Jongste aktiwiteit:

Die berge swyg Goud


DIE BERGE SWYG

Heleen vee die nattigheid van haar wang af. Herman moet tog net nie sien sy het gehuil nie. Sy druk haar hande in die skottel. Haar vingerpunte is rooi en teer. Ritmies laat gly sy die borsel oor die sementvloer. Spatsels rooi verklap vroegoggend geheime wat saam met die seepwater in die blombedding beland. Sy sug toe sy steunend haarself teen die reling stut. Wanneer gaan sy mansgenoeg wees om ‘n einde aan hierdie hoofstuk te maak?

 

Herman klap die agterdeur agter hom toe. Hy vee sy vinger oor die kombuiskas voordat hy sy sleutels oor die tafel na Heleen gooi.

“Waar is my koffie? Die verdomde Janus was seker weer heeldag hier. Die stof lê dik op die kaste. Jy weet ek soek daai lieplapper broer van jou nie naby die huis nie. Wat het hy nou weer kom soek? Dwelmgeld? Drank?”

Heleen skuif agter die kombuistafel in. Dit vorm ‘n skans tussen haar en Herman. Sy stoot die beker vorentoe.

“Hier was niemand nie Herman. Ek sal nou die kaste afstof. Die wind waai sterk die tyd van die jaar. Jy weet …”

Warm koffie spat oor Heleen se skouer. Bekerskerwe kletter oor die vloer. ‘n Dun straaltjie bloed kruip teen haar arm af. Herman pen die tafel teen haar vas.

“Ek het nie tyd vir hierdie nonsens nie Heleen. Sam sê sy motor was heeldag bo teen die teerpad geparkeer. Jy vergeet ek het hom opdrag gegee om jou dop te hou. Dink jy regtig hy sal vir my lieg? Wat het hy hier gesoek?”

Heleen krimp ineen.

“Sam verbeel homself. Pleks dat hy hom by die boerdery bepaal soos dit by ‘n voorman hoort.”

Haar rug is nou teen die muur. Die tafel kerf deur die dun material van haar verslete voorskoot. Wat het Janus gesoek? Sy het nie eens geweet hy is hier nie. As Janus haar so moet sien! Herman gee die tafel ‘n harde stamp voor hy omdraai en vloekend die kombuis uitstap. Heleen snak na haar asem. Vannaand sal Herman weer haar stukkende liggaam opeis. Straf vir stof op die kaste. Straf vir Janus wat, volgens hom, heeldag hier by haar lê. Rou snikke skeur onhoorbaar deur haar liggaam.

Die son kruip al oor die doringbome se toppe toe Heleen uiteindelik die laaste koffievlekke sien verdwyn. Sy wip toe Herman reg agter haar praat.

“Ek is jammer oor gister Heleen. Ek het dit nie bedoel nie. Jy weet jy moet my nie kwaad maak nie.”

Herman trek haar teen hom vas. Heleen trek stywerug maar sy weet ook om eerder nie sy humeur te laat opvlam nie. Sy leun teësinnig teen sy skouer aan.

“Ek het ‘n verrassing vir jou.”

Hy druk ‘n koevert in haar hand. Die voubiljet lê koud in haar palms. Black diamond – Taos ski valley. Donkergroen denne met spierwit toppe. Haar oë rek. Haar grootste droom. Sy wou nog altyd daar gaan ski. Hoekom voel dit dan so verkeerd? Sy gooi haar arms om Herman se nek. Hierdie keer is die drukkie opreg.

“Jy moet pak. Ons vlieg oor vier dae. O ja, Sam gaan saam. Hy ken die berge en die beste ski roetes, en ek skuld hom ‘n vakansie. Hy hou ten minste die plaas aan die gang.”

Janus lees weer die boodskap. Vier dae. Dit gee hom genoeg tyd om sy planne agtermekaar te kry. Die boodskap het hom ontkant gevang. Gelukkig werk sy brein altyd in vyfde rat. Die oord is afgesonder. Die naam nie verniet Taos, die vier letter woord vir steilte, nie. Die berg is nie vir bangat vroueslaners soos Herman nie. Veral nie hierdie tyd van die jaar nie. Die sneeu is besig om te smelt en jy sal jou storie moet ken om jou balans te hou.

 

Die uitsig vanaf die klein kajuitvenster is asemrowend. Olyfgroen afgewissel met okerbruin klowe en donker onheilspellende dieptes. Spitse wat hier en daar kwistig wit gepoeier is. Die landskap sleep onder hulle verby. Die lughawe op Albuquergue is redelik stil. Die ski seisoen staan einde se kant toe en meeste besoekers is oppad huis toe. Die klein elektriese motor staan reeds gereed toe hulle die terminaal verlaat. Taos het oral goedkoop herlaai stasies en daarom is hierdie huurmotors uiters gewild. Heleen verkyk haar aan die spatsels wit en bruin landskap waardeur hulle beweeg. Die berge toring hoog bo hulle uit en hier en daar kan jy ‘n spikkel teen ‘n hang sien afbeweeg. Die pad kronkel teen die berg op. Uiteindelik bereik hulle die oord. Die kleurryke blomkassies bring ‘n welkomende blerts kleur aan die somber wit landskap. Hulle tasse word op ‘n trollie gelaai. Die lakei skerts ligtelik toe hy sien dat hulle by die ‘Don’t Panic’ bordjie stilstaan maar vermaan hulle ook om sekere pieke te vermy. Die sneeu is besig om te smelt en stortings kom nou meer dikwels in die gebiede voor. ‘n Rilling beweeg liggies teen Heleen se rug af.

 

“Komaan Heleen, ons kan nie langer wag nie. Die son trek water en ons wil voor middagete bo op Kachina peak wees.”

“Ek sukkel met die verdekselse riem. Die dik jas maak dit moeilik om dit deegliks vas te maak Herman.”

Herman laat val sy rugsak vererg op die vloer langs hom. Hy buk vooroor en trek die veter om Heleen se stewel vas. Dan stoot hy haar vorentoe.

“Sam wag vir ons. Dis ‘n stywe klim tot bo. Ons gaan met Kabel 4 halfpad op teen die berg. Die res van die roete gaan ons per voet tot bo op Kachina. Sam sê die ski roete is een van die beste en hoogstes in Tao.”

 

Die kabelkar skud en gly dan vorentoe. Heleen lig haar voete. Sy is vasgepen tussen Sam en Herman. Hulle lyk soos marsmanne met hulle dik jaste en bonkige broeke. Gelukkig hoef hulle nie die ski toerusting saam te sleep nie. Dit huur hulle bo by die kiosk. Die kabel neem hulle tot by Lift Shack. Vandaar is dit ‘n kort staproete tot by die Kachina Peak hyser. Dan gaan dit sukkel. Die ski roete is baie styl. Hulle het dit jare laas regtig op die sneeu gewaag. Afriski in Lesotho kan nie juis met Taos vergelyk word nie. Die veter aan haar stewel bly foeter. Sy sê liewer niks. Sy sal een van die ski instrukteurs vra om haar te help. Gelukkig vereis die roete dat hulle in gelid moet ski en nie in ‘n groep nie. Sy sal laaste volg. Sy sien hoe Herman haar ‘n vuil kyk gee voor hy die ski ysters met mening in die sneeu druk, sy knieë buig en vorentoe gly. Dan verdwyn hy tussen die digte bome. Sam volg op sy hakke.

Die sneeu skiet op toe Sam sy lemme skuins draai. Hy kom teenaan Herman tot stillstand.

“Help nie jy wag vir Heleen nie. Haar stewels gee moeilikheid. Sy is weer met die kabel af. Ons sal in elk geval ‘n ander roete moet inslaan tot by Phoenix. Ek het Heleen gevra om daar vir ons te wag. Die weer het gedraai. Ons moet gou speel. Volg my.”

Herman trek sy sneeumasker af om te antwoord. Dan vloek hy saggies. Sam is alreeds aan die beweeg. Hy sal moet spring om by te bly. Hy ken nie hierdie pas nie. Hulle beweeg nou dieper tussen die bome in. Hy het Sam uit die oog verloor. Dan voel hy hoe sy voete onder hom padgee. Hy gryp vervaard na die takke en rotse rondom hom. Sy hand vou om ‘n boomtak en hy ruk tot stilstand. Desperaat probeer hy vastrapplek kry. Die ski’s is nou van geen nut nie. Dan skeur die laaste stukkie hoop uit sy hande. Sy gille sterf saam met die geluid van klappende rotse.

 

Dit is al laatmiddag wanneer Sam die koffiekroeg op Phoenix binnestrompel. Heleen sit op die veranda. Haar rug na die groepie mans wat uitbundig lag en gesels. Sam vou sy hande beskermend om Heleen. Hy sak voor haar neer en plaas sy een hand op haar knieg.

“Daar was ‘n ongeluk Heleen. Herman het die verkeerde roete geneem. Die sneeu was alreeds te dun in daardie area. Hy het sy balans verloor en…”

“Sam, stop. Ek weet. Dink jy nie ek weet ook dat jy spesifiek daardie roete gekies het nie. Jy weet Herman is… was ‘n beginner. Jy weet ook dat daar ‘n waarskuwing uitgestuur was. Hoekom Sam?”

Sam laat sak sy kop. Dan kyk hy Heleen in die oë.

“Jy kan nie vir my sê dat jy nie bly is nie Heleen. Elke dag moes ek sien en hoor hoe jy paklslae kry vir die domste dinge. Elke dag moes ek sien hoe jy inmekaarkrimp wanneer dit tyd is dat hy huis toe kom. Ek moes elke dag aanhoor hoe sadisties hy teenoor die werkers spog dat hulle dieselfde paadjie sou loop indien hulle dit sou waag om hom teë te gaan. Jy kan wragtag nie vir my sê hy het dit nie verdien nie!”

Heleen sink vooroor op haar arms. Dan snik sy. Rou seer verligting spoel deur haar liggaam. Haar trane was al die wonde skoon. Salpeter wat diep in die letsels insypel en elke smetsige seer daarvan skoon was. Sy is ‘n nuwe mens.

 

Die maan speel oor die bergtoppe. Die donker figuur is net-net sigbaar in die skadu agter die stoorkamer. Sam skiet sy stompie met ‘n sisgeluid die sneeu in.

“Het jy alles verwyder?”

“Ek het die tou verbrand. Die bliksem het dit verdien. Hy het met Heleen se skoene gepeuter. Dankie Vader jy het haar teruggestuur Phoenix toe. Dankie Sam. Jy kan nou maar my suster troos. Wees net daar vir haar. Sy het jou nodig.”




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed