“DIE AARDE HET GELUISTER – DIE MAANVROU HET HAAR TRANE GEGEE.”
In die Kalahari, waar die wind stories oor die duine fluister en die sterre soos skitterende vuurvliegies aan die pikswart fluweel-karos van die naghemel hang, sit Pieter langs sy ou Boesmanvriend, Buks Appelblaar.
Buks se gesig blink soos gelooide leer in die maanlig, en die vlamme van die vuur dans in sy oë. “Hoor jy hom die wind, myse vriend?” vra hy vir Pieter, wat hom dom aankyk.
“Die wind hy praat vanaand met syse asem vani stof en die ruik vani warm sand by jouse neus. By onse Boese’mense hieri maand, jy roep hom October by jouse taal, is hom die maand wat onse mense stil wag om te gaan hom jag by die duineveld, ons wag hom die reën om te kom.” Dan staan Buks op en sê vir Pieter: “Nag my groot vriend, mag Naoea jou veilig toemaak binnekant by Syse karos vanaand.”
Pieter het nog lank by Buks se vuurtjie gesit terwyl hy nadink oor Buks se woorde. Toe onthou hy die ou Boesmangesegde wat lui: “Oktober is die maand wat die diere laat luister, die wind laat wag en die jagter se hart stadig laat klop, want dit is die tyd wanneer die Kalahari sy asem ophou om te hoor of die reën kom.”
Die volgende oggend het die son rooi-oog van die nag se slaap moeisaam oor die rooi duine begin klim toe ’n jong Boesmanseun, Nani, sy pyl en boog optel. Pieter het die petalje sit en dophou terwyl hy wonder waar Buks Appelblaar is, want hy is gewoonlik vroeg by die vuur.
Nani se ouma, Kara, sit buite haar gras-hut en krap stadig met ’n stok in die sand. Net sy sal daardie patrone wat sy met die stok uitkrap op die sand verstaan, dink Pieter.
“Moenie haastig wees nie,” sê sy vir Nani, sonder om op te kyk.
“Die wind slaap nog. Hy sal jou voete verraai.”
Nani sug diep. Hy weet sy praat nie van die wind alleen nie, maar van Oktober self. Oktober is mos die maand waarin alles op die rand van verandering staan.
“Al die watergate het reeds opgedroog, en die bome hou hul skaduwee styf vas,” sê Ouma Kara. “Dit is nou daardie tyd van die jaar wanneer die springbokke kies om in die ooptes op die duineveld te wei en wanneer die kameelperde se oë verlangend na die dooie bome staar.”
Pieter krap in die argiewe van sy geheue rond. Dan onthou hy dat Oktobermaand vir die Boesmans in die Kalahari die maand is van wag, wag vir reën, wag vir beweging, wag vir tekens.
Later die dag sit Nani saam met Buks Appelblaar en die ouer manne onder ’n kameeldoringboom. Hulle praat van jare toe die reën nog gekom het soos ’n vriend wat sy pad ken. Die oudste, Aob, trek aan sy pyp en sê:
“Ek onthou toe Oktober die reuk van belofte gehad het. Nou ruik dit na stof en vergete name.”
Die jonges luister. Hulle ken nie daardie wêreld waarvan Oupa Aob praat nie, maar hulle hoor die verlange in sy stem.
Oktober bring vir die Boesmans van die Kalahari ’n mengsel van hoop en geduld. Dit is die maand van skaduwee en vuur, van stilte en verwagting. Elke oggend kyk hulle op na die lug om te sien of die wolke begin vorm aanneem, soos stories wat lank gelede vertel was, wat stadig onthou word.
Teen sononder loop Nani saam met sy suster, Uma, na die watergat. Hulle dra twee leë volstruiseiers en ’n kalbas met laaste water van die vorige dag.
Die grond onder hulle voete is hard en gebars. Wonder bo wonder kruip daar uit een van daardie kraters ’n klein, geel blommetjie uit. Uma se gesiggie helder op terwyl sy ingenome glimlag. “Kyk daar Nani,” sê sy. “Die aarde glimlag, al is sy dors.”
Ja! Uma, as Ouma Kara hier was om dit te sien, sou sysê: “As die blom in Oktober glimlag, het die wolke haar naam gehoor,” sê Nani
Nani en Uma sit in stilte by die droë watergat. Hulle sit en kyk hoe ’n trop blouwildebeeste stadig met hul koppe omlaag voor hulle verbytrek.
“Die diere voel ook die verandering. Hulle beweeg nader aan die belofte van die somer. Ek wens die reën kon gou kom,” sê Uma.
Nani glimlag ondeund. “As jy te hard wens, sal die wolke jou nie hoor nie, Uma. Hulle hou van mense soos ek, wat saggies praat,” sê hy spottend. Uma rol haar oë, maar sy weet Nani herhaal maar net weer een van Ouma Kara se wyse gesegdes.
Daardie nag, toe die kampvuur se kole rooi gloei, vertel Ouma Kara die kinders die storie van die Maanvrou.
“In Oktober begin die Maanvrou om weer haar oë oop te maak. Sy kyk na die Kalahari en vra of die mense nog onthou om te luister,” sê Ouma Kara.
“Luister na wat?” vra Uma.
“Na die sand, na die diere, na jouself, want die reën kom net na die een wat kan hoor,” sê Ouma Kara.
Die nag is donker. Pieter sit langs Buks Appelblaar. Die vuur kletter vrolik, en vlamme dans soos babbelende Boesmantonge. Bokant hulle lê die Melkweg wyd uitgestrek. Die melkweg is volgens die Boesmans in die Kalahari, die ou pad van die jagters van lank gelede.
Teen middernag word Nani wakker van ’n koue wind. Hy loop uit en kyk na die horison. In die verte flikker ’n lig. Weerlig, die eerste teken van die seisoen wat draai.
“Oktober jaag nie met geraas nie, hy beweeg soos ’n slang oor die sand,” eggo Ouma Kara se woorde deur die kraters van Nani se brein.
Groot was Nani se vreugde toe hy die reën oor die vlaktes sien aankom. Die eerste weerligflits lyk soos ’n wit been teen die donker hemel. ’n Paar sekondes later rol die donder soos ’n ou drom, diep en ver.
Nani voel hoe sy hart saamklop met die aarde. Hy hardloop terug kamp toe met ’n gejubel roep hy: “Kom kyk, die reën! die reën! die reën kom!”
Almal wat hom hoor skree het van opgewondenheid, het uitgehardloop in die reën en begin sing en dans en hande geklap, met gesigte na die lug. Die eerste druppels val skaars waarneembaar, maar vir elkeen voel dit soos ’n seën. Die kinders lag, die oues glimlag, en Ouma Kara fluister met trane van dankbaarheid in haar oë: “Die aarde het geluister. Die Maanvrou het haar trane gegee.”
“Jy sien Pieter, my groot vriend,” sê Buks Appelblaar met sy hand op Pieter se skouer en ’n glimlag so wyd soos die uitgestrekte duineveld: “October syse maand, hy het homse beloofte gegee. By onse Boese’mese vani Kalahari hieri maand isi tyd wanneer alles hier by onse Kalahariland bly hom binnekant by die asem van eleke dag, van voor die storms hy kom tot by die stilte voor die drom syse dans.”
Buks bly ’n oomblik stil terwyl hy opkyk na die reën wat stadig begin val. Met sy arms wyd uitgestrek sê hy:
“Soos jy wag hom binnekant by October met jouse ore oop en jouse hart stil, sali Kalahari weer samet jou praat. Toe onse Kalahariland was hom gawees die Gees vani die Wind hy het gasê: onse Boese’mense moet hom bly stil, want die maand van luister het gakom. Die diere sal rus, die mense sal wag, en uit die stilte sal lewe weer opkom, want October isi maand vani asem tussen by die droogte eni reën, van die tyd waarin die sand self hy bid.”
“Pieter, my groot vriend, sos Ouma Kara, sy het gasê: “Die aarde het geluister. Die Maanvrou het haar trane gegee.”
———————————-ooo000ooo—————————–
©Pieter Mostert
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Oktober 2025 – OOP projek