Jongste aktiwiteit:

Die grootste hiervan

‘n Rilling glip teen Surika se ruggraat af. Déjà vu …

Sy probeer die vreemde gevoel afskud. Dit is darem nou al 15 jaar en ‘n hele leeftyd later. Destyds was sy so naïef en jonk. Ligsinnig, sonder ‘n sin vir verantwoording. Tog het sy toe reeds geweet dat sy haar eie onderneming gaan hê. Doepie het baie teësinnig toegestem dat sy die weeklange werkswinkel, twee weke voor hulle huwelik bywoon. As ‘n voornemende jong intreperneur het sy die inligting bitter nodig gehad. Alles was tog reeds gereël vir die troue, sy moes nog net haar wittebroodstassie pak. Het sy tóé maar geweet dat sy ongeskikte woorde destyds die begin was van ‘n haarlynkrakie.

Sy sit vanaand by diesélfde hotel en diesélfde restaurantjie. Sou dit dieselfde bos rooi hare wees wat haar perifere visie onbewustelik opgetel het?

“’n Glas Sauvignon Blanc, asseblief,” versoek sy vriendelik.

“Is Mevrou gereed om te bestel?” vra die kelner beleefd toe hy die glasie wyn voor haar neersit.

Verleë tel sy die spyskaart op. “Gee my asseblief nog ‘n paar minute …,” maar haar gedagtes is té vol en haar blik skuif na die glansende oranje bol wat laag oor die see hang. Diesélfde stil strandjie, 20 minute buite die stad. Dit kan tog nie moontlik wees nie – sy beleef slegs ‘n illusie van haar geheue, probeer sy haarself wysmaak.

Surika teug stadig aan die yskoue wyn. Daardie eerste aand was sy doodmoeg, haar kop suf gekonsentreer. Dit was ‘n intense dag en sy het tóé ook ‘n glasie yskoue wyn geniet.

“Mag ek maar by jou aansluit?” het hy in Afrikaans gevra. Sy liggroen oë het ondeund geglimlag; ‘n kuiltjie het in sy wang gekeep.

Hy het haar onverhoeds betrap en sy het spontaan na die stoel oorkant haar gewys. Hulle was van die begin af gemaklik met mekaar. Die jong roeskop se naam was Krisjan. Ewe gesellig het hy vertel dat hierdie sy gunsteling verblyfplek was wanneer hy vir ‘n paar dae sake in die stad moes doen.

‘n Flou skynsel appelkoos hang nou tussen die swart see en donkerpers lug.

“Die Seekosbord vir een, asseblief,” moet sy maar impulsief besluit. “Met slaai,” wys sy die bros aartappelskyfies teësinnig van die hand. Skuins van agter kan sy sien die man drink nog rustig aan sy glasie wyn; staar ook ingedagte uit oor die donker see.

Eers later het sy haarself verag oor haar stilswye. Daardie week was sy net jonk en sonder enige sorge. Saans het hulle saamgeëet, ‘n bottel wyn gedeel en tot laat gesels. Laataand het hulle hand aan hand langs die see gaan stap. Sy het avontuurlustig gevoel. Vir die eerste keer in haar lewe het sy geweet hoe dit voel om verlief te wees, hoe spesiaal dit is om enige onderwerp te bespreek sonder veroordeling. Hoe dit voel as iemand jou régtig bemin. Sy het haarself belowe dat sy die volgende naweek sou trou en haar huwelik heelhartig gaan aanpak sonder dat enige haan verder daaroor kraai.

 

Hoewel Doepie ‘n goeie salaris verdien het, was hulle afhanklik van Surika se bydrae. Sy het dag en nag gewerk om haar onderneming uit te brei. Selfs toe sy so naar soos ‘n kat geword het en uitgevind het dat sy swanger was met hulle wittebroodsbaba. Doepie was buite sy vel van vreugde.

 

Sy eet stadig en langtand, bestel dan nog ‘n glas wyn. Dan laat sy haar gedagtes weer gaan. Soos wat haar besigheid gegroei het, het Doepie se kritiek en vernederings toegeneem. Na klein Esmarie se geboorte het hy haar vir ‘n kort tydjie op die hande gedra. Doepie was halsoorkop verlief op sy dogter. Die rooi haartjies moes iewers in die gene van voorgeslagte lê, het hy verduidelik. Dit was ‘n wedersydse liefde. Pa en dogter het van die begin af ‘n besonderse verhouding gehad. Deur al die jare het  Doepie nooit ‘n skewe woord vir sy koekkoek kuiken, met die glimlagkuiltjie, gesê nie. Hý was die een na wie sy met haar probleme gegaan het. Surika was meestal besig met haar onderneming. Sy moes later verskeie werknemers in diens neem en het só probeer om minder uitstedig te wees. Sy wou self vir Esmarie smiddae rondry na haar buitemuurse aktiwiteite en haar netbalwedstryde bywoon.

 

Saam met haar sukses, het Doepie se beledigings en vernederings toegeneem. Tuis het sy probeer om haarself al minder te maak, sodat hý meer kon wees. In die publiek of voor Esmarie was hulle egter ‘n verenigde front. Skuldgevoelens en ‘n gevoel van minderwaardigheid het binne haar begin groei. Sy het elke traan verdien. Dit was haar boetedoening. Naïef het sy 15 jaar gelede haar impulsiwiteit probeer wegredeneer: ‘n Klein besluitjie oor nietige gebeure sou nie saak maak nie.

 

Sy maak ‘n nota in haar kop dat sy vanaand nog vir Esmarie wil bel. Sy verlang na haar dogter en dink aan die brose fase waarin haar dogter nou is. Esmarie het nodig om te hoor dat sy wat Surika is môre-oggend vroeg weer by die huis sal wees. Nadat Doepie 2 jaar gelede verongeluk het, het Surika gedink haar 13-jarige dogter gaan nie die tragedie geestelik oorleef nie. Hulle beide het deur diep water gegaan die afgelope 2 jaar. Surika het haar werk baie afgeskaal en al haar tyd en liefde aan Esmarie bestee. Sy kon voel hoe haar tienerdogter haar al meer begin vertrou, stadigaan begin besef het dat Surika haar altyd onvoorwaardelik sal liefhê.

In haar binneste het sy geweet dat sý groen druiwe geëet het. Haar kind se tande hoef nie daaroor stomp te word nie. Ook sy het die laaste 2 jaar begin leer dat haar Vader haar liefhet, ongeag haar growwe sonde. Voor Hóm het sy verantwoording gedoen vir haar eie dade en ‘n swaar las het van haar skouers afgeval.

 

“Mag ek maar by jou aansluit?” Dieselfde liggroen oë is nog steeds ondeund. Hy trek self die stoel oorkant haar uit. “Ek wóú sê dat die dame wat so ingedagte hier sit se naam net Surika kan wees.”

“Hallo Krisjan.” Sy bekyk hom ‘n oomblik en glimlag toe spontaan.

“Wat maak jy in hierdie geweste?” Hy pik ‘n stukkie slaai uit haar bord. Dieselfde gemaklikheid is weer opmerklik tussen hulle twee.

“Nog ‘n glasie wyn?” vra hy toe die kelner naderstaan.

“Nee dankie, ek het genoeg gehad. Cuppuccino sal egter nou lekker wees.”

Hy bestel twee daarvan en sy vertel dat sy slegs vir die naweek daar is. Sy het ‘n seminaar in die stad bygewoon en was een van die sprekers.

Hulle geselsies vloei vanself en dit voel asof hulle mekaar slegs ‘n dag gelede gesien het. Hy is met vakansie en het op die ingewing van die oomblik besluit om ‘n week by die hoteletjie deur te bring.

“Ek kon nooit verstaan hoekom jy destyds ons verhouding so skielik verbreek het nie,” sê hy, sy liggroen oë vol onbegrip.

Sy sien dieselfde spieëlbeeld van Esmarie se oë nadat haar pa verongeluk het. Vir die eerste keer bieg Surika voor ‘n mens, vertel sy van haar ontrouheid net voor haar troue. Hulle kyk lank na mekaar sonder om ‘n woord te praat. Sy wonder of haar lewe gelukkiger sou gewees het as sy eerder vir Krisjan gekies het. Sy sou steeds vir Esmarie gehad het. Sy het dit net nie destyds geweet nie.

Dan neem Krisjan haar hand. “As God jou vergewe het, wie is ek dan om dit nie te doen nie?”

Hy bestel nog twee cuppucino’s. Sy vertel dat Doepie 2 jaar gelede verongeluk het en van haar besigheid wat uit sy nate gebars het voordat sy begin afskaal het.

“Ek neem aan jy is ook intussen getroud,” voer Surika die onderwerp aan. Hartseer vertel  Krisjan dat sy vrou slegs ‘n jaar na hulle huwelik aggresiewe borskanker ontwikkel het. Destyds was chemoterapie en bestraling nog nie so suksesvol soos vandag nie. Hy bly vir ‘n wyle stil en sy wag geduldig vir hom om voort te gaan.

“Die laaste entjie van haar pad was vir ons beide baie moeilik. Ek het haar tot teen die einde self versorg,” sê hy en kyk ver oor die stil see. ‘n Glinsterende silwer pad spieël tot by die maan wat vol op die horison hang.

“Ek sou graag ‘n ou dogtertjie wou hê,” mymer hy dan sag.

“Hoekom ‘n dogter, Krisjan? Ek sou dink dat alle mans graag ‘n seun wil hê,” spot sy hom speels. As hy maar kon weet …

“’n Pa is altyd sy dogter se hero. Ek sou daarvan gehou het,” glimlag hy ongekend skaam.

‘n Kelner onderbreek hulle en kondig aan dat die eetsaal gaan toemaak.

“Sjoe, kyk die tyd. Dit is nou tyd vir ons stappie langs die see,” neem Krisjan outomaties aan.

“Ek vlieg môre vroeg huis toe … Miskien onder ander omstandighede?” Sy kan sien hy verstaan nie mooi nie.

“Ek het jou nooit gevra nie,” val dit hom skielik by. “Het júlle kinders gehad?”

In haar geestesoog sien sy die dimpel in Esmarie se wang. Vir ‘n oomblik voel dit vir haar asof die wêreld op sy eie as verskuif.

“Nee …, ongelukkig nie.”

 

© Rika Gerryts

(Woordtelling: 1 520)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Pierce het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Pieter Mostert het ‘n nuwe publikasie gemaak