trapplek (goud)
trapplek
gerieflik mis ons mekaar se oë
slyt ons hakke af teen harte
gesprekke word mesgevegte
waar iemand moet verloor
elke guns ‘n transaksie met fynskrif
en slim skuiwergate waarin jy val
omgee word gemeet
aan duimpies op ‘n skerm
en almal raak honger –
meer geld, meer regte, meer besittings –
met bekkies oop soos kuikens in ’n aasvoëlnes
onversadigbaar
empatie is ‘n luukse
wat niemand kan bekostig nie
ons verloën voor die voet
vir dertig silwer sikkels
en klouter oor lyke
vir trapplek op pad boontoe
maar daar’s niks daarbo nie
net die eggo van jou voetstappe
teen koue kaal mure
© Hester Steenkamp, 2026
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir FEBRUARIE 2026 – OOP projek