Jongste aktiwiteit:

DIE TAAL WAT KAALVOET PRAAT -’n Verhaal oor die woorde wat nie geskryf kan word nie –

Hoe lees die ou Boesmangesegde nou weer? “Wie kaalvoet loop, hoor die grond se gebed. Die stilte hou die woorde wat geen mens kan skryf nie en ’n kaalvoet trap spore wat die wind nie kan uitvee nie … ”

Binne die Boesman-denke is die taal wat kaalvoet praat nie vasgevang in ink op papier nie, maar leef dit in die asem van die sand en die sterre. Dit is ’n taal van spore wat verdwyn en tog blywend is. Dit is ’n taal van stories wat rondom die vuur saans en deur die wind oor die duine gedra word en deur die duineveld gefluister word. Dit is die stem van hul voorouers wat in stilte voortleef en die wysheid van die grond wat mens leer om te luister. Om kaalvoet te loop is om weer deel te word van die aarde se polsslag en om te onthou dat ons nie die eienaars van die pad is nie, maar reisigers wat saam met die aarde se geheue beweeg … so sê die Boesmans van die Kalahari.

Vanuit ’n akademiese gesigshoek, is die taal wat kaalvoet praat ’n ontsluiting van ’n epistemologie van verbondenheid waarin mens, natuur en voorouerlike geheue verweef is. Dit herinner ons daaraan dat taal nie net ’n stelsel van tekens is nie, maar ’n lewende verhouding met grond en stilte. Hierdie taal roep ons op tot ’n ander manier van hoor, wees en leef. Dit herinner ons daaraan dat ons self spore is binne die groter weefsel van tyd.”

In die liries-poëtiese woorde van Buks Appelblaar by sy vuurtjie: “Pieter, my groot vriend, die taal wat hom kaalvoet praat, hy bly nie vas ini mond nie, hy loop saam met die wind oori duine. Dit fluister in die sterre, klop in die grond, en sing in die stilte van jouse eie hart. As jy jouse skoene hom uittrek en luister, jy sal hoor hom hoe die aarde self die laaste woord praat; stadig, diep en sonder einde.”

Die sand van die Kalahari was daardie aand rooi soos kole, en die sterre het begin oopgaan soos wit skitterende blomme in die donker nag-hemel. Pieter het die vuurtjie aangesteek, en Buks Appelblaar het sy pyp gestop met droë blare en stadig daaraan begin trek.
“Pieter, my groot vriend,” het Buks gesê, “jy vra altyd oor die taal vani mense, die taal vani diere, en die taal vani wind. Vanaand, my groot vriend, ek sal jou vertel vani taal wat nie geskryf kan word nie. Es hom nie taal vani letters of pampier nie. Es die taal wat die grond hom self praat.”

Pieter, kaalvoet daardie aand, het nader geskuif en sy knieë teen sy bors opgetrek terwyl hy aandagtig na Buks gesit en luister het.

“Lank … lank … sy tyd ,” het Buks begin, “toe die mense het hom nog kaalvoet galoop oori dyne soner hom spies of die pyl eni boog by homse hande, daar was die stem binnekant by alles gawees. Soos die eland hy het geloop, hy het hom die lied agtergelos met syse spore.

Die wind hy het hom die stories oori die duine gewaai. Onse mense het hom nie die boeke gehad nie. Ons het hom onse ore, onse oge en onse vel gehad. Die taal was oral. Jy kon hom hoor sos die nag se uil roep, jy kon hom sien sos die sterre oor jouse kop dans, jy kon hom voel sos die sand hom koud word onder by jouse voete.”

Buks se stem het sagter geraak: “Toe kom hom die mense met die penne eni pampier. Hulle wou hom die taal vani grond by die pampier vasmaak. Hulle wou dit bêre soos water ini volestrys syse eier en die kalabas.

“Pieter, my groot vriend,” het Buks ernstig voortgegaan terwyl hy deurgaans met sy hande op sy bors gekap het, “maar sê jy nou vanaand vir my, hoe jy sit hom die smaak vani wind in by die pampier vani boek?” Hoe skryf jy die ruik vani reën wat die sand se dors volmaak binnekant vani pampier vani boek?”

Pieter het Buks Appelblaar verleë aangekyk, terwyl daar ’n ongemaklike stilte tussen hulle was wat vir Pieter soos ’n ewigheid gevoel het.

“Jy kan nie, my groot vriend, want daai taal leef,” her Buks Appelblaar se stem soos ’n pyl uit sy boog deur die ongemaklike stilte gesny. D-a-a-r-i deng wat hom die lewe hou ,hy wili vasgemaak word met die pen by die pampier vani boek nie.”

Pieter het in die vlamme gekyk. “Buks,” wou hy weet, “hoe leer ’n mens dan daardie taal?”

Buks het ingenome geglimlag terwyl die vlamme van die vuur wat in die spieëls van sy oë weerkaats, lyk het asof hulle besig was om die dromedans uit te voer.

“Jy kan die taal wat hom kaalvoet praat nie leer sos by die pampier vani boek nie nie. Jy moet hom daari taal luister saamet jouse hart. Sos jy het galoop ini die sand vani dyne, jy moet hom luister en hoor hoe syse lyf hy praat. Sos jy staan by die dooie kameeldoring en jy voel hom syse hout, hoor hoe hy fluister van die droogtes wat gakom en gagaan het. Sos jy hou jouse hande oor by die vuur, jy sal hom hoor hoe die vlamme die taal van jouse voorouers terugpraat. Daardie taal is nie vir die oge wat hom die pen eni pampier soek nie. Daari taal es hom vir die ore wat hom die stilte hoor.”

Die nag het stil geword. Net die geknetter van die vuur het gepraat. Toe het Buks bygevoeg:
“Onse Boese’mense sê: Naoea, Hy het hom Syse asem in alles gablaas, maar Hy het Syse taal binnekant by die stiltes weggesteek. As jy die stilte kan hoor, Pieter, my groot vriend, dan jy sal hom verstaan die taal wat hom nie geskryf kan word nie.”

Pieter het sy oë toegemaak. Die sterre van die melkweg het geskitter soos ’n bruisende rivier van blinkende diamantjies.
Vir ’n oomblik, net ’n oomblik in daardie stilte, het hy gevoel asof hy ’n woord verstaan het, ’n woord wat nie op papier bestaan nie, maar net kaalvoet praat, in die hart van die Kalahari …
———————————————-oooOOOooo———————————————
©Pieter Mostert

 

 

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed