‘n Arendsvlug
Sy trek haar voorvinger lusteloos deur die waterstreep op die spieël. Môre. Sy sal môre daaroor worry. Of dalk nie. Haar oë vee vlugtig oor haar gesig. Donker kringe onderstreep die dofheid in haar oë. In die geel badkamerlig lyk haar vel degerig. Is daar ooit so ʼn woord? Sy trek haar yl wenkbroue argeloos op.
Vyftig maak nie mooi met ʼn mens nie.
Sy buk af en skuif haar slaapbroek effens af, sodat die rek nie so knyp oor die plompheid van haar maag nie. Net voordat sy by die slaapkamer inloop, trek sy haar t-hemp af. Laer oor die boude. Asof dit regtig sal help teen die skerpheid in Willem se oë.
Willem wat alweer drilpens vir haar wag vanaand.
Susan ril.
Asseblief, Here. Laat hy tog net al slaap.
Haar gebed slaan teen die plafon vas en kaas leeg en onbeantwoord na haar toe terug, want hy gluur onheilig in haar rigting toe sy lam teen die kosyn aanleun.
“Kom, Dikkes. Ek wag vir jou.”
Dis ʼn opdrag, nie ʼn uitnodiging nie. Sy stem het ʼn donker rand en sy bolip trek weg van die geel tande af.
Till death do you part… die gedeelte uit hulle huweliksformulier sement haar voete vas. Haar oë soek ontvlugting. Ontsnap saam met die naguiltjie oor die swart horison.
“Susan!”
Met een klap van sy stem, ketting hy haar vas.
Toe is hy by haar. Sy vuis tref haar teen die kakebeen, lig haar van haar voete af. Sy probeer wegrol, maar sy voet tref haar in die ribbes en steel haar asem.
Die ergste kom nog. Sy weet.
Sy hande ruk haar slaapbroek af en hy stamp homself in haar in. Weer en weer, totdat sy lyf ruk en sy oë glasig raak. Sy maak nie ʼn geluid nie. Hoe kan sy as haar gees vir die soveelste keer sterf?
“Trash! Dis wat jy is! Kyk hoe lyk die huis. Jy is goed vir niks!”
Willem se woorde ruk deur haar. Hy is reg. As sy maar net slimmer of mooier of maerder was. As sy maar net ʼn beter vrou was, dan sou sy nie nou op die vloer gelê en bloei het nie.
Die eerste sonlig kry haar voor die spieëlkas. Besig om onderlaag oor haar bloupers kakebeen te smeer.
“Mamma, kan ek inkom?”
Haar tienerdogter se klop aan die hoofslaapkamer se deur is huiwerig. Sy het ook al te veel goed in hierdie huis van swye gesien.
Die deur swaai oop en oor die afstand tussen hulle, ontmoet hulle oë in die spieël. Die matriekdogter se mond word ʼn smal lyn in haar bleek gesig.
“Alweer?”
Susan knik en staan op. In die verbyloop druk sy die té maer meisielyf vlugtig teen haar vas.
“Dis tyd, Mys…”
In die spens maak sy jare se versteekte kontant bymekaar. Willem was ook maar dom as hy gesuip was.
Toe loop sy by die agterdeur uit, verby die plant wat hangblaar oor die trappies druip, deur die hekkie wat smeek vir verf en gooi haar arms weerskante haar lyf uit. Vry soos ʼn arend in vlug.
In die kombuis, tel ʼn blondekop meisie haar rugsak op en swaai dit oor haar skouer. Sy het gisteraand klaar gepak. Sy stoot die sifdeur met haar voet oop en tree in die sonlig in.
© Rosalee Meyer
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Maart 2025 – OOP projek