Jongste aktiwiteit:

Paardebloem-Afrikaans (Goud) 373 Woorde

Ek vergelyk jou wrintie-waar ons pragtaal, Afrikaans, met die perdeblom…paardebloem…sydissel.

In die gange van mooi, lê skoonheid in hoe elke persoon daarna kyk. Vir mý lê die mooi, die prag, die uniekheid van Afrikaans, in die rou eerlikheid van hierdie blommetjie. Verder en nog meer lê dit ook in die geaardheid daarvan. Baie van die eienskappe van die perdeblom, vind ek ook in Afrikaans.

Ons moeder, Afrikaans dans haar disseldons-dans. Met polsende woordritme voer sy ons mee. Sy is vegter wat nimmer bly lê, haar lippe spel beloofde land waar hul smak van die melk-en-heuningwoorde  wat geel oor die woordvelde hang.

Ek blaas haar saad en wens ‘n baldadige wens. Die klein klitsies gaan soek my wens-drome tussen betonkrake en in onvrugbare grond. Hulle vrees geen onbewerkte ruimtes nie, hule benodig geen teer, liefdevolle omgee-behandeling nie. Die woordsaad ry die taalwind bloots en maak my wense waar, net dáár waar hulle land…en wanneer ek weer sien, verrys daar ‘n vryevers, prosa, ‘n neologisme.

Net soos met die perdeblom kan jy maar trap met jou hak, oneerbiedig bydam en uitpluk…sy staan altyd weer op. Sy het haar bewys as ikoon:

Sy is die moeder van deursetting…

Sy is die suster van andersheid…

Sy is die broer van rebellie…

Die perdeblom word vergestalt in die hemelliggame…die blomblare, goudgeel soos die son, die disseldons, wit soos die maan en die sade is soos die sterre.

My hart gaan uit na my Afrikaans se warm omgee-woorde, liefdesverklarings, haar woorde van wysheid wat in harte gaan lê, so goudgeel en warm soos die son. Ek voel die gemeensaamheid tussen mense vir wie die unieke klank van Afrikaans so glinstersag skyn soos die silwer maan. So lewend soos die flonkerende sterre, is die spitsvondigheid en kwinkslae, die dialek en woordeskat wat lééf in Afrikaans.

Afrikaans floreer op die warm geneentheid en die trou van haar sprekers. Sy blom met ‘n oop hart en gemoed in die warm strale van hulle liefde.

Soms,net soms, blik sy terluiks terug op haar tweespoor kronkelpad en lag vreugdevol oor hoe ver sy gekom het.

En in die ope velde langs die einste kronkelpad vou die perdeblom…die paardebloem…die sydissel saans styf toe om sag in die nag-ure te rus.

© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed