huis is
en ek hier my ding moet doen
onthou jy ook nog vanoggend en gisteraand?

En as die son vanaand sak
sal jy ook aan my dink
en sal jou hart nog steeds
in jou rinkink?

As

Ek voel jou rondom my geleibuis
waar jy hitte gee, in passie vernou
totdat daar ‘n lading tussen ons vloei
soos ‘n donder straal, waarlik verenig

en jy skreeu in ekstase
klou aan my, met naels
wat in my rug inslaan

en ek sien die rou krag van passie
vlammend in jou bruingroen oë
soos twee sonne in ‘n kern reaksie

en voel jou verstyf en bewe
gevul met nuwe energie
wat jou hele liggaam laat gloei

en ek is in jou sentrale as
gekoppel, besig om energie uit te druk, lewe te gee
en vir ‘n oomblik is dit ‘n ander wêreldse konneksie
wat ons saam laat vlam, jou myne maak.

Daar is ‘n oomblik in tyd

Daar is ‘n oomblik
waar interaksie met die vroulike vorm,
waar die aanloklikheid van oë, mond, aanraking en vel
jou in trek
en dis asof jy lewe
in ‘n tyd en plek ontbloot
van elke ander ding
waar godsdiens, die hemel en hel
weg gevee word deur blote saligheid
waar ‘n oomblik waarlik onmeetlik is
in die verval en vloei van paring
waar die saamwees alles word.

‘n Driedubbele sessie op ‘n sondag in Kaapstad (parodie)

(met apologie aan Koos A. Kombuis)

I

My hart wil slaap vannag
met botheid en swoeging
en my gekartelde gereedskap
is aan die swaar kry.

Alles word verspil, degenereer
van die meisie by die rooi lig
tot die platoniese glimlaggies
van die poppe in die spaar kamer.
As my winde net wou ophou draai!
Krap ek met aardbewings in hulle slaai!
van die Kaapse meisies op die front
al waar neon liggies flikker;
boodskappe dat ek selibaat is
en vol verwagting.
My hekke is almal toe.
Ek laat geen bediende binne nie.
Die twee party het lankal vertrek,
is na ‘n ander ryk jolige se huis toe;
ek’s vol van my eie beter wetenskap.
Ek sluip verby die yskas
met die naweek babalaas wat ek weg wens.

In die suburbs het ek nie ‘n horing nie.

II

Al my vriende het elk ‘n sessie.
Almal is half beserk.
Almal vra meisies om uit hulle leer klere te glip.
Almal is besete met ‘n klein dorpie seks hormoon.
Net ek is meer desperaat.
Ek kry nie ‘n chick in die straat.
Al my vriende moet gedurig uittrek
en soms ‘n meisie los om te laat spat.
Almal wat nie weet nie kan nie raai nie.
Al lyk ek bedeel op die regte manier.

Ek is regtig bedeel.
Ek’s draad werklik desperaat.
Ek kry nie ‘n chick in die straat.

As die klokkie lui
trek ek heeltemal toe.
Ek’s ‘n skorrie sonder vitamines.
Ek bak vir ure lank.
Die bure hou kompetisies as my vriende
en kom van ‘n afstand hier rond.

Hulle kan sê ek’s selibaat.
Ek kry nie ‘n chick in die straat.

III

Ek wens ek was oop gegrendel,
in my ouerhuis liewers
tussen singende meisies met kondome
en eetbare poppies.

Ek wens ek was aan die einde van my strewe,
eenkant langs die tuin hekkie,
terwyl ‘n aster verby draf.

Ek is bedeel en het ‘n strewe.
My Fascisme kry nie meer applous nie.
Ek het almal bedien. Niks en niemand daal laag nie
Ek’s aan seks verknog.
en mank met delirium.
Stil maat, terwyl ek ‘n drang kry –

Die vuur in my lendene is groot
terwyl meisies my vermy.

[Verwysing: Driedubbele depressie op ‘n sondagnag in Kaapstad deur Koos A. Kombuis.]

Voetnotas:

(1) “Seksusaliteit is dierlijk, zij is een natuurlijke drifuiting, terwijl erotiek zick binnen de sameleving ontwikkelt. Eerstgenoemde behoort tot het domein van die Biologie, laastgenoemde tot dat van die cultuur. Het denkbeeldige is een wezenlijk aspect van de erotiek: de erotiek is de metafoor om de seksualiteit.” Hennie Aucamp, Hittegolf: Nawoord, Homeros uitgewers, Kaapstad (2002) P53.

(2) “Afrikaans is baie dekades lank geknel deur amptelike en individuele sensuur. Godsdienstige en opvoedkundige oortuigings en oorwegings het die Afrikaanse letterkunde “klein” gehou. Raka is aanvanklik vir skoolgebruik afgekeur op grond van één sinsnede: “en skaamteloos groot / die skaamte,” en Jochem van Bruggen is in Die Kerkbode aangeval omdat hy in ‘n dialoogsituasie in “Ampie” van “pram” durf praat het. So onlangs soos 1976 het ‘n boek soos Magersfontein, o Magersfontein! van Ettienne Leroux die wind van voor gekry. Die Publikasieraad het aanstoot geneem aan talle woorde en sinsnedes, ondermeer van die verteller se verwysing na die karakter Gert Garries se “formidabele voël.”” Hennie Aucamp, Hittegolf: Nawoord, Homeros uitgewers, Kaapstad (2002) P55.

(3) “Toe die Wonder van Afrikaans in 1959 gevier is, het van Wyk Louw gesê dat Afrikaans eers tot die kombuis verban is, maar later tot die sitkamer toegelaat is. Die slaapkamer, het hy moedeloos gesê, is nog steeds verbode terrein.” Hennie Aucamp, Hittegolf: Nawoord, Homeros uitgewers, Kaapstad (2002) P55.

(4) “Waar erotiese verhale hulle ineng tot die seksdaad en seksorgane, kan woordeskat egter ‘n probleem word, sê Manguel in The Gates of Paradise, om die eenvoudige rede dat woordeskat op hierdie gebied in die meeste tale beperk is. Ek wil nie heeltemal saamstem met Manguel nie – ek glo daar is in elke taal ‘n ryk dormante woordeskat omtrent seks; ‘n woordeskat wat nie altyd in standaardwoordeboeke fungeer nie; en as dit wel voorkom, as “plat” omskryf word, waar die korrekte eintlik moet wees “volks” of “volksaardig.”” Hennie Aucamp, Hittegolf: Nawoord, Homeros uitgewers, Kaapstad (2002) P53.

(5) “Die skrywer en briljante bloemleser Alberto Manguel dink ook in die trant van Octavio Paz in sy bloemlesing van erotiese literatuur, getiteld The Gates of Paradise. Erotiek, sê Manguel in sy inleiding, moet ‘n integrale deel wees van ‘n wêreld waarin mans en vrouens, homoseksueel en heteroseksueel, ‘n dieper begrip van hulleself en ander soek. Wat pornografie van erotiek onderskei, gaan Manguel voort, is dat pornografie ‘n gemaputeerde verskynsel is: dit word losgemaak van sy sosiale konteks.” Hennie Aucamp, Hittegolf: Nawoord, Homeros uitgewers, Kaapstad (2002) P53.

(6) “Sedert Barend Toerien se gedig het die seksemansipasie van die vrou hom voltrek, en kon Antjie Krog die “vierkuns” herhaal in haar digbundel “Kleur kom nooit alleen nie” (2000). Die guitige omskrywing van Lucas Malan in sy bespreking van Krog se bundel, die vierkuns synde: “kak,” “piel,” “poes” en “drol.”” Hennie Aucamp, Hittegolf: Nawoord, Homeros uitgewers, Kaapstad (2002) P56.

(7) “In Indië word die linkerhand
gebruik om die afvalskotjies mee op te vang;
hierom groet of eet mens nooit met hierdie hand…
…Soos daardie kakvangertjie in Indië is die digter
insgelyks bewus van uitskot…Is boetedoening nodig
soos Here vergeef haar, want sy weet nie wat sy uitskyt nie”

Joan Hambidge, “’n Gedig plagiaseer die werklikheid,” “Vensters van die hart,” Poetry Institute of Africa (2000) P7.

(8) “Eers in 1991 kon Barend Toerien onbedwonge van “voël” praat in sy titelgedig in Parte Speel. Die gedig bestaan uit vyf dele: Neus – Tong – Oë – Voël – Voete. Toerien se sterk, volwasse gedig het intussen “gekanoniseer” geraak, en die Voël-“ gedeelte is dan ook in die jongste uitgawe van Groot Verseboek opgeneem.” Hennie Aucamp, Hittegolf: Nawoord, Homeros uitgewers, Kaapstad (2002) P55-56.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak