
‘n Boer se hande vertel ‘n storie. (Brons)
(Woordtelling: 347 woorde)
“Pappa! Kom gou!” gil Annemie benoud.
“Wat is fout?” vra Henk bekommerd.
“Lukas het seer gekry.” Snikkend beduie sy na die stoor.
Henk versnel sy pas, storm die stoor binne. “Lukas!?”
“Hier Pappa!” Rou snikke ontsnap Lukas se keel.
Soekend gaan Henk se oë oor die binnekant van die swak verligte stoor en steek vas by die werkstafel. Hy beweeg vinnig tot by Lukas. Geskok sien hy bloed uitdrup tussen Lukas se hande. “Wat het gebeur?” Besorgd neem hy Lukas se hande in syne en draai dit om beter te kan kyk.
“Pappa.” Lukas snuif al harder. Twee spore duidelik op sy gesiggie. “Ek wou … ek wou … net ‘n skroef kry om my trekker reg te maak …” nog ‘n snik ruk deur sy lyf. “Die … die glasbottel met skroewe in het uit my hand gegly. Ek wou keer dat dit val en toe … “
Henk gewaar die glasskerwe op die vloer. “Ou Bulla, ek sal jou moet neem vir steke, hierdie sny is baie diep.”
Lukas bars weer in trane uit.
“Als sal reg wees,” troos Henk. Kom, gaan klim in die bakkie, dan vat ek jou gou dokter toe.”
* * *
Henk hou stil by die hek.
“Pappa, kom!” Lukas leun vorentoe, maak die bakkie se deur oop. Wip uit die bakkie en hardloop die huis in. “Mamma! Kyk!” Lukas hou trots sy verbinde hand in die lug.
“En die Ou Bulla?” vra Lisa besorgd.
“’n Klein ongelukkie tussen my hand en ‘n glasbottel.” Lukas glimlag breed. “Mamma moenie bekommerd wees nie, oom Dokter sê ek gaan net ‘n klein merkie oorhou. Hy sê ons boere het tawwe hande.”
Henk stap nader. Glimlaggend vryf hy Lukas se hare deurmekaar en kniel langs hom. “Kom ek wys jou iets.” Henk hou sy ploegskaar-hande uit na Lukas. “Sien jy hoe vol littekens is my hande?” Hy draai sy linkerhand en wys na ‘n lang litteken wat strek oor sy hand en duim. “Sien jy hierdie ene? Ek wou ‘n trekker se enjin regmaak. Die enjinkap het ongelukkig geval en my hand oopgesny. ‘n Boer se hande vertel altyd ‘n storie.”
© Taai Bonthuys, 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Oktober 2025 – OOP projek