Beskerm jou brein
Is dit dan nou nie heerlik om ure elke dag uitgesprei op die bank en met ʼn foon in die hand te lê en ontspan nie? TikTok, Instagram, kort YouTube-videogrepe, Facebook, noem maar op. Daar is meer vermaak op daardie klein skermpie as wat enige aapstreke in ʼn sirkus kan bied.
In my kinderjare het ons gesê iemand het ʼn verrotte brein wanneer ʼn persoon dikwels vuil grappies vertel het. Dekades later het hierdie term ʼn heel ander kleur gekry. Nou praat die wetenskaplikes van “brain rot” wanneer daar sigbare kognitiewe agteruitgang plaasvind a.g.v. die konstante blootstelling aan kort video’s. Geen inspanning is nodig terwyl ʼn persoon na ʼn onophoudelike stroom kort video’s kyk nie. Die oorgrote meerderheid daarvan is selde langer as 180 sekondes.
Die term “brain rot” was so gewild dat dit in 2024 die Oxford’s Word of the Year titel verwerf het. Dit is ook nou ʼn diagnoseerbare kondisie omdat dit gekoppel word aan die brein se voortydige agteruitgang. Dus, die mens se vermoë om vir lang tye te konsentreer het drasties gekrimp.
Onbewustelik speel onsself ʼn groot rol in ons ondergang. Die tegnologie wat ons gebruik is werklik wonderlik, maar wanneer ʼn persoon dit gebruik om ure te vul met aktiwiteite wat nie bydra tot sy vooruitgang nie, word ons eintlik net dommer. Ons vermoë om op ingewikkelde take te konsentreer en probleme op te los, het drasties gekrimp. Onderskeidingsvermoë is aan die afneem, en logiese denke blyk deesdae ʼn uitsonderlike prestasie te wees.
Al is dit nie 100% duidelik hoe hierdie agteruitgang begin nie, is daar wel ʼn verwantskap met die vrystelling van dopamien, die voel-goed hormoon, en die hoeveelheid ure wat mens doelloos voor ʼn skerm deurbring. Tegnologie was veronderstel om ons lewens makliker te maak, maar die werklikheid is dat dit die gebruiker daarvan geestelik kan uitput. Die brein word so oorgestimuleer dat dit kroniese stres veroorsaak, wat verdere uitputting tot gevolg het.
Die eerste keer wat hierdie term “brain rot” gebruik was, was in 1854 deur Henry David Thoreau. Hy het gesien hoe die voorkeur vir eenvoudiger idees geen voordele vir die brein inhou nie. Daar is ook gevind dat soveel nuttelose tyd voor ʼn skerm depressie, angs, stres en eensaamheid tot gevolg het. Kinders en studente vaar duidelik slegter in hul studies weens ʼn verkorte aandagspan.
Kinders wil nie dink en ʼn probleem uitwerk nie, maar soek kortpaaie en raai sommer ʼn antwoord. Volwassenes doen ongelukkig soms presies dieselfde. Dit het moeite geword om te dink, en oor ʼn dekade of drie moet hierdie kinders ons land regeer!
Waar is die dae toe die kinders baie tyd saam met hul maats deurgebring het? Buitekant, in die sonlig en op gras, gespeel het? Al het die lewe baie verander, en tyd vir speel het gekrimp, is daar steeds vele maniere om iemand se brein aktief te hou. Stimulerende aktiwiteite soos lees, stokperdjies, of die tyd wat jy saam met vriende spandeer, het groter baie voordele as om vir ʼn kind van enige ouderdom ʼn foon in die hand te stop. Oor die algemeen kry kinders nie meer die geleentheid om verveeld te wees en hul verbeelding in te span om die tyd om te kry nie.
Het dit nie tyd geword dat ons minder tyd aan Facebook en soortgelyke toepassings bestee en meer tyd aan opbouende aktiwiteite nie? Maak die potlode skerp en skryf ʼn storie, of kleur in. Bou ʼn legkaart, maak tuin, lees ʼn boek – enigiets om jou brein gesond en aan die gang te hou.
©Susann Moolman
(Woordtelling : 586)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir FEBRUARIE 2026 – OOP projek