NOODVLUG
NOODVLUG
deur Fanus Strydom
1639 woorde
Angelo klief blitssnel deur die Derde Poort oppad aarde toe. Hy erken skaars die twee Intergalaktiese Wagte aan weerskante van die polsende lig-portaal. Toe hy anderkant uitflits registreer sy deurgang momenteel as ʼn groen seinkode op die GPS-toestel op sy pols. Tesame met sy togsnelheid en verwagte aankomstyd.
Hy mag nie laat wees nie…
In die flikkerende portaalopening agter hom warrel die yslug tregteragtig by sy sleurstroom in en vertuit in die verte agter die osoonlyn-horison. Toe hy afkyk na die lesings op sy pols-instrument, vang die naderende weerpatroon en temperatuurlesing hom onkant. Dit is winter in die Suidelike halfrond, maar sneeu en ysreën op die Hoëveld is ongewoon.
Sy strategie-pva wat hulle aan hom oorhandig het voor sy vertrek gister, het alle moontlike omstandighede bygereken. Uiteraard is daar altyd die moontlikheid van onverwagse hindernisse en uitdagings, want die vyand is onvoorspelbaar en uitgeslape. En hy moet gereed wees daarvoor. Hy is per slot van rekening opgelei as ʼn NRBE : Noodreddings-Beskermengel.
Maar sneeu en ysreën!
Hy fokus sy regteroog op die kommunikasie-toep op die gesigskerm van sy helmet voor hom. Die blou lig flikker aan:
“Alpha-zero-nege, kom in…”
“Alpha-zero-nege stuur, oor.”
“NRBE Angelo De Saint-Guillaume 1357, ontvang ?”
“Stuur oor.”
“Ek is sowat vyf kilometer bo die rendevouspunt, maar hier’s moeilikheid. Ek ervaar erge weerversteurings…hewige elektriese storms…GPS is deurmekaar. Ek benodig dringende begeleiding ondertoe..!”
“Roger 1357, behou jou vlugpatroon, ons werk daaraan, oor.”
“Roger, oor.”
ʼn Blinkwit weerligstraal blits nouliks verby sy kop en forseer hom van koers af. Die skokgolf veroorsaak ʼn versteuring op sy elektroniese gesigskerm. Hy swenk skerp-regs en mik vir die donker donderwolke aan sy bakboordkant. Toe die donkerte om hom toevou, skakel hy die projeksielig in sy helmet aan met ʼn knip van sy linkeroog. Hy sien dat die wolkmassa dig ge-ys en haas ondeurdringbaar is en gryp na die harnas langs sy flank. Dan begin veg hy noodgedwonge ʼn onbekende en dringende pad oop deur die ysbelaaide kristalkolomme voor hom met sy laser-rapier. Stoom en waterdamp verys onmiddellik teen sy gesigskerm vas en hy stoei blindelings vorentoe deur die vlymskerp, grysgrou ysgraf om hom.
“NRBE 1357, kom in…” kraak sy gehoorstuk.
“1357 stuur, oor!”
“Bly op jou trajeklyn, jy is roger-zero. Ek herhaal: roger-zero vir landing oor twintig…negentien…agtien…sewen…”
“Roger-zero, oor…”
Dan breek hy deur die digte wolkmassa.
Onder hom kom die grond meteens teen ʼn duiselingwekkende spoed nader:
“Ek sien die hospitaal onder my! Kontak in drie…twee…een…”
In teater 3 van die MegaMedi-kliniek in die Krugersdorpse middestad, hou die hoofpediater bekommerd sy oog op die hartklop-monitor bo die vrou se kop. Sy wankel onstabiel op die nippertjie van ʼn katastrofiese hartaanval. Hy maak haastig ʼn verstelling aan haar binne-aarse toediening.
Maar dan verlep die hortende klop-grafiek meteens tot ʼn stil, plat lyn…
“Kode Rooi!” blaf die spesialis en wys na die elektriese-skoktoestel op die instrumenttafel langs hom. “Suster, een-tagtig volt, STAT!”
In die hoek van die teater wieg ʼn donker figuur stadig heen en weer en grynslag knersend op geelvrot tande. Onsigbaar vir die ander beweeg hy geruisloos tussen hulle deur. Hy verstel hier en daar aan ʼn beheerknop op ʼn noodtoestel. Tik haastig ʼn paar kodes by ʼn rekenaar-sleutelbord in en gly dan tot langs die vrou. Daar begin hy peuter met die kraantjie van die noodtoevoerbuis in haar arm. Toe hy tevrede is, buig hy laag bo-oor haar en sit een, benerige klou-knyper op haar opgeswelde buik:
“Yetneteko arsepan…Molog obayito. Molog obayito…!” roggel hy in onhoorbare, klikkende klapklanke.
“Ons gaan haar verloor!” kommandeer die spesialis sy mede-personeel oor tot nood-aksie “en die baba…!”
“Ons worry nie oor haar nie, dis die seunmens wat moet vrek!” sis die swart figuur in die spesialis se nek in langs hom.
ʼn Yskoue rilling gly teen die dokter se ruggraat af.
Hy steier verskrik agtertoe…stamp teen die bystaan-dokter agter hom:
“Wat de?!”
“Wat nou?” wil die junior dokter weet.
“Ek weet nie, hier’s iets…”
Hy wys na die spieëlgladde vloer onder die teaterbed.
Vir ʼn oomblik verbeel hy hom hy sien ʼn donkerdof skaduwee onder die bed insypel soos rook, of roet. Op die bed rol die vrou se oë skielik bleekwit en glaserig terug in haar kop.
“Ons gaan in, nou!” blaf die spesialis en tree vorentoe met die blinkwit skalpel voor hom uitgelig.
Buite die vensters blits die weerligstrale. Vlae hael en gryswit sneeu sif meedoënloos neer op die dak. In die parkeerterrein pluk die stormwind aan die ontstelde bome.
Toe die hospitaaldeure oopgly voor Angelo, kraak sy gehoorstuk weer:
“NRBE 1357 kom in…”
“1357 stuur, oor.”
“Ons sien jy’t veilig geland, oor…”
“Dis ʼn pappa-delta ja, positief. Ek’s nou oppad in, oor…”
“Wees op die uitkyk vir agente van die Molog-kartel…hulle het ons uitoorlê. Hulle is reeds binne…teater 3, vierde vloer, oor.”
“Roger, oor.”
Angelo glip ongesiens by die skuifdeure in en hardloop regdeur die liggame van ‘n paar besoekers en pasiënte oppad uit van voor af. Hulle kan hom nie sien of voel nie, maar hulle sal nooit weer dieselfde wees nie. As ʼn engel eers deur jou gehardloop het, is jy onmiddellik en vir altyd anders…beter.
Hy vlieg blitsvinnig deur die betonvloere bo hom en land buite die hysbak op die vierde vloer. Die teater is op regs aan die onderpunt van die gang.
Toe hy sy oopgespreide vlerke agter hom toevou, sien hy die demoonskaduwees van die Molog-kartel in sy rigting aangeskuifel kom. Hy lig sy vuursabel voor sy gesig in…
Hulle herken hom dadelik en verander eensklaps in ʼn groep skarrelende kokkerotte teen die lysie van die vloer.
Sy reputasie as vreeslose vegter en Ligsoldaat het hom vooruitgeloop. Geen demoon wou onnodig met hom paaie kruis nie!
Hy stamp met sy stewel in hulle rigting en hulle vlug halsoorkop onder ʼn toe deur in.
ʼn Skril skreegeluid, soos staal op staal, klief in die gang af na die teater toe.
Die swart skadufiguur draai sy kop effe skeef.Twee hatige, bloedbelope oë kyk in die rigting van die deur. Hy ken díe waarskuwingskreet van sy gesante. Iets is oppad…
Angelo voel-vat aan die bruin kameelhaarknapsak teen sy gordel. Hy voel die klein, ronde glasbotteltjie daarbinne en vryf sagkens daaroor, verlig dat dit nog in een stuk en veilig is.
Hy moet dringend daarmee by die kind uitkom.
Op die operasietafel lig die spesialis versigtig die bebloede seuntjie vanuit sy ma se oopgekloofde buik uit. Haar hart het intussen gaan staan en daar is niks meer wat hulle vir haar kan doen nie, maar die kind lewe. Skaars, want sy hartjie klop wild en onreëlmatig op die skerm bo die bed. Die dokter knip die naelstring en oorhandig die kind aan die senior-verpleegster. Hy moet dringend broeikas toe.
Toe sy hom sagkens op die warmkombersie neerlê en die nood-ondersteuningsapparate aan sy lyfie koppel, staan die swart figuur langs haar.
Hy mik vir die seun se bloederige koppie…vir die klein, ronde fontanelle bo-op sy porseleinwit skedeltjie.
Meteens slaan ʼn hewige weerligstraal die kragtoevoer uit. Die teater is skielik pikdonker.
Bo die kind se kop aarsel die skadufiguur vir ʼn oomblik, maar gooi dan sy groot, misvormde kop agteroor:
“Tenak ateras te kera…te kera Molog!”
Blouwit vonke skiet by die kontrolebord uit en die personeel skarrel verward rond opsoek na noodligte.
Hy moet nou die gifsaad by die menskind se kop inplant, anders is dit neusie verby! Hy grou naarstigtelik in die donker in sy jas se sak en kry die gloeiende, rooi kristal vasgevat tussen sy krom vingers. Maar hy misvat die vuurwarm klont en verloor dit onder die teaterbed in.
Die gloeiende, rooi kool-klip rol kletterend oor die pikdonker vloer…
“Wat de…?!” roep die spesialis verbaas daarna en steier verskrik agtertoe.
Angelo storm by die teaterdeur in en duik vir die gloeiende kool onder die bed. Maar die skadufiguur kry hom aan die enkel beet en pluk hom verwoed terug…slinger hom sooos ʼn lappop teen die oorkantste muur vas. Hy val kletterend op sy rug teen ʼn staal teatertrollie vol toerusting. Die vlymskerp instrumente daarop deurboor hom op verskeie plekke van agter-af, maar hy strompel swaar orent en duik weer vorentoe.
Hy moet by die mensekind uitkom!
Die chaos in die donker teater laat verskeie verpleegpersoneel verskrik by die deure uit vlug. Toe die weerlig weer buite blits, sien die spesialis twee figure verbete stoei op die vloer voor die kind se broeikas. Die een sit bo-oor die ander met ʼn blinkwit dolk in sy hand…
Angelo bly steek totdat die swart figuur in ʼn roetswart miswolk onder hom wegsmelt en by die dreineringsgat onder die bed insypel. ʼn Skril ys-kreet weergalm deur die teater:
“Eekaa na te sut meeee…Molog mienaaaa….!!”
Dan is als meteens doodstil.
Bo die kind se bedjie lig Angelo versigtig die klein glasbotteltjie tussen sy vingers op. Hy kyk vir ʼn oomblik eerbiedig na die klein, polsende blou-wit druppeltjie voor hom deur die glas. Dit glinster en skyn in helderblink reënboogkleure teen die dowwe mure van die teater om hom. Hy skroef die botteltjie haastig oop en drup die ligtraantjie versigtig bo in die holtetjie van die seuntjie se fontanelle bo sy koppie…
“Vader, U lewensdruppel is veilig afgelewer…”
Dan strompel hy kruppel-kruppel by die teaterdeur uit.
Toe die krag weer aankom haas die spesialis hom na die kind se bedjie toe. Hy voel versigtig vir ʼn hartklop en sug tevrede toe die monitor meteens eweredig begin pols bo die broeikassie.
“Ag dankie, Here!” bid hy saggies en buig vooroor om die kleintjie op sy voorkoppie te soen.
Vir een, vlietende oomblik sien hy ʼn helder, flikkerende reënboog-pols onder die vel reg op die kind se koppie, dan is dit weg.
Buite die hospitaal soek Angelo uitgeput skuiling teen die ysige wind onder ʼn boom:
“Alpha-zero-nege, kom in…”
“Alpha-zero-nege stuur, oor.”
“Dis NRBE 1357…opdrag uitgevoer. Maar ek’s swaar gewond…soek dringend bystand…”
“ Bly sterk, Angelo! Hulp is oppad…verwagte aankoms in twintig…negentien…agttien…”
©Fanus Strydom
Junie 2023
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2023 – Winter projek