Gebreekte skakels [Silwer]
Bekend is die spreekwoord: ‘n Ketting is net so sterk soos sy swakste skakel. As ek praat van ‘n ketting van die aarde, dan bedoel ek ekologiese-ketting. Met die skepping van lewe op die aarde, het God, na my mening, ’n volmaakte ekologiese-ketting vir die voortgesette versorging en instandhouding van die aarde uitgewerk. Daarna het Hy die mens geskape uit die stof van die aarde en die mens aangestel as Sy rentmeester op aarde.
God se opdrag aan die mens was, en is nogsteeds, om die aarde te bewerk en te bewaak met behulp van die ekologiese ketting wat Hy vir die volhoubaarheid van die aarde uitgewerk het, om as riglyn te dien wat die mens in sy bestuur van die aarde moet volg. Ek moet egter toegee dat agnostici of ateïste hul eie siening en geloofsoortuigings oor die aarde en sy welstand hou. Gevolglik leef hulle volgens hul eie oortuigings om harmonie met die aarde te kan bereik. Maar dit nou daargelaat. Ek kyk na die problematiek waarmee ons te kampe het, vanuit ’n christelike gesigshoek.
Al wat die mens moes doen was om híérdie deur God-uitgewerkte ekologiese ketting, (ekologiese sisteem), vir die aarde te bestudeer en instand te hou. Nou kan jy vir jouself oordeel of die mens by hierdie opdrag van God hou, en of hy reeds van hierdie skakels gebreek het en steeds voortgaan om hulle te vernietig? Waaruit bestaan hierdie Godgegewe skakels in die ekologiese ketting van die aarde? Laat ek verduidelik.
Alle plante en diere wat in ’n pesifieke habitat, bekend as ’n bioom, leef en dus ’n bepaalde biotoop op die aarde beset, verteenwoordig ’n belangrike skakel in die ekologiese ketting van die aarde. Die mens is veronderstel om toe te sien dat hierdie skakels, waarbinne die omgewingstoestande van sodanige aard is dat dit ’n natuurlike leefplek (habitat) bied vir sekere spesies, soos onder andere voëls, te versorg en in stand te hou, om sodoende die voortbestaan van die aarde te verseker. Nou is dit so dat die lewensgemeenskap, wat die mens insluit, van ’n bepaalde biotoop, voortdurend eise vir die behoud van sy skakel in die oorlewingsketing stel.
Elke spesie op die aarde het ’n spesifieke funksie te verrig in die ekologiese ketting van die aarde. Sy tolleransievermoë bepaal die behoud van sy skakel, waarin die mens natuurlik as rentmeester, ’n kardinale rol vervul. Of moet ek eerder sê nie vervul?
Wat is die sleutel tot versterking van hierdie ketting? Net een woord naamlik harmonie. Versteur die harmonie in een van die skakels en dit het ’n nadelige invloed op al die ander skakels in die ketting en dus die voortbestaan van die aarde. Die mens is veronderstel om te sorg dat daar nie uitermate spanning op ’n spesifieke skakel in die ketting geplaas word nie, sodat dit nie breek en algehele uitwissing in die gesig staar nie.
Die skrikwekkende wyse waarop die mensdom aanwas, asook die tegnokratiese industrialisasie tesame met die kommerwekkende toename in armoede, voedselvoorraad en die vernietiging van natuurlike hulpbronne, het ongelukkig reeds verskeie skakels in voormelde ketting gebreek, terwyl van die ander skakels onder groot spanning verkeer.
Die skakel wat die meeste onder geweldige spanning verkeer is besoedeling van die aarde. Voorts is daar ook geweldige spanning op die skakels van gronderosie, vergiftiging van die aardbodem en daarmee saam die uitwissing van plante en diere.
Ek persoonlik, het ’n liefde en deernis vir die aarde en in besonder die ekologie, asook ’n liefde vir voëls. Dus sluit ek hierdie meningstuk af met die volgende gedig oor Rüppelse Aasoël wie se skakel gebreek het en hy uitgesterf het:
Gebreekte skakel
Ek soek na jou swewend
aan die koepel van die hemelblou
maar ek sien jou nie meer daarbo nie
jy wat so volmaak geskep was
met jou oranjegeel snawel swart
washuid en deurdringende bleekgeel oë
ek mis jou, jy met jou lang kaal nek wat donserig
grysgroen kol-kol gevlek ligpers verander
wanneer jy opgewonde raak
ek sien nie meer jou geskubte veremantel
met spierwit rande wat blink soos diamante
in die spieëls van die son
nou kan ek jou nog net op ’n foto bewonder
lof toeswaai in my poësieboek
of jou op die Internet gaan soek
jý; eens pragtige Rüppellse Aasvoël
wie het jou skakel gebreek uit die ketting
van die Skepper se ekologiese plan?
——-oo00oo——-
Ek nooi jou vandag uit, liewe leser, om met nuwe oë na die aarde te kyk en te sorg dat jou bestuur van God se ekologiese ketting in lyn is met die opdrag aan jou as rentmeester, bewerk en bewaak … voorkom dat die God se ekologiese ketting breek.
—————————-ooo0000OOO0000000—————————–
©Pieter Mostert [Aantal woorde = 772]
2 Kommentare
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir April 2025 – AARDE projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
HENN
Baie mooi en iets om oor na te dink.