Onthou
Die lewe is deurmekaar. My kop is deurmekaar. Eintlik dink ek alles is deurmekaar. Soos ‘n loskopdolla?
Vandag is diè dag. My ou liggaam buk, nee wag! Kom ons gebruik daai lae stoel wat ek eintlik al moes weggooi. Met ‘n veegswaai van my hand sleep ek al die klere in die rak tot op die vloer. Maak eers gou koffie dan sal ek krag hê. Flou met baie melk, geen suiker.
Die pienk en wit trek dadelik my aandag. My tuisgemaakte romp met sy punte in die wind. Die pad van onthou laat my weer sien hoe ek trots voor manlief en kinders poseer met my pragtige naaldwerk. Hulle giggels weerklink nou nog in my ore. Ek het vergeet om die romp aan te trek en staan net in my onderrok. Die pienke gaan terug in die kas.
Die kas is klaar. Byna niks word uitgegooi nie. Onthou lappies kan nie waarde vir ander hê nie. Dit word die onthou rak. Soos die lapskoene wat ek met karton gemaak het toe die geldjies maar skraps was. Of die goudgeel handskoene wat vol gate is, eerste breipoging. Daardie tyd het ek nog nie geweet van steke optel nie. En ek was desperaat, ek haat koudkry!
Eers gou ‘n piesang en eier drankie. Moet darem iets eet. Dan sal ek die boekrak aandurf. Ek weet daar is baie wat ek van ontslae moet raak. Daar is net soveel plek op ‘n rak. En die koffie. Sonder my koffie kan ek letterlik niks doen nie.
Boeke is vriende wat nie terugpraat nie. Hulle is seduldig soos Jan F.E. Cilliers se osse wat aanstap deur die stowwe, geduldig gedienstig, gewee. Die mites en legendes van Suid-Afrika is ‘n lywige geskrif waarmee jy sou moord kon pleeg as die helfte van daardie sketse tot lewe kon kom. ‘n Doelgerigte lewe van Rick Warren waarin ek vir elke dag ‘n gedig neergepen het. Piet Swanepoel van Groot Marico se tuisgemaakte bundel met die kierie wat hy spesiaal in die bos vir my gaan kerf het. Daar is ‘n hele weermag van die Woordgilde bundels met Nilla Vosloo en Jopie Koen. Tenminste het die rak ‘n afstof gekry maar geen boek is bevry.
Voor ek die naaldwerkkis aanpak moet ek eers melk gaan koop. Vasti sê ek drink te veel koffie. Ba, sy weet niks! Mens kan nooit te veel koffie drink nie.
Gewapen met skêr en plastieksakkies word die kis aangepak. Hekelgaring wat gebruik word vir borduur. Het te min silwer oor vir die grys hare van Totius en die engeltjies wat gebrei moet word. Die partone is darem nog in ‘n houer bymekaar. Die oorskiet wolletjies word in die plastiek gesit. Kan dalk nog iets daarmee doen. Klokkies en kersvaders vir ‘n boom? Die swart wol kan na Agnes toe gaan. Haar dogter maak hare daarmee.
Heel tevrede dat ek alles nou mooi gesorteer en van ontslae geraak het, loop ek met die klein bondeltjie.
Lekker koffie en dan is dit bed toe. ‘n Goeie boek, ‘n geselsie met ma en Cara. Bid en sê dankie vir God vir nog ‘n dag se genade. Ek kyk na die kas net voor ek aan die slaap raak.
Welgedaan!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.