Jongste aktiwiteit:

Die Raaisel

Brons afd – Johan j van Rensburg

996 woorde Kortverhaal

Die Raaisel

Met die inloop in my ma sitkamer het die hangkassie bruin en trots gepronk.
Na jare was die hout blink en sonder skraap, die glas, verdeel in drie groot panele, was heel, en die laatjies het hulle eie sleuteltjies gehad.

‘n Ware kanniedood!
Hy was maar altyd daar. Na ouma se afsterwe het hy gulsig die hoètroustel in die
sitkamer se plek ingeneem.
Ek onthou hoe ons Sondae na kerk by ouma Fien in die aftree oord gaan koffie drink het. Met die bruin melkpoeier brousel veilig in ‘n plastiekglasie het ek dan grootoog op die hardehaar matjie voor die hangkassie gaan sit en die ornamentjies daarin met my oë ontleed.

Ek was in ‘n ander wêreld!
Daar was die wit gehekelde swaantjie met sy lyfie vol pepermentlekkertjies, en ‘n
olifantjie gemaak uit ‘n ou handy-andy bottel met sy magie vol pienk ouderlingspilletjies!
‘n Dogtertjie gemaak uit seeskulpies, ‘n “lady bug” uit klippies, en ‘n tweewiel fietsie kunstig uit bloudraad gevleg. Ouma was sentimenteel. Alles van waarde kry ‘n ereplek in die hangkassie. Sy vertel dat die oudste ornament wat daarin is, die verdroogde handruikertjie is wat sy op haar sestiende verjaarsdag na ‘n skooldans gedra het.
Vanselfsprekend was dit taboe om die ornamentjies te hanteer.
Die klein brons sleuteltjie het ouma iewers versteek. Net sy kon die inhoud daarvan hanteer. Ek kon net kyk. Nou en dan het my nuuskeirigheid my genoop om opgewonde vragies te vra. “Waar het ouma die bottel wyn met die rooi rokkie aan gekry?” Ouma het dan so ‘n veraf kyk in haar oë gekry en die gesels het in die lug bly hang.

“Dit was my ant Sussie se kombuistee. Al die tafels is opgedollie en die wyn met
die rokkie aan was in die middel van elke tafel staangemaak. Ai, elke vrou van die dorp was genooi.” Ouma lag dat haar tande amper hulle plek verloor. Sy kyk vir ma. “ Tannie Sus het daardie dag soveel kombuisware gekry, ons kon ‘n restaurant oopmaak!”
Ma het afgekyk en ‘n mondvol koffie gesluk. Ma is nie ‘n opgaarder nie.
Een Sondag vra ek toe heel onskuldig uit oor die twee groen gebreide babaskoentjies in die hangkassie.

Ek sweer ouma het my gehoor, maar sy het aangehou praat asof ek nie daar was nie. Ek het bly wag vir die gesels wat moet stop, bly uitkyk vir die veraf lig haar oë, tot pa my later uitgevat het buite toe om te loop saamspeel met my sussies onder die druiwepriëel. “Kinners word gesien en nie gehoor nie”.

Ek het nie meer gevra oor die ornamentjies nie, ek het stil soos ‘n muis op die hardehaar matjie voor die hangkassie gesit en gedroom…
Jare later pronk die wit olifant in my ma se voorhuis.
Die sleutel van die glasdeurtjies het so met die verloop van tyd verlore geraak. Ma laat die kleinkinders toe om die ornamentjies uit te haal en daarmee te speel wanneer hulle kom kuier en die verveeldgeit hulle baasraak. Die pepermentjies en die pienk ouderlingspilletjies is lankal verorber.

Skulpiedogtertjie se voetjie is af en die glas spaarvarkie is al tweekeer aanmekaar gegom. Dis net die wynbottels en die groen babaskoentjies wat nog hul vroë bekoorlikheid behou. Dit voel aardig om die kinders so losweg en hardhandig met die ornamente te sien speel. My hart pyn as ek sien hoe Ken en Barby op die fyn bloudraad fietsie moet ry.

Die hollandse poppie se hare het ‘n nuwe kapsel, en die voëlnessie se pienk en blou wattetjies is weg. Ouma sal in haar graf omdraai!
Helaas skraap ek moed bymekaar en vra ma of ek nie die wit olifant mag saamneem huistoe nie. Sien, ma gaar mos nie op nie! Toe ma hoor ek wil ‘n nuwe “white wash” voorkoms gee aan die oue, was die koeël dwarsdeur die kerk. Die kinders pak dit wat oor is van die binnegoed opgewonde in ‘n kartondoos en skryf groot en swart “Oumagrootjie se Ornamente” op die kartondoos, voordat ma dit in die stoorkamer op die stukkende wasmasjien gaan neersit.

Tuis sit ek toe op die sementblad van die lapa en kyk deur die venstertjies en raak oordadig nostalgies. Ek proe weer die koffie-en-melkpoeier mengsel in my kieste, en ek voel weer die hardehaar matjie onder my sitvlak. Ek huil oor die agterkleinkinders se hardhandigheid en oor ek wat die voorreg ontsê is om aan die kosbaarhede te rààk!
Die sleuteltjie draai sag in die slotjie en ek wikkel die laatjie respekvol oop. Ouma moes die slotjie kort-kort dokter met spookpiepie, anders wou dit nie in die slotjie draai nie.
Ek onthou.
Daar is iets wat vassit aan die bodem.
Ek wikkel daaraan. Dis ‘n koevertjie. Ek trek dit versigtig los van die bodem van die laatjie. Ek sit verstom terug op my hakke. Ineens is ek weer die uittand dogtertjie op die hardehaar matjie voor iets baie interesants. In my gees sien ek weer hoe die gesels in die lug bly hang. Almal se oë is vasgenael op die vergeelde koevertjie in my hande.
Ouma het die kyk in haar oë, ek sweer ek hoor haar hier agter in my nek fluister. “Maak oop die briefie, my kind…”
Dis ‘n koerantuitknipsel. ‘n Klein beriggie, onder in die hoek van die bladsy:
Tragedie tref Noord-wes familie.
Ses familie lede sterf in fratsongeluk buite Ventersdorp.
Enigste oorlewende was Fien Visagie en baba Zelmari Visagie.
Frans Visagie, seun van Fien Visagie moes die masjiene van baba Zelmari Visagie
gaan afsit.
Ons harte gaan uit na hierdie verslane familie…
Ons bid vir julle.
Ek sien die groen babaskoentjies in die hangkassie, ek onthou hoe ouma my nie wouhoor nie. Kinders moes gesien word en nie gehoor word nie. Die atmosfeer was gelaai, ek onthou dit nou.
Dit was Zelmari se skoentjies. Pa Frans moes die masjiene gaan afsit…
Dit verduidelik waarom pa Frans so erg begin drink het. Dit was altyd ‘n raaisel.
Waarom my huis so gebroke was.
Ek verstaan.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed