BESOEK te PERD
BESOEK te PERD
In ‘n bergdorpie êrens in die Alpe kom op ‘n Vrydag in somer ‘n vername man op ‘n perd aan, en almal kom uit hul huise en huisies om te kyk: Só ‘n mooi perd! En: Súlke mooi klere! En: Só ‘n mooi hoed! En: Súlke blink stewels! En: Só ‘n sterk man! En: Só ‘n mooi perd! Dit was die agtiende eeu, en die mense ver van die stede af het nie elke dag sulke weelde te sien gekry nie, derhalwe die opgewondenheid: En: Só ‘n vername heer!
⌘
En die vername heer klim af en bind sy perd voor die burgemeester se huis aan. Daar gaan hy in en bly die hele naweek as gas van die burgemeester.
As hy Maandag wil ry, soek hy sy perd; dis nêrens te vinde nie, nie in die stal en nie in die kamp agter die huis, nêrens nie. „Ja, maar waar’s my perd? Ek soek my perd! Ek wil nou ry!” Die kuiergas word onrustig en sy stem word ‘n bietjie bars.
„Maar jy het geen perd gehad nie. Jy het te voet gekom.”
„Nee, dis onwaar! Ek was eenduidig op my perd se rug toe ek hier aankom!”
„Ek sweer jy was te voet en glad nie te perd nie!”
„En ek sweer dat ek te perd hier aangekom het! Al die mense op die dorp het my gesien!”
„Dan vra ons die mense, nè?”
„Laat hulle kom; hulle sal dit beaam!”
Toe laat die burgemeester alle burgers roep om te getuig of hierdie vername heer te perd gekom het, soos hy beweer, of nie. Die burgemeester het dit duidelik gemaak dat hy meen, die man was te voet. Ene na die ander, man vrou en kind, getuig hulle dat die man Vrydag te voet aangekom het.
„Kan julle dit sweer?”
„Ons sweer dat hierdie man te voet aangekom het.”
Die vername man wat nou as skurk daarstaan, neem sy stok in die hand en onderwyl hy vloek en skimp, slaan hy die stofpad in, berg-af, huistoe, terwyl die burgers hom uitlag.
⌘
Die vername man is nog nie tien minute op pad nie en die burgemeester kom hier tussen die bosse aan die kant van die pad uit. „Hier’s jou perd, vriend!”
Sy naweekgas vloek hom eers deeglik uit, kom stadig tot bedaring en staar hom aan. „Sê maar: Watse dom spelery was dit? Watse onmanierlike behandeling van ‘n gas? En wat vir ‘n manier om ‘n ou vriend te behandel wat die berg uitgeklim het om jou te besoek? Gee nou antwoord, man!”
„Ek wou jou net die burgers van my dorpie voorstel,” sê die burgemeester.
⌘
30e.Julie2017___________…ööÔ⌘Ôöö…_____________________tje
[Volksgoed uit Middel-Europa. (© Kopiereg nie moontlik nie.) Daarna kom natuurlik die bespreking: „Kyk hoe presies dit op ons moderne tyd pas.” „Hoeveel mense glo iets wat iemand van ‘n owerheid, van ‘n universiteit, van ‘n vooraanstaande familie, ‘n koerant- of ander mediumberig of die een-of-ander belangrike segsman gesê het?” „Hoeveel mense glo iets wat die absolute teendeel is van wat voor hulle oë staan?” „Hoeveel mense laat hulle aan die neus lei?”]
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.