Jongste aktiwiteit:

Oumaland(Met so skeutjie fantasie) 409 Woorde (Goud)

Daar is ‘n plek…’n land, waar al die ongebore kindertjies woon. In hierdie land is daar net laggies en liefde, dimpels en rosige wangetjies. Hier heers harmonie, vrede en bowenal vreugde en veiligheid. Hierdie plek se naam is Oumaland.

Wanneer ‘n baba uit Oumaland geroep word om in die lewe gebore te word, begin daardie baba se ouma drome droom en planne maak. Sy deel gevraagde en ongevraagde raad uit aan die aanstaande ouers en begin haar huis summier baba-vriendelik inrig vir die dag wat haar kleinkind kan rondkruip en speel.

Op die dag van die geboorte,trek sy vir haar baie mooi aan en gaan wag geduldig in die kraamsaal se wagkamer vir die nuus dat haar kleinkind die lewenslig aanskou het. Dan haas sy haar nader om kennis te maak met háár bondeltjie uit Oumaland.

Ek is ook ‘n ouma en ek onthou nog hoe heerlik dit was om met elke kuier te kon sien hoe die kleine baba-bondeltjies met rasse skrede groei.

Ek het reikhalsend daarna uitgesien om te beleef hoe my kleinkinders hardlopend en kaalvoet so “Ouma! Ouma!” by die huis instorm elke keer wanneer hulle kom kuier, mekaar in die rede val om te vertel van iets wat by die huis, die kerk of die skool gebeur het. Na hoe ek oor en oor moet kyk hoe vinnig hulle om die boom op die grasperk hardloop, esse met hulle fietse gooi en net daarna blitsvinnig eiers uit die lêhokke gaan haal. Ek het uitgesien en dit gebeur nét so… ek leef my beste ouma-lewe voluit.

Nou begin ek, sonder om die tyd om te wens, uitsien daarna om my kleinseuns as tieners te ervaar. Om te sien hoe hulle met hulle tienerseunskind-lywe uit die motor rank en my kom groet. Nie groet met ‘n stram kopknik of verveelde skuinsdruk of afgetrokke glimlag omdat dit cool is nie. Nee…ek weet hulle sal my steeds spontaan, met wydoop arms, warm seunskinddrukke en ‘n innige warm “Hallo Ouma” groet. Wanneer hulle huis toe gaan, sal dit steeds wees met breë glimlagte deur die motorruit en ‘n “Bye Ouma, lief vir Ouma!”  terwyl ons vir mekaar soentjies blaas soos hulle deur die moorhek verdwyn.

Ek weet dit sal so wees, want hulle word goed en mooi en onbedorwe grootgemaak. En ek is so bly dat hulle uit Oumaland na die regte lewe, na my toe gekom het.

© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed