Die Losieshuis
“Antie Bets van die losieshuis”, is wat almal in die dorp haar genoem het. Die mense het haar so in haar middel veertigs geskat, want die bolla op haar kop het al hier en daar grys lyne gewys. Sy het saggeaard voorgekom, maar jy sou gou agterkom sy is nie jou speelmaatjie nie! Sy is ʼn plaaskind wat met ʼn helder klokkielag kon vertel hoe sy self skaap kan slag. “Hier by die losieshuis doen ek alles self. Ek vang self die hoenders, draai hulle nekke om, pluk vere en pot hulle. Amper net so maklik soos eiers uithaal”. Die loseerders het hulle bes gedoen om in haar goeie boekies te bly, want soek jy skoor, staan jou koffers môre voor sonopkoms op die stoep. Stoot jy die ysterhekkie oop en loop na die blinkrooi stoep, kry jy die reuk van vleis, rys, pampoen en groente met aartappels en regte plaasbotter. Sy was ook bekend as die dorp se koeksister koningin en mense wat jy nooit in die kerk gesien het nie was lojale ondersteuners van die kerkbazaar.
Oom Piet was ʼn soldaat en effe kleiner as sy vrou gebou. Die losieshuis was gewild omdat dit loopafstand van alles nodig was: die skool, die kerk, die Joodse winkel waar jy enigiets, van vleis tot pik en graaf kon koop. Die losieshuispaar was altyd op almal se lippe en hoofspelers in elke skinderstorie. Wanneer hulle Jood toe is vir inkopies, het tannie Bets altyd haar hoed opgehad en oom Piet het altyd so paar treë agter haar geloop. “So asof sy die Queen is met haar lyfwag”, is laggenderwys oor en weer gefluister. “Ek wonder of sy hom ooit vergewe het dat hulle dorp toe moes trek? Jy weet die plaas was haar lewe. Mens wonder maar net”. Goeie soldaat die oom Piet, en stil mens soos hy was, het sy hande vir niks verkeerd gestaan nie.
Vir vyftien jaar bestaan hierdie losieshuis al, sedert middel 1930’s toe die land deur die groot depressie en groot droogte gegaan het. Hierdie droogte het gemaak dat die plaas verkoop moes word en hulle dorp toe moes trek. ‘Die een se dood is die ander een se brood’, in die vorm van oorlog gerugte, het gemaak dat die weermag meer soldate moes aanstel. Van dié soldate sou loseerders word. In die lang skemer gang het portrette van mense met stoere oë jou elke beweging gevolg. Voor jy afdraai in die kombuis met sy sissende potte op die koolstoof was daar ʼn geborduurde portret met ‘God is liefde’.
Die ‘jaart’ soos die mense gepraat het, was baie groot. Hier het tannie Bets ʼn groentetuin begin met rye en rye kool, houtstellasies vir boontjies en tamaties, beet, wortels en ook ʼn groot hoenderhok. Alles lyk so in plek, maar wat gebeur as daar weer ʼn droogte is? Oom Piet het by sy pa en dié se pa geleer om ‘water te wys’ en so stap hy met die gebuigde draadhanger, met twee hande weerskant en punt wat ondertoe wys, deur die erf. Die draadhanger begin pluk-pluk en draai dan kragtig. Hier op die grond maak oom Piet ʼn kruis en stap weer uit verskillende hoeke na die kruis toe. Die hanger se draaipunt bly op dieselfde plek en hy roep: “Vrou, kom kyk! Hier’s water, sterk water!” So begin die bouwerk aan die losieshuis se put.
ʼn Kring van vier voet word om die kruis gemeet. Die spasie moet groot genoeg wees om met die pik te kap en die los grond met die graaf te skep. Vyf vrywillige soldate kom help. Die gat word dieper en dieper en die mans maak beurte om met pik, graaf, emmer en ʼn tou om die middel in die gat te sak. Losgekapte leigrond en sand word in emmers opgehys. Na ongeveer ses dae en met die gat ongeveer twintig voet diep, sien hulle die water deursypel. Nou sal hulle moet wag om te sien hoe hoog die water styg. Dag twee styg die modderwater tot so twee voet. Die mans juig en tannie Bets gooi vir elkeen ʼn dubbel Sondaglikeur in hulle blikbekers. Die volgende dag pak hulle groot plaasklippe en gooi ʼn paar emmers grys onder in die gat om die modder te keer. Dan word agt houtwynvate in die put afgesak om netjies op mekaar te pas. Grond en sand word in die spasie rondom die vate gegooi en vasgetrap. Oom Piet bou ʼn netjiese ronde muur om die put met oorblywende plaasklippe met ʼn slinger aan die kant wat gedraai word om die emmer in die water te laat sak en op te trek. Dit lyk soos die getekende prentjies van ʼn put in die Kinderbybel. Tannie Bets is in haar noppies ‘and happy wife, happy life’.
Dan word die gerugte waar: die Tweede Wêreldoorlog het begin. Oom Piet en sy makkers word opgeroep na Noord-Afrika, waar hulle teen Rommel se Duitse magte sy aan sy met die Britse mag veg. Tannie Bets pak sy weermagklere vir die woestynhitte sorgvuldig en netjies in die weermagsak: staalhelmet, kakiekortbroeke, kakiebaadjie, bruin sokkies, blink gepoetsde weermagstewels. Oom Piet maak sy geweer vir oulaas skoon en vryf hout en kolf blink. Oom Ben van langsaan wat ʼn Ford het bied aan om tannie Bets stasie toe te vat. Sy waai vir oulaas terwyl die stoomlokomotief hartseer ‘poef-poef-poef’ om die draai verdwyn. Waar sy altyd met glinsteroë na die wit stasiegebou met sy Hugenote boustyl gekyk het, lyk en voel alles om en binne haar nou grys, net grys.
“Jy sal jou gat sien as jy nie jou kamer skoonmaak nie!” en wanneer sy die geskoktheid op die nuwe loseerder se gesig sien, het sy met haar tipiese klokkielaggie vertel: “Nee, nie die gat waaraan jy dink nie. Die gesegde kom uit doerie dae van die cowboys en kroeks. Die sjerrif van die dorpie het die kroek sy eie gat laat grawe waarin hy die ewigheid ingaan. Dan is die laaste gat wat hy sien mos sy eie gat!” en dan weer die laggie. Die ‘grappie’ het die nuwelinge op hulle gemak laat voel, maar ook gewaarsku. Vandat oom Piet oorlog toe is lag tannie Bets nie meer nie; sy vertel ook nie meer die gatstorie nie. Sy het oorverdowend stil geword.
Die oorlog hou aan en aan en aan. Nou en dan kom belangrike nuus na ʼn harde ‘peep-peep-peep’ oor die draadloos, maar tannie Bets luister nie meer nie. Dit is meestal nuus oor Jan Smuts en hoe die Natte hom besing oor sy wonderlike samewerking met Winston Churchill om Rommel die ‘woestynjakkals’, te verslaan. Hier in die losieshuis maak tannie Bets steeds lekker kos, maar die Sondagpoeding, koeksisters en lekker lag?
Die jare sleep verby: een jaar, twee jare, drie jare en op pad na jaar vier: “Die oorlog is verby. Duitsland is verslaan; die troepe kom huis toe!” Die loseerders spring juigend op en af en straatop en straataf hoor jy hoe die mense van blydskap skreeu. Almal behalwe tannie Bets. Sy staan van die tafel op, sit haar bord in die wasbak en sê: “Los alles netso. Gaan geniet julleself, ek sal môre skoonmaak” en stap dan uitdrukkingloos na haar kamer toe.
Die volgende dag reël tannie Bets dat ʼn iemand by waterwerke ʼn swart gietysterpomp op die waterput kom sit. “Die emmer raak swaar vir ons rûe; nou kan ons die water net pomp. Dis ʼn verassing vir die oom”, en sy bind die rooi lint wat sy van haar kerkhoed afgehaal het om die pomp. Hulle wag en wag, maar oom Piet kom nie uit nie. “Ons weet nie waar hy is nie”, sê een van sy kamerade. “Ons is seker hy was saam met ons op die trein, maar dit was ook maar ʼn deurmekaarspul soos die manne se vreugdevure gebrand het”. Dae word weke, dan maande en nog drie lang jare gaan verby. “Hy kom nie weer huis toe nie”, sê tannie Bets toe sy die ‘Te koop’ bord voor die huis inkap. Die ondersoeke van die polisie en weermag is afgehandel. Oom Piet is dood verklaar; tannie Bets sal ʼn staatspensioentjie kry. Sy wil by haar kinders in die stad gaan woon. Sy wil nie meer hier in die losieshuis wees nie. Die laaste loseerder trek die einde van die week uit. Die hoenders het sy vir oom Ben langsaan gegee. Vir jare gebruik sy nie meer die putwater nie; makliker om sommer groente en vleis by die Jood op die hoek te koop.
Die Cordiers stel baie belang in die losieshuis met die baie kamers, want hulle het tien kinders met ouderdomme wat wissel tussen snot- en tienerwees. Tannie Bets se laaste woorde: “Julle sal gelukkig hier wees, maar ʼn groot guns asseblief: moenie die waterput opbreek nie. Die oom het die gat met sy eie hande gegrawe en gebou”. Hier het die Cordiers vir seker maklik twintig jaar gebly, maar met eienaardige voorvalle. “Ma, dit klink of iemand in die nag tot voor ons beddens loop”; “die planke kraak as ons wil slaap, Pa. Hier’s iemand in die huis”; “ek is seker ek het gisternag ʼn soldaat in my kamer gesien”. Die stories het die dorp vol gelê en ‘Antie Bets se losieshuis’ het nou ‘Antie Bets se spookhuis’ geword. Toe die laaste kind uit die huis is, word daar weer ʼn bordjie ‘Te koop / For sale’ voor die rooi stoep ingekap.
Marsha en Peet is ʼn jong getroude paartjie wat met hulle erfgeld ʼn gastehuis wil begin. “Maar dit spook hier, Peet! Die mense sê ʼn soldaat loop hier rond!”, protesteer Marsha. Peet sê: “Ons glo tog nie in spoke nie; plankvloere kraak mos maar; dis die uitsetting van hitte en koue. Ag komaan, jy’t dit tog in Wetenskap geleer”. So kry die losieshuis sy nuwe intrekkers. “Hier is baie restourasiewerk om te doen. Die kontrakteur sê hy sal die put moet leegmaak om die skade te bereken voordat hulle ʼn elektriese pomp kan opsit. Dink net: ons eie water! Hoe mooi gaan die tuin nie voor en om hierdie Kaaps-Hollandse huis wees nie!”
Die plaasklippe om die put word afgekap en in die tuin gepak. ʼn Groot boormasjien word ingebring om die gat leeg te pomp. Dan die uitroep: “Stop! Hier is goed begrawe; lyk soos uitmekaar geskeurde kakieklere, ʼn sak, ʼn verweerde geweer; ʼn geroeste staal helmet, bene…”.
“Antie Bets se losieshuis”.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.