Jongste aktiwiteit:

Skaduwees van Tyd (Goud)

Tyd sleep ’n kromgekloekte wa,
ysterwiele skuur oor gister se gebeure.
Dit is nie ’n haastige ryding nie,
maar ’n lykswa van tyd –
wat stukkies van ons
stil-stil agtertoe neem.

In sy wa lê
die stemme wat nie meer praat nie,
briewe sonder adresse,
die geur van ma se rooibostee
en ’n glimlag wat nou net op ou foto’s leef.

Tyd stop nie vir wind of reën nie.
Hy kyk nie agtertoe nie.
Maar ek hoor sy wiele skuifel
in die gange van my herinneringe.

Soms, as ek in ’n spieël staar,
sien ek sy spoortjies om my oë,
in die silwer drade bo my slape.
Ek hoor sy sagte sug
wanneer ek stil word,
wanneer ek onthou
sonder dat ek wil.

Ek wonder wat hy nog
in sy wa vir my bewaar.

En tog, in sy donker wa
flikker daar ook flenters van lig —
’n kind se lag,
’n vers wat bly kleef aan my tong.

Tyd het sy skadu’s.
Maar ek dra die skadu’s
soos ’n knus serp teen die koue dae.

©MarleneErasmus
29/07/2025




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed